Die soektog na Suid-Afrika se beste lam: Lamb Champs keer terug na kykNET 

Highlights 14 May 2026

Die dokumentêre reeks, Lamb Champs, keer terug vir ’n tweede seisoen op kykNET.

Die soektog na Suid-Afrika se beste lam: Lamb Champs keer terug na kykNET 

Die dokumentêre reeks, Lamb Champs, keer terug vir ’n tweede seisoen op kykNET (DStv-kanaal 144) vanaf Woensdag 10 Junie om 20:00. Hierdie vyf-episode reeks, getiteld Lamb Champs: Die Kuns van Skaapboerdery, plaas ’n soeklig op die Suid-Afrikaanse kleinveegemeenskap.

Die reeks neem kykers op ’n nasionale reis om die kuns van lamsboerdery te verken — van Kimberley se uitgestrekte, droë vlaktes tot Pretoria se tuisgrond by Loftus, waar die spanning in die lug hang soos rook oor kole terwyl lammers oor die vlamme draai. In Parys vloei die eerlike en rou stories van boere uit die hart, terwyl die Paarl se ryk erfenis en wingerde die belofte van nuwe horisonne bring.

Hierdie seisoen vra moeilike vrae en delf dieper in noodsaaklike temas soos veediefstal, naspeurbaarheid, identiteit en die rol van tegnologie in die moderne boerdery. Die program bring eer aan Suid-Afrika se skaapboere wat soos kunstenaars met hart en siel die toekoms van ons voedselerfenis koester.

"Lamb Champs gaan oor meer as net die lekkerste lam - dit gaan oor die mense, die stories en die ongelooflike deursettingsvermoë agter elke boerdery," sê die regisseur, Morné du Toit. "Hierdie seisoen wys hoe kompleks en kunsgerig moderne skaapboerdery werklik is."

Van die plaas tot die finale stryd

Die reeks volg die pad van passievolle boere soos Sybrand Venter, JP Nel, Hennie Jonker en Louis Botha, wie se uiteenlopende benaderings tot skaapboerdery — van intensiewe praktyke tot die fyn kuns van stoetbou — die ruggraat van die seisoen vorm. Die finale bestemming is Nampo Alfa in Bothaville, waar die kompetisie sy opwindende hoogtepunt bereik. Die streekwenners kom saam om mekaar die stryd aan te sê, waar elke lam volgens streng kriteria beoordeel word — van smaak en "op die hoef" tot die wetenskaplike ontledings in die laboratorium.

 

Vervaardiger Leonie Fourie voeg by: "Kykers kan uitsien na ’n seisoen gevul met pragtige en aangrypende stories wat diep uit die hart van die plaas kom. Hierdie boere doen meer as om bloot die land te bewerk; hulle deel die passie en deursettingsvermoë agter die ware kuns van skaapboerdery."

Uiteindelik lewer Lamb Champs nie net ’n wenner op nie, maar vier dit die boere wat geleer het om hul plek in die bedryf met selfvertroue op te eis.

Saai, stigter en houer van Lamb Champs as ’n handelsmerk, voel dat die nuwe seisoen kykers die geleentheid om die mense, plase en streke agter daardie gehalte beter te leer ken. "Lamb Champs wys vir Suid-Afrika dat uitstekende lamsvleis nie toevallig ontstaan nie, dit begin by familieboere wat met kennis, dissipline en trots produseer," sê Francois Rossouw, Hoof Uitvoerende Beampte van Saai. "Vir Saai is dit belangrik, want Lamb Champs gaan nie net oor wie die lekkerste lam produseer nie; dit gaan daaroor om familieboere ’n geloofwaardige platform te gee, die waardeketting te verkort, en verbruikers weer met die oorsprong van hul kos te verbind. Wanneer mense die stories agter die produk verstaan, bou ons nie net aan ’n sterker handelsmerk vir lamsvleis nie, maar ook aan groter waardering en beter geleenthede vir Suid-Afrika se familieboere."

*Lamb Champs word vanaf Woensdag 10 Junie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Dit sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.

Back to News

Download and watch later

Get the DStv app (Apple or Android) and download episodes to watch on your phone or tablet – just remember to connect to the Wi-Fi first so there are no surprise data costs.

Devices