Logo

Omelette met groente en kruie

08 Oktober

4 porsies

Gebak

3

Dié ontbyt, soos voorberei deur koskonsultant Heleen Meyer in Die GROOT Ontbyt, is aangepas uit Cooking from the heart 2. Foto: Heleen Meyer

DGO-Omelette
Bestanddele

Omelette

8-12 ekstra-groot Nulaid eiers (2-3 eiers per persoon)

15 ml water per eier

15-30 ml olyfolie of avokado-olie

sout en peper na smaak

Vulsel-opsies om van te kies

1-2 sprietuie in dun skyfies gesny

1 rooi soetrissie in dun skyfies gesny

100 g mozzarellakaas gerasper

60 ml basiliekruidpesto

vars kruie bv. Italiaanse pietersielie en dille

Metode

1. Klits 2-3 eiers, met 15 ml water per eier, vir elke omelet. Geur na smaak met sout en peper.

2. Verhit ’n dun lagie van die olie oor matige hitte in ’n braaipan en skink die geklitste eiers vir die eerste omelet in die pan.

3. Verlaag die hitte en besluit watter vulsel-opsies gebruik gaan word. As sprietuie ’n opsie is, strooi daarvan oor die eiers sodra dit begin stol.

4. Lig die gaar eier versigtig al om die rand van die pan met ’n eierspaan, sodat die rou eier onder kan inloop.

5. Plaas die deksel vir ’n paar minute op tot die eiers net gestol het en die onderkant van die omelet goudbruin is. Moenie dat die omelet oorgaar word nie, anders vou dit moeilik toe.

6. Vulsel: Kies die vulselbestanddele waarvan jy hou en skep dit op een helfte van die omelet. Sit die deksel vir ’n paar minute op as daar kaas in die vulsel is, sodat dit bietjie smelt.

7. Vou die omelet versigtig in die helfte en skep op ’n warm bord. Herhaal die proses vir die res van die eiers en vulselbestanddele om nog drie omelette te maak.

8. Sit omelette voor met ’n slaai van byvoorbeeld roketblare, komkommer, appel en sesamsaad vir ’n ontbyt of ligte maaltyd.

 

Wenk:

1. Enige vulsel van jou keuse kan in ’n omelet gebruik word. Avokado, sampioene, biltong, tuna of maalvleis is lekker. Groente soos murgpampoentjie, ertjies of tamatie is ook heerlik of gebruik beleë cheddar- of parmesaankaas. Enige vars kruie is ideaal met eier.

DGO-Kekerertjies
Die Groot Ontbyt Poster 924x1360
2018-10-01

Geroosterde kekerertjies

Nog resepte