Logo

Mari-Louis se melktert-poffertjies

09 Mei

Gebak

4

Fotograaf: Paul Bransby

Probeer gerus Koekedoortjie-beoordelaar Mari-Louis Guy se wen-resep vir melkterpoffertjies.

Koekedoortjie-Mari-Louis-se-melktertpoffertjies
Bestanddele

625 ml melk

gerasperde skil van 1 groot- of 2 medium lemoene

40 g koekmeel

30 ml mielieblom

30 ml vlapoeier

knippie sout

4 eiers

100 g suiker

40 g botter

20 ml vanieljegeursel

150 g beskuitjiekrummels

3 eierwitte liggies geklits

plantaardige olie vir diepbraai

100 g strooisuiker

15 ml fyn kaneel

Metode

Mari-Louis verduidelik: Hierdie resep kom met ’n waarskuwing: moenie dit maak nie!

Regtigwaar, jy sal jouself geen guns bewys nie! Dit het baie stappe met vele rustye in die yskas tussenin. Maar wanneer jy dié ontplof-in-jou-mond-genietings voorsit, sal drie ure se werk in 37 sekondes verdwyn, en die uitroepe van ‘Nog, nog asseblief!’ sal in jou ore weerklink.”

Die resep, en vele ander smullekker resepte, is beskikbaar in haar en haar broer, Callie Maritz, se jongste resepteboek, Die Suid-Afrikaanse Melktert-versameling.

Probeer dit gerus self:

  1. Meng en verhit die melk en gerasperde lemoenskil in ’n kastrol oor matige hitte sodat die lemoengeur kan intrek, maar dit moenie kook nie. Verwyder van die hitte, giet deur ’n sif en laat effens afkoel.
  2. Sif die meel, mielieblom, vlapoeier en sout saam in ’n mengbak.
  3. Klits die eiers en suiker saam. Hou aan klits en giet die melk in ’n egalige straaltjie by die eiermengsel. Voeg dit by die meelmengsel en roer tot gemeng.
  4. Giet die mengsel terug in die kastrol en plaas oor matige hitte. Voeg die botter by en roer vir ongeveer twee minute tot ’n dik vla vorm.   
  5. Verwyder van die hitte en roer die vanieljegeursel in. Giet in ’n diep mengbak en plaas in die yskas om af te koel en verdik.  
  6. Druk jou hande in meel en skep dan ’n groot eetlepel vla op ’n slag in jou hande. Vorm in onafgewerkte balletjies, rol hulle in die beskuitjiekrummels en plaas op bakpapier. (Moenie jou te veel bekommer oor die vorm nie, jy kan hulle later regdruk.) Plaas vir nog 30 minute in die yskas. Behou die beskuitjiekrummels.
  7. Rol elke balletjie in die eierwit, en dan weer in die beskuitjiekrummels. Plaas in die yskas vir een uur.
  8. Verhit die olie in ’n diep kastol of diepbraaier. Gebruik ’n gleuflepel en laat sak die balletjies versigtig in die warm olie. Braai vir twee tot drie minute tot effens bruin. Plaas op kombuispapier om die oortollige olie te absorbeer.
  9. Meng die strooisuiker en kaneel saam. Rol die balletjies in die kaneelsuiker terwyl hulle nog warm is.
  10. Die balletjies is heerlik koud, maar ons verkies om hulle nog warm voor te sit.
Koekedoortjie Tannie-Elizabeth-se-roly-poly
Tannie Elizabeth se roly-poly met ’n kinkel
2018-05-09

Tannie Elizabeth se roly-poly met ’n kinkel

Gewildste Resepte