Logo

Braai Potjie Lasagne – Jan Braai vir Erfenis

13 Augustus

Bedien vier tot ses mense.

Braai

Ná elke braai ontbeen jy die oorskietvleis. Dan kap jy dit in klein stukkies en sit dit in ’n houer in jou vrieskas wat jy spesiaal vir dié doel aanhou. Sodra jy genoeg vleis in jou houer het, maak jy die braai-lasagne-potjie.

Jan Braai potjie lasagne
Bestanddele

12 lasagne-velletjies

Botter

Vir die bolognaise-sous:

500g fyn opgekapte oorskiet-braaivleis (enige kombinasie van steak, tjops, vark, hoender, boerewors, ensovoorts)

1 ui (fyngekap)

1 huisie knoffel (fyngekap)

1 koppie gerasperde wortels en fyngekapte seldery, gemeng

1 sopie botter

½ koppie droë rooiwyn

2 blikkies opgekapte tamaties

1 sopie tamatiepasta

1 sopie origanum

1 lourierblaar

1 teelepel sout

1 teelepel peper

Vir die béchamel-(wit-) sous:

3 sopies botter

3 sopies meel

2 koppies aftreksel (groente-, bees- of hoenderaftreksel – wat jy ook al byderhand het, of 1 koppie aftreksel en 1 koppie melk)

½ koppie room

½ koppie gerasperde Parmesan-kaas (of rypgemaakte cheddar, maar gebruik dan meer)

½ teelepel neutmuskaat

sout en peper

Metode

LAAT WAAI!

  1. Maak die bolognaise-sous: Smelt ’n bietjie botter in die pot waarin jy die lasagne gaan gaarmaak, en braai die uie, knoffel, wortel en seldery rustig saam totdat alles sag is. Ligte vlamme behoort vir jou genoeg hitte hiervoor te gee. As die botter te vinnig begin borrel, skuif die pot weg van die vlamme en verhit hom eerder met ’n paar kole. Voeg die vleis, wyn, tamaties, tamatiepasta, origanum, lourierblaar, sout en peper by. Roer baie deeglik en laat die mengsel vir 10 tot 15 minute prut terwyl jy hom elke nou en dan roer. Hou die gaar sous tydelik in ’n ander houer vir stap 3.
  2. Maak die béchamel-sous: Smelt die botter vir die sous in ’n afsonderlike pot en roer al die meel met ’n houtlepel daarby in. Voeg nou die aftreksel bietjies-bietjies by terwyl jy aanhoudend roer. Wanneer al die aftreksel by is, laat jy die sous prut vir ’n paar minute. Haal van die hitte af en roer die room, Parmesan en neutmuskaat by. Voeg sout en peper na smaak by. 
  3. Maak die lasagne: Pak die bolognaise-sous, pastavelletjies en béchamel-sous laag op laag in die swartpotjie. ’n Platboompot sal ’n netjieser lasagne tot gevolg hê, maar ’n pot met ’n bolvormige bodem sal ook werk.
  4. Sit die deksel op die pot en bak die lasagne vir omtrent 50 minute deur die pot op ’n staander oor die kole te sit en ook ’n paar kole op die pot se deksel te pak. Wanneer al die pasta-velletjies heeltemal sag is, is die lasagne reg vir eet.
Jan Braai Braaibroodjie Feature Image
Gerookte hoender-mayo braaibroodjies
Sub Titel

Gerookte hoender-mayo braaibroodjies

Gewildste Resepte