Van die Karoo tot Viëtnam - Reis saam met kykNET na splinternuwe horisonne!
Maak gereed vir ’n kykfees vol avontuur, nostalgie, inspirasie en hope pret! kykNET skop die koue maande af met nuwe kykgenot wat jou vasgenael voor die kassie gaan hou.
Maak gereed vir ’n absolute kykfees vol avontuur, nostalgie, inspirasie en hope pret, want kykNET skop die nuwe seisoen af met ’n propvol programskedule wat jou vasgenael voor die kassie sal hou. Van die ongetemde skoonheid van Namibië en die magiese landskappe van Viëtnam en Zimbabwe, tot diep binnelandse reise deur die Karoo en die Bolandse wynlande – jou gunsteling-aanbieders is terug om die wêreld na jou sitkamer te bring.
Of jy nou wil saamkyk hoe die land se top-boere sake uitspook vir die titel van beste lam in Lamb Champs, saam met die Fourie-broers in die Karoo platry in Die Broer Toer of gesondheidsinspirasie in Slank wil vind, hierdie TV-spyskaart het iets vir almal.
Lamb Champs S2
Woensdae 20:00 vanaf 10 Junie
Dié opwindende dokumentêre reeks keer terug na jou kassie en bou op die sukses van die eerste seisoen. Lamb Champs: Die Kuns van Skaapboerdery, bestaan uit vyf episodes wat die kollig plaas op die mense agter Suid-Afrika se skaapboerdery, die families, stories en opofferings wat die bedryf verg. Vir die eerste keer reis Lamb Champs na die Boland, waar die streek se unieke skaapboerdery-erfenis en wynlandskap ’n nuwe dimensie aan die reeks toevoeg. Leer by die land se voorste veeboerkenners en kyk vir die eerste keer hoe die streekwenners in ’n nasionale eindstryd meeding om gekroon te word as die kampioen van Suid-Afrika se beste lam. Die reeks vier die trots van Suid-Afrikaanse familieboerdery en gee kykers ’n eerlike blik op die harde werk, karakter en toewyding wat nodig is om die kuns van skaapboerdery te bemeester.
Safari Roetes S4
Vrydae 17:30 vanaf 3 Julie
Aanhangers van die buitelewe kan regmaak vir hope aksie en asemrowende landskappe wanneer Petri de Wet en die Safari Roetes-span ’n splinternuwe avontuur aanpak. In hierdie nuwe seisoen pak die span splinternuwe, uitdagende roetes aan wat kykers sal wegvoer na van die mees skouspelagtige en ongerepte bestemmings in Suider-Afrika. Met ’n perfekte kombinasie van rowwe 4x4-aksie, murg-in-die-pyp natuurervarings en die onmisbare kampvuur-kuier, beloof Petri-hulle om die ware gees van Afrika-avontuur na kykers te bring.
Die Safari 4x4-span doen hierdie jaar 'n emmerlystoer deur die Noord-Kaap. Hulle besoek verskeie bergpasse, duine, strande, skeepswrakke en woenstynareas en beweeg selfs teen die Oranjerivier af.
Hey Skipper S1
Saterdae 18:00 vanaf 4 Julie
Vir avontuurlustige kykers en natuurliefhebbers is Dewald Visser ’n bekende gesig. In Mal Kamper het hy die land plat gereis en met sy energieke avonture kykers geboei. In die splinternuwe reeks Hey Skipper, seil, roei en duik Dewald by van die mooiste plekke in die wêreld: Van Thailand tot Mosambiek. Kyk hoe Dewald saam met robbe en dolfyne swem, uitspan op ’n luukse huisboot en grotte verken doer anderkant die waters. Leer ook meer oor hoe riviere en oseane teen plastiek beskerm word, hoe swart vullissakke van herwinde plastiek gemaak word en hoe rommel in Durban uit ’n rivier gehaal word. Dewald nooi kykers om saam in sy unieke avonture te deel: Van unieke seester- en seeperdjie-ervarings tot slaap op hout chalets wat op die water dryf.
Die Broer Toer S2
Saterdae 18:30 vanaf 4 Julie
Wat gebeur wanneer drie broers, ’n paar klassieke motors en meer selfvertroue as gesonde verstand bymekaar kom? Jy kry Die Broer Toer DAKAROO, natuurlik! Die Fourie-sibbes – Bennie, Reynold and Wilbrie – is terug vir ’n tweede seisoen waar hulle dié keer probeer om die Karoo plat te ry. Met elke kilometer wag daar nuwe uitdagings, onverwagte karprobleme, twyfelagtige navigasie-besluite en die soort kompetisie tussen broers wat gewoonlik eindig met iemand wat trots spot: “Ek het mos vir jou gesê.” Tussen asemrowende landskappe, onvergeetlike tonele en baie lag, raak hul reis ’n viering van avontuur, komedie en nostalgie soos net die Fourie-drie dit kan vasvang.
4x4 met Andre S5
Maandae 17:30 vanaf 6 Julie
4x4-entoesiaste en natuurliefhebbers luister al vir vier seisoene na die gewilde André de Villiers se raad en stories op 4x4 met André. In die vyfde seisoen durf hy die ruwe en asemrowende landskappe van Namibië aan. Elke roete bring nuwe avonture, tegniese 4x4-wenke en onverwagte ontmoetings met wilde diere en plaaslike mense. Almal is genooi om na André se stories te kom luister, maar dié wat self nuwe terreine in die natuur beproef, sal veral sy praktiese raad oor veldry, voertuie en uitspan in die natuur geniet.
Jan Braai vir Erfenis S16
Saterdae 19:30 vanaf 11 Julie
Uitstekende vleis, lekker braairesepte en kreatiewe nuwe idees in die heel mooiste natuurskoon . . . dít is nou al ’n gegewe as jy vir ’n splinternuwe reeks van Jan Braai vir Erfenis inskakel. Dié seisoen skop af in Zimbabwe waar Jan en die Ontspan (sy gedugte televisiereisspan) die land se toptoerismebestemmings verken, soos die Hwange-natuurreservaat, Kariba-meer en die Victoria-watervalle. Daarna pak die span ’n massiewe sloertoer deur die Noord-Kaap aan. Hulle besoek klein dorpies, ontmoet interessante karakters en ontdek die unieke geure, geskiedenis en gasvryheid wat elke plek sy identiteit gee. Waar hulle ook al kom, word daar oudergewoonte vuur aangesteek en volgens Jan is dit oor die afgelope 16 jaar die reeks waarin daar die meeste kere gebraai is.
Elders: Viëtnam S8
Sondae 20:00 vanaf 19 Julie
Is Viëtnam op jou emmerskoplys? Indien nie, sal die nuwe en agste seisoen van Elders jou dalk vinnig laat herbesin wanneer dit op Sondag 19 Julie om 20:00 op kykNET begin uitsaai. Die vorige seisoen, Elders: Ligtoringroete, is vroeër vanjaar met sy tweede SAFTA-toekenning bekroon. In hierdie splinternuwe seisoen verlaat die stapper en skrywer Erns Grundling sy gemaksone vir ’n epiese reis van noord na suid om Viëtnam se natuurskoon, ryk geskiedenis, vriendelike mense en smullekker kos met kykers te deel.
Die aksie skop af in Hanoi en beweeg na plekke soos Sa Pa naby die grens van China, gevolg deur ikoniese bestemmings soos Ha Long Bay, Ninh Binh, Phong Nha se grotte en Ho Chi Minh-stad. Die reeks is oor veertig dae deur Bonanza Productions verfilm. Hoewel Erns sy vrou en tweelingseuntjies vreeslik gemis het, beskryf hy dit as ’n enorme voorreg om sy passie vir reis en stories saam met ’n fantastiese kameraspan uit te leef.