Logo

Biltong-braaibroodjie

6 porsies

Braai

5

Suid-Afrika se gunsteling happie om die vuur binne-in Suid-Afrika se gunsteling braaihappie.

Biltong braaibroodjie – Jan Braai
Bestanddele

12 snye Brood

Botter / Olyfolie

2 Rooi-uie gesny

1 sopie Sagte bruinsuiker

1 sopie Balsamiese asyn

1 koppie Biltong fyngekap

1 houer Gewone roomkaas

240 g Cheddar-kaas gesny / gerasper

Metode
  1. Verhit botter of olie in ’n pan op die vuur en braai die ui tot sag. Gooi die suiker en balsamiese asyn by die ui en laat prut oor lae hitte vir so 15-20 minute tot die uie soet en taai is. Sit eenkant om af te koel (die uie, nie jy self nie. Maar as jy warm onder die kraag is gaan sit ook maar eenkant tot jy weer lekker is).
  2. Gebruik jou aggressiefste, grootste en skerpste mes om die biltong fyn te kap. As jy nie ’n mes het wat by die beskrywing pas nie, koop een.
  3. Bou die braaibroodjies: Botter of olie elke sny brood aan een kant (dis die kant wat buitentoe sal kyk wanneer jy eers die braaibroodjie aanmekaar gesit het). Sit die helfte van die snye brood op hul botterkante neer en smeer roomkaas op al die snye. Skep nou ’n lagie van die gekaramelliseerde uie op en strooi die biltong en dan die Cheddar-kaas oor. Bedek met die oorblywende snye brood en laat hulle botterkante boontoe wys. 
  4. Braaibroodjies is draaibroodjies. Jy moet braaibroodjies gereeld draai en jy braai hulle in ’n toeklaprooster. As jy nie een het nie, koop een - verkieslik ’n rooster met verstelbare diepte sodat jy elke broodjie reg kan vasknyp. Jy wil matige hitte hê en die rooster moet redelik ver van die kole af wees. Jou doel is om die kaas gesmelt en die res van die vulsel lekker warm te hê teen die tyd dat die buitekante goudbruin is. Om te keer dat die braaibroodjies vassit, help dit as jy die rooster ’n paar keer oop-en-toe maak ná die eerste paar maal se omdraai. 
  5. Sodra jou braaibroodjies reg is, sny jy elkeen in die helfte. Ek glo die regte manier om ’n braaibroodjie te sny, is diagonaal, en die regte tyd om dit te eet, is onmiddellik.

EN …
Hier hoef jy nie eens hard te probeer nie en jy het klaar ’n goeie braaibroodjie. Maar as jy ’n bietjie meer aandag aan die fyner detail gee, gaan jy nog beter vaar. Begin met gekaramelliseerde uie waarop jy trots is. Hulle moet so lekker wees dat jy hulle eintlik wil opeet voordat jy hulle op die braaibroodjie skep - maar moenie. Kap ook die biltong nogal fyn - hoe fyner hoe beter. Dit maak ’n groot verskil aan hoe maklik en lekker jy aan die braaibroodjie gaan eet. Jy hoef dit nie in ’n biltongpoeier, soos die wat jy by die winkel kan koop, te verander nie; ons wil regte skyfies biltong hê, maar fyngekap.

Kruie- en lemoenhoender – Jan Braai
Poster 320x480
Sub Titel

Suurlemoen-en-kruiehoender

Gewildste Resepte