Ontmoet die spanne van Klippe Kou
Ontmoet die mense van kykNET se nuwe reeks, Klippe Kou.
Wanneer Klippe Kou op 15 Julie op kykNET begin, gaan vier spanne die uitdagende pad na die legendariese Weg, Ry en Sleep Bull Run in Vanwyksvlei aanpak.
Van lewenslange beste vriendinne tot jarelange makkers en avontuurlustige egpare – elke span bring hul eie storie, uitdagings en persoonlikheid na die reis.
Stofkartel: Veertig jaar se vriendskap en een groot avontuur
Vir Charmaine "Champoo" Nolte en Michelle Geere het Klippe Kou begin as 'n plan tussen twee beste vriendinne wat al byna 40 jaar lank saam deur die lewe stap.
"Ons oorspronklike plan was eintlik om Frankryk toe te gaan om ons 40 jaar as beste vriendinne te vier," vertel Charmaine. "Toe besluit ons: as ons nie Frankryk toe kan gaan nie, dan bou ons 'n ou Land Rover en ry Bull Run!"
Hoewel Michelle gedink het die projek gaan "heerlike pret" wees, het sy nooit verwag hoeveel draaie die avontuur sou gooi nie.
"Ek het nooit gedink ons gaan soveel wonderlike mense op hierdie avontuur ontmoet nie," sê sy.
Vir Charmaine was een van die grootste lesse dat niemand ooit iemand anders se hele storie ken nie.
"As Klippe Kou my een ding geleer het, is dit hoe ongelooflik dit is om tyd deur te bring met mense wat jy waarskynlik nooit in jou gewone lewe sou ontmoet het nie."
Die twee beskryf mekaar as familie eerder as net vriendinne.
"Ons is basies familie," sê Michelle. "As sy sê kom, dan is ek in."
"Ek het gedink Klippe Kou gaan my leer van ou Land Rovers," sê Charmaine. "Maar eintlik het dit my weer herinner dat die lewe altyd mooier raak wanneer goeie mense saam met jou die pad stap."
Oh What A Knight: Sê net ja
As daar een span is wat glo in avontuur, is dit Sharne en Ronald Knight.
Toe hulle vir Klippe Kou ingeskryf het, het nie een van hulle regtig geweet waarvoor hulle hulself inlaat nie.
"Ek het nog nooit van die Bull Run gehoor voordat ons ingeskryf het nie," lag Sharne. "En nooit in 'n miljoen jaar gedink ek gaan op 'n TV-program wees nie."
Ronald se antwoord is korter: “Definitief nie. Glad nie. Nee, nie eers 'n bietjie nie."
Die egpaar beskryf hulself as mense wat eerder ja sê en later uitwerk hoe die plan gaan werk.
"My man is my soulmate," sê Sharne. "Ons neem nie die lewe te ernstig op nie."
Hul grootste verrassing? Vanwyksvlei self.
"Toe ons daar aankom en dit lyk soos 'n army camp in die middel van nêrens, het ek besef hulle was ernstig oor die 'roughing it'," sê Sharne laggend.
Leka Djy: Moenie 'n boek volgens sy omslag beoordeel nie
Craig Williams en Zale Titus ken mekaar al 25 jaar.
"Ons is soos vonkel en koljander," sê Zale.
Agter die humor en kameraadskap skuil daar ook moeilike lewenservarings. Craig sê die grootste klip wat hy nog moes kou, was toe Zale hom drie jaar gelede bel om te vertel dat sy niggie – die vrou wat Craig as "die meisie van my drome" beskryf – in 'n motorongeluk oorlede is.
Vir Zale was die grootste uitdaging van sy lewe sy stryd teen dwelmverslawing.
"Ek was vir 17 jaar verslaaf aan dwelms en het op straat gebly," vertel hy. "Vandag is ek herstel."
Dié twee meen hul motor gaan waarskynlik kykers die meeste verras.
"Ons het basies nie 'n kar gehad nie," lag Zale. "Ons het hom baie laaste-minuut gebou, maar ons het deurgedruk."
Craig sê die ervaring het hom iets belangriks geleer.
"Ek het baie van hulle geleer, en hulle van my. Moenie 'n boek volgens sy omslag beoordeel nie – lees eers die boek."
Makkers: Teenoorgesteldes trek mekaar aan
Schalk van der Merwe en Jaco Nolte bewys dat vriendskap soms belangriker is as ooreenkomste.
"Ek is analities, hy is prakties. Ek is geduldig, hy is plofbaar," sê Schalk oor hul dinamiek.
Jaco erken hulle kan soms kompeterend raak: "Ons werk goed saam, maar kan ook baie kompeterend wees met mekaar."
Tog glo albei hul eerlikheid is die geheim van hul sukses.
"Ons is reguit en oop met mekaar en sê dit soos dit is," sê Jaco.
Wat hulle die meeste verras het, was nie die motors of die uitdagings nie, maar die mense.
"Die ander mense in die program het diep in ons harte gekruip," sê Jaco.
"Daar was baie oomblikke om die kampvuur waar ek baie van myself geleer het deur die stories van ander," voeg Schalk by.
Klippe Kou begin op 15 Julie 2026 om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.