Beter as Gister: Nuwe kykNET-dramareeks plaas die kollig op pa’s

Highlights 13 May 2026

Hoekom word pa’s aan ’n ander standaard as ma’s gemeet? Dít was die vraag wat die idee geplant het vir die nuwe dramareeks, Beter as gister.

Beter as Gister: Nuwe kykNET-dramareeks plaas die kollig op pa’s

Hoekom word pa’s aan ’n ander standaard as ma’s gemeet? Dít was die vraag wat die idee geplant het vir die nuwe dramareeks, Beter as gister, wat 30 Junie op kykNET (DStv-kanaal 144) begin.

Corné en René van Rooyen, bekend as skrywers en regisseurs van reekse soos Alles Malan en Summertide, is vir dié nuwe reeks van dertien episodes verantwoordelik. Tascha van der Westhuizen is, soos met al Red Letter Day Pictures se produksies, ook aan boord as vervaardiger.

“Dit het alles begin met die geboorte van ons dogtertjie, Hannah, gedurende Covid. Soos baie pa’s in daardie tyd was ek vir amper ’n jaar op kraamverlof by die huis,” vertel Corné. “In daardie tyd het ek begin verstaan wat dit regtig beteken om ’n eenhonderd persent teenwoordige pa te wees, maar ook hoe anders die wêreld na ’n teenwoordige pa kyk as na ’n teenwoordige ma.

“Ek ruil haar doek om en kry amper ’n staande ovasie. Ek stap met haar rond om haar aan die slaap te kry en mense sê: ‘Sjoe, jy is darem ’n goeie pa’. Maar wanneer ’n vrou presies dieselfde doen, is sy nie ’n held nie. Sy is net ’n ma.

“Dit het my laat besef hoe laag die standaard vir mans is om as goeie pa’s gesien te word en hoe ongelooflik hoog die standaard vir vroue is om as goeie ma’s erken te word. In die publiek se oë is dit maklik om ’n goeie pa te wees: Doen net die basiese dinge, en almal klap hande. Maar vir my het dit verkeerd gevoel. Want om ’n goeie pa te wees, vra baie meer as dit.”

Beter as gister draai om vier families en fokus veral op die mans se rol in elke gesin.  

Marco Fouché (Neels van Jaarsveld) is ’n toegewyde tuisbly-pa wat al vir 10-jaar die huishouding bestuur terwyl sy vrou, Cecile (Rolanda Marais), haar ambisie gevolg en uiteindelik burgemeester van Kaapstad geword het. Hulle het drie kinders: die 17-jarige Jessica (Nina Strydom), die agtjarige Coenie (Gerhard Conradie) en die sesjarige Luca (Sebastian La Cock). Die Fouchés se lewe begin egter ontrafel wanneer Marco besluit om weer te begin werk.

Bernard Kruger (Frank Rautenbach) is ’n meedoënlose sakeman wat alles sal doen om sukses te behaal. Hy is getroud met Karen (Hanna Grobler), ’n saggeaarde onderwyseres, en hulle het twee kinders. Reynard (Sebastian van Niekerk) is ’n 17-jarige probleemkind, wat ’n baie swak verhouding met sy pa het. Die Krugers se jongste is Benji (Eben Kotze), wat ses jaar oud is. ’n Traumatiese voorval verander in ’n oogwink hulle lewens. Daarna moet veral Bernard herdefinieer wat dit vir hom beteken om ’n man en pa te wees.

Eben Strauss (Edwin van der Walt) is ’n liefdevolle enkelpa en skrywer. Sy dogtertjie, Lilly (Luna Coetzer), is op die outisme-spektrum, en Eben doen alles in sy vermoë om in haar behoeftes te voorsien. Eben en Lilly se lewens word deurmekaargekrap wanneer Lilly se ma, Sally (Greteli de Swardt), ná jare weer haar verskyning maak.

Tariq Cupido (Elton Landrew) is ’n nors, 62-jarige voormalige polisie-offisier en wewenaar. Hy het jare tevore sy enigste dogter uit die huis gedryf en wanneer hy onverwags uitvind sy is oorlede en dat hy die oupa van die sesjarige Katinka (Alexis Newman) is, moet hy ’n besluit neem wat hulle al twee se lewens gaan verander.

Ook in die rolverdeling is June van Merch, Mila Guy, Daneel van der Walt, Charlene Brouwer, André Weideman, Melanie du Bois en Danny Ross.

“Die reeks is gebou op daardie gevoel wat ’n ouer kry wanneer hulle hul kind in die bed gesit het en kyk hoe rustig hulle slaap,” sê Corné. “Moontlik was dit ’n lang dag vol emosie, uitbarstings, skuldgevoelens en ongeduld, maar dan kyk jy na hulle en dink: Môre gaan ek beter wees. In daardie stil oomblik langs die bed, kom daar liefde, hoop en ’n nuwe voorneme. Dít is eintlik die hart van die reeks.”

Beter as gister begin op 30 Junie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.

Back to News

Download and watch later

Get the DStv app (Apple or Android) and download episodes to watch on your phone or tablet – just remember to connect to the Wi-Fi first so there are no surprise data costs.

Devices