Logo

Empanada braaibroodjie

26 September

12 halwe braaibroodjies

Braai

3

In Argentinië is daar een happie wat koning kraai waar jy om die vuur staan of sit en wag tot die vleis reg is - die empanada, ’n verlangse neef van die samoesa of pasteitjie.

Empanada Braaibroodjie
Bestanddele

12 snye Brood

Olyfolie / Botter

2 Mielies

1 teelepel Komyn

1 teelepel Paprika

Sout & Peper

1 houer Vars Koljander gekap

1 Rooi ui gesny

240 g Cheddar Kaas gerasper

Metode
  1. Braai die mielies op ’n rooster oor warm kole en maak seker dat die kante hitte kry. Gebraaide mielies het baie meer geur as ongebraaide mielies. Sodra die mielies ’n bietjie geskoei is, haal van die vuur af en gebruik ’n skerp mes om die pitte van die stronk af te kerf en sit in ’n mengbak.
  2. Gooi die komyn, paprika, sout en peper oor die mieliepitte en meng sodat al die pitte gesout is. Kap die koljander fyn en meng dit ook by die mieliepitte.
  3. Bou die braaibroodjies: Smeer botter of olyfolie aan een kant van elke sny brood (dis die kant wat buitentoe sal kyk wanneer jy eers die braaibroodjie aanmekaar gesit het). Sit die helfte van die snye brood op hul botterkante neer en skep die mieliepitmengsel oor en pak rooi-ui skywe bo-op. Strooi cheddarkaas oor. Bedek met die oorblywende snye brood en laat hulle botterkante boontoe wys.
  4. Braaibroodjies is draaibroodjies. Jy moet braaibroodjies gereeld draai en jy braai hulle in ’n toeklaprooster. As jy nie een het nie, koop een - verkieslik ’n rooster met verstelbare diepte sodat jy elke broodjie reg kan vasknyp. Jy wil matige hitte hê en die rooster moet redelik ver van die kole af wees. Jou doel is om die kaas gesmelt en die res van die vulsel lekker warm te hê teen die tyd dat die buitekante goudbruin is. Om te keer dat die braaibroodjies vassit, help dit as jy die rooster ’n paar keer oop-en-toe maak ná die eerste paar maal se omdraai.
  5. Sodra jou braaibroodjies reg is, sny jy elkeen in die helfte. Ek glo die regte manier om ’n braaibroodjie te sny, is diagonaal, en die regte tyd om dit te eet, is onmiddellik.
Episode 12 Pizza in Potjie
Jan Braai
Sub Titel

Pizza in 'n potjie

Gewildste Resepte