Logo

Koljander-lendetjops – Jan Braai vir Erfenis

06 Augustus

Bedien vier mense.

Braai

Die lendetjop is die lam se kroonsnit en die duurste braaivleis wat jy aan die dier kry. Presies soos ’n bees se T-been, maar uit lam gesny, het dié tjop ’n lendesnit en ’n stuk filet. Hou by die resep.

Koljander-lendetjops  Jan Braai vir Erfenis
Bestanddele

12 lendetjops

2 huisies knoffel

1 sopie vars koljander (ook bekend as dhania; fyngekap)

1 sopie koljandersaad

1 sopie vars suurlemoensap

2 sopies olyfolie

growwe seesout en varsgemaalde swartpeper

Metode

Hou die braaiwerk eenvoudig sodat jy nie sy natuurlike smaak oordonder nie. Behalwe vir die gewone drie musketiers – knoffel, olyfolie en suurlemoensap – pas koljander ook lekker by lamsvleis. In dié geval gee ons dit ’n dubbele dosis koljander.

LAAT WAAI!

  1. Maak een of twee klein snitte deur die vetstrook van elke tjop. Dit sal keer dat die tjops buig wanneer die vet gaar word en saamtrek. Jou gaste sal dan ook kan sien dat jy aandag gee aan die detail in die voorbereiding van hul ete. 

  2. Kneus die knoffel of kap dit op, kap die koljanderblare op, kneus die koljandersaad met jou stamper en vysel en druk die suurlemoensap daaroor uit. Voeg dit by die olyfolie en roer dan die tjops daarin rond sodat die vleis alkante met ’n lagie marinade bedek is.

  3. Laat die vleis marineer so lank dit neem vir die vuur om uit te brand en kole te maak.

  4. Braai die tjops oor warm kole vir agt tot 12 minute totdat hulle daardie punt tussen medium-rou en halfgaar bereik waar lam die lekkerste smaak. Lendetjops wissel nogal in grootte en hoe warm jou vuur is, sal ook ’n rol speel in hoe lank dit neem om hulle te braai. Onthou die goue reël: As jy dink hulle is reg, dan is hulle waarskynlik reg. Besondere klein lamstjoppies is al ná ses minute reg, so gebruik jou goeie oordeel.

  5. Maal die sout en peper oor die tjops terwyl hulle braai. As jy lui is, kan jy dit maar doen voordat hulle kole toe gaan, maar op dié manier sal jy darem iets hê om te doen daar by die vuur.

  6. Bedien nog vars koljander en suurlemoensap saam met die gebraaide vleis.

jan braai vir erfenis varknekkerrie
Varknekkerrie – Jan Braai vir Erfenis
Sub Titel

Varknekkerrie – Jan Braai vir Erfenis

Gewildste Resepte