Logo

Nacho Burger

07 November

4 burgers

Braai

3

Die Nacho-burger stel beslis nie teleur nie. Hy kry ’n hoë telling as dit kom by voorkoms en vaar toevallig ook goed op die tong.

Nacho burger
Bestanddele

500 g Goeie-gehalte maer beesmaalvleis

4 Burgerrolletjies

2 Avokadopere

Sout & Peper

1 Suurlemoen

2 Tamaties in blokkies gekap

1 Rooi ui fyn gekap

1 Klein brandrissie opgekap

1 bossie Vars Koljander opgekap

2 Heel mielies

Suurroom

120 g Cheddar Kaas gerasper

1 pak Tortillaskyfies / Mielieskyfies (soos Doritos)

Metode
  1. Vorm die 500g maalvleis in vier ewe groot 100%-bees patties. Egte beesvleis bind perfek saam vir ’n lekker pattie - moenie enigiets soos uie, broodkrummels, eier, speserye, sout of peper byvoeg nie. Jou twee skoon hande is heeltemal in staat om burgerpatties uit maalvleis te maak, maar ’n burgerpers maak die taak nóg makliker.
  2. Maak die guacamole: druk die avokadopeer fyn met ’n vurk en voeg sout, peper en suurlemoensap by.
  3. Maak die meeste van die salsa: Kap die tamaties in klein blokkies, gooi die ui en opgekapte brandrissie by. Moenie die brandrissie oordoen nie - dis daar om geure uit te lig, nie om jou gaste te teister of te straf nie. Gooi sout en peper oor en meng laaste die varsgekapte koljanderblare by.
  4. Braai die mielies op ’n rooster terselfdertyd as die burgerpatties en maak seker al die kante kyk in ’n stadium kole toe. Gebraaide mielies het baie meer geur as mielies wat jy op ’n ander manier gaarmaak. Sodra hulle effens geskroei is, haal jy die mielies van die kole af en sny met ’n skerp mes die pitte van die stronk af. Gooi die mieliepitte by die res van die salsa en meng.
  5. Braai die burgerpatties in ’n rooster op baie warm kole. Mik vir 8 minute se braaityd altesame en draai net een keer. Om te keer dat die burgerpatties aan jou rooster vasklou kan jy ’n kombinasie van die volgende taktiek gebruik: Gebruik ’n rooster met dikker stafies; spuit die rooster vooraf met kleefvrye spuitgoed; pak die patties sagkens uit op die rooster sodat jy hulle nie deur die stafies druk nie; braai oor baie warm kole sodat die patties seël voordat hulle in die rooster insak; wikkel ’n bietjie aan die patties met jou braaitang of ’n spatel sodra hulle begin braai en seël sodat die effens-gebraaide vleis (en nie die rou vleis nie) met die rooster kontak maak. Namate die vleis gaarder raak, sal dit natuurlik van die rooster begin losraak. Nou draai jy net die patties een keer, en doen dit versigtig. Nadat jy die patties omgedraai het, strooi jy die kaas oor die bokant sodat die hitte van die vuur en die warm patties dit laat smelt.
  6. Sny jou rolletjies middeldeur en gee hulle hitte op die rooster, maar wees versigtig dat jy hulle nie te rof rooster nie (ons bly weg van die woord brand).
  7. Bou die burger: Rolletjie, suurroom, guacamole, burgerpattie met kaas, salsa, nacho-tjips; laaste smeer jy suurroom aan die binnekant van die boonste helfte van die rolletjie sit hom bo-op.
Episode 18 Sago Pudding
Jan Braai
Sub Titel

Sagopoedding

Gewildste Resepte