Vyf dinge wat jy moet weet om vir Kokkedoor: Klassiek in te skryf

Highlights 06 July 2026

Lees hierdie artikel voordat jy vir Kokkedoor aansoek doen!

Vyf dinge wat jy moet weet om vir Kokkedoor: Klassiek in te skryf

Staan nader, onthoukokke en kinkelkokke – Kokkedoor is terug met ’n klassieke kinkel en kykNET soek weer opnuut na Suid-Afrikaners en Namibiërs wat met hart, herinnering en vernuf kan kook. Maar julle moet sommer gou spring want inskrywings sluit op 12 Julie!

Kokkedoor: Klassiek keer terug na die geliefde oorspronklike formaat van die reeks, maar daar is ook ’n hele paar nuwe verrassings wat wag in die kombuis. Die nuwe seisoen vier tydlose Suid-Afrikaanse kookkuns, familieresepte, kosstories en die mense wat weet hoe om ’n gereg gelaai met betekenis voor te sit.

Vir beoordelaar Herman Lensing is dit juis hierdie kosstories wat die hart van die reeks vorm.

“Ons koserfenis is ’n ryk skatkis van onthouresepte en stories wat jy nêrens anders in die wêreld kry soos hier in Suid-Afrika nie,” sê Herman. “Met Kokkedoor: Klassiek wil ons juis dáárdie stories en resepte van nuuts af vier.”

Jess van Dyk, hoofsjef en eienaar van Post & Pepper in Stellenbosch, sluit hierby aan en sê daar is min dinge so besonders is as om ’n geliefde familieresep op TV met die res van die land te kan deel.

“Ons wil al die getroue boererate, kitswenke wat werk en onweerstaanbare lekkernye sien en dan ook terselfdertyd by elkeen van julle leer,” sê Jess. “Dit is bietjie van die oud gemeng met bietjie van die nuut.”

Dink jy jy het wat dit verg om jou kosstorie met die land te deel? Hier is vyf dinge wat jy moet weet.

1. Kokkedoor: Klassiek soek 10 onthoukokke en 10 kinkelkokke

Die vuurwarm soektog is aan die gang vir hierdie seisoen se 10 onthoukokke en 10 kinkelkokke wat gereed is om hul plek in die Kokkedoor-kombuis vol te staan.

Onthoukokke is die mense wat tradisionele kos, familiegunstelinge en onthouresepte soos goud bewaar. Jy hoef nie formele opleiding of professionele ervaring te hê nie – solank jy ’n liefde, kennis en passie het vir onthoukos soos ma, ouma of die familie dit gemaak het.

Volgens Herman is daar plek vir die tannies, ooms en ouer garde wat presies weet hoe Suid-Afrikaanse kos moet proe, maar ook vir mense wat hul kosherinneringe, familieresepte en kookervaring met ander wil deel.

Kinkelkokke moet oor ’n kwalifikasie as sjef beskik of professionele kombuiservaring en uitstekende tegniese vaardighede hê. Hierdie kokke bring kreatiwiteit, vernuwing en tegniek na die tafel en moet wys hoe tradisionele kos op nuwe en vars maniere herbedink kan word.

2. Jou kosstorie is net so belangrik soos jou resep

Kokkedoor: Klassiek soek nie net mense wat goed kan kook nie – hulle soek mense met ’n storie, ’n persoonlikheid en ’n besondere band met kos.

Herman sê deelnemers moet hul unieke persoonlikheid met hul inskrywing wys, terwyl Jess beklemtoon dat familieresepte, boererate, kitswenke en kosherinneringe deel is van wat hierdie seisoen so spesiaal gaan maak.

Het jy dus ’n resep wat al vir geslagte lank in jou familie is? Kan jy ’n bredie, tert, brood, poeding, sop of ’n eenvoudige souskluitjie laat sing? Of is jy iemand wat tradisie suksesvol met moderne tegniek en kreatiewe denke kan kombineer?

Of jou inspirasie nou uit jou ouma se kombuis, jou ma se resepteboek, ’n professionele kombuis of jou eie kreatiewe kop kom – hierdie is jou kans om te wys hoekom jóú kos verdien om op TV met kykers gedeel moet word.

3. Spanwerk bly een van die belangrikste bestanddele

Al is spanwerk een van die belangrikste bestanddele van Kokkedoor, skryf deelnemers individueel in.

Elke span sal bestaan uit ’n onthoukok en ’n kinkelkok, maar dié spanne word nie vooraf deur die deelnemers self saamgestel nie. Die beoordelaars gaan fyn kyk hoe goed deelnemers met uiteenlopende vaardighede saam kan dink, saam kan kook en saam ’n gereg tot sy volle potensiaal kan neem.

En soos Kokkedoor-kykers weet: ’n kombuis kan vinnig warm raak. Spanmaats kan ook geruil word – daarom gaan aanpasbaarheid, kommunikasie en ’n koel kop net so belangrik wees soos ’n vlymskerp mes.

4. Jy moet aan ’n paar basiese vereistes voldoen

Om in te skryf moet jy ten minste 18 jaar oud wees op die dag van die oudisie. Jy moet ook ’n Suid-Afrikaanse of Namibiese burger wees en oor ’n geldige ID-dokument beskik.

Jy kan nie as deel van ’n span inskryf nie, en jy hoef nie te huiwer as jy wel al kookkursusse gedoen het nie. Die reeks soek ’n interessante mengsel van mense: van tradisionele huiskokke en onthoukokke tot kreatiewe sjefs met professionele kombuiservaring.

Wat wel saak maak, is dat jy goeie kos kan maak, jou eie persoonlikheid kan wys en iets eg Suid-Afrikaans of Namibies na die Kokkedoor-tafel kan bring.

5. Daar is R1 miljoen op die spel

Het jy nog aanmoediging nodig? Daar is ’n miljoen redes om in te skryf – in die vorm van R1 miljoen se prysgeld vir die wenspan.

Daarby is daar natuurlik ook die gesogte Goue Haan-trofee wat weer ’n nuwe adres soek.

Maar Kokkedoor: Klassiek gaan oor meer as net prysgeld. Dit is ’n kans om jou koserfenis te vier, jou vaardighede te toets, nuwe tegnieke te leer en jou regmatige plek in een van Suid-Afrika se gewildste koswerklikheidsreekse in te neem.

Skryf nou in! 

  • Voornemende deelnemers kan die inskrywingsvorm by kyknet.tv kry of ’n e-pos stuur aan navrae@kokkedoor.tvom ’n vorm aan te vra.
  • Die sluitingsdatum vir inskrywings is middernag op 12 Julie 2026.
  • Oudisies vind 21-23 Julie in Kaapstad plaas.
Back to News

Download and watch later

Get the DStv app (Apple or Android) and download episodes to watch on your phone or tablet – just remember to connect to the Wi-Fi first so there are no surprise data costs.

Devices