Logo

kykNET se bekroonde ‘Stiekyt’-fliek nou op BoxOffice

Nuus
02 Desember 2022
kykNET se Stiekyt het drie pryse gewen by 2022 se Silwerskermfees.
Stiekyt

Die bekroonde Afrikaanse riller Stiekyt met sy sterbelaaide rolverdeling, is nou op DStv BoxOffice beskikbaar.

Dit het by 2022 se Silwerskermfees drie pryse gewen en in sy resensie oor dié rolprent beskryf Leon van Nierop Stiekyt as: “Heerlik skokkend en gruwelik vermaaklik.”

Netwerk24 se kuns- en vermaakredakteur Laetitia Pople sê ook dit is werklik “verrassend” en “dit neem die kyker ’n hele rukkie om agter die kap van die byl te kom”.

By Silwerskermfees is Paul du Toit vir sy hoofrol as James as beste akteur aangewys en Albert Pretorius, wat die rol van Pandora BoXXX vertolk, as beste manlike byspeler, terwyl dit ook die toekenning vir kinematografie ingepalm het.

Die skrywer en regisseur van Stiekyt is Etienne Fourie, wat al ’n lang pad met kykNET se Silwerskermfees loop. Só het sy eers vollengte rolprent Die windpomp in 2014 by die fees gedebuteer, en is dit in 2016 en 2017 opgevolg met onderskeidelik Dis koue kos, skat en Liewe Kersfeesvader

Stiekyt vertel die verhaal van ’n eks-sepiester James wat sy inkomste aanvul deur in die geheim as fopdosser in ’n sukkelende klub, Stella’s, op te tree.  James, wie se huwelik in troebel waters is, se vrou Susan (Cintaine Schutte) vind van sy ongewone akteurswerk uit en dan kom die naels uit...

Die rillerelement van die fliek gebeur wanneer een van die ander fopdossers onder bisarre omstandighede sterf, en James die optrede van sy lewe moet gee om agterdog daaroor uit die weg te ruim.

Ilse Roos speel Stella, die eienaar en bestuurder die klub, wat sy met ’n ysterhand regeer om konstante vrees op haar fopdossers af te dwing. Die antagonis word deur Wessel Pretorius vertolk, en sy karakter Mrs. Balls maak die lewe besonders moeilik vir James.

Die Arendsvlei-akteur en SAFTA-wenner Roberto Kyle is as  Ally Minium te sien. Ander akteurs in die rolverdeling is Jacques Bessenger as  Jay-C le Roux, Charlton George as Crystal Decanter, Carla Smith  as Lola, Llandi Beeslaar as Adam Appel en Frannie van der Walt as Gemmer Koekie. Die bekende kos- en televisiepersoonlikheid Herman Lensing maak ook ’n kameeverskyning as Kiwi Polish.

Stiekyt, wat ook onlangs sy internasionale bekendstelling by die Tallinn Black Nights­-rolprentfees in Estland gehad het, is deur Homebrew Films in Kaapstad vervaardig.