Logo
Showpage Billboard 1600x800
web uni tv guide

Hannes Aan Huis

144LeefstylPG13 L

April is propvol kykgenot op die kykNET-kanale!

Nuus
07 April 2023
Die seisoene is dalk besig om te draai, maar die vermaak op die kykNET-kanale tydens April gaan beslis die ergste koue verdryf.
Ladies Launch SP BB RHOWL

Die "Real Housewives" is terug

Ses glansryke vroue van die Wynlande maak hulle huise en harte oop.

Die Real Housewives van die Wynlande is die splinternuwe "Real Housewives"-reeks wat op Donderdag 20 April om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) afskop. Onder die vroue is skoonheidskoninginne, ’n dokter én ’n doktor en genoeg glans vir ’n leeftyd.

Onthul: Kragreus op sy knieë

Onthullende dokumentêr oor kragvoorsiener poog om agter die kap van die byl te kom.

Die Onthul-reeks dokumentêre programme se derde aflewering – Onthul: Kragreus op sy knieë is op Sondag 2 April om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Toe Eskom se voormalige uitvoerende hoof, André de Ruyter, in Februarie in ’n onderhoud met eTV verskeie skokkende onthullings gemaak het, het Suid-Afrikaners al meer bewus geword van die omvang van die probleme by die kragvoorsiener. Deelnemers aan die program sluit in Jan Oberholzer, hoof- operasionele beampte van Eskom, die joernaliste Kyle Cowan en Antoinette Slabbert, Dirk Hermann van Solidariteit en Willem Els van die Instituut vir Sekerheidstudies. Dit sal ook op Catch Up beskikbaar wees, en daar sal ‘n herhaling op Saterdag 8 April 20:00 op kykNET wees.

Belinda lui nuwe seisoen in

Vreugde, komedie én trane in nuwe seisoen

Belinda en die span van Lui maar op, Belinda is terug op Maandag 3 April om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Eric Nobbs, die geliefde Frans, is oorlede tydens die maak van die nuwe seisoen en is steeds in die eerste drie episodes te sien. Die rol van Frans word daarna deur die veteraan-akteur Chris van Niekerk vertolk.

Net mens terug met nog vier bekendes

’n Sanger, twee Binnelanders en ’n kletsrymer en hul stories.

Die gewilde reeks Net mens is terug vanaf Sondag 9 April om 20:00 op kykNET (DStv- kanaal 144) en is sonder twyfel ’n móét-kyk op ’n Sondagaand. Op 9 April maak Binnelanders se Cindy Swanepoel haar hart oop; op 16 April is dit Refentse se beurt; op 23 April vertel Hykie Berg sy storie en op 30 April is die gewilde kletsrymer Early B voor die kamera.

Word iemand in April 'n miljoenêr?

Rian van Heerden peper deelnemers met vrae, maar hoeveel is dit werd?

Die gewilde vasvraprogram Wie word ’n miljoenêr?, Woensdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144), met Rian van Heerden as aanbieder, se tweede seisoen het ’n paar deelnemers al ’n paar rand in die sak gebring, maar die groot vraag is of iemand die volle koel miljoen gaan haal?

Op reis met my beste vriend

Bekendes en hulle troeteldiere in die kollig.

Neels van Jaarsveld se miniatuur-spikkelworshond, Lulu, is amper net so bekend soos hy. In hierdie nuwe reeks gaan Neels ander bekendes en hulle troeteldiere ontmoet en saam gaan hulle alles doen – van hondevriendelike roomys tot met dieresieners praat.

Op reis met my beste vriend  begin op Saterdag 8 April om 18:00 op kykNET (DStv- kanaal 144).

Nuwe telenovela en seisoene vir kykNET&kie

’n Nuwe oorgeklankte Turkse telenovela en twee nuwe seisoene van gewilde reekse vir kykNET&kie.

Jy is my seun, ’n nuwe telenovela uit Turkye, het op Maandag 20 Maart om 20:00 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) afgeskop en is reeds uiters gewild onder kykers. Dit vertel die verhaal van Akça, ’n prostituut se dogter, wat gedwing word om haar seun, wat sy by die boosaard Hasan gehad het, vir aanneming aan ’n welgestelde familie te gee. Die seun, Efe, se lewe by die Karasu-familie is egter nie alles wat dit moet wees nie, aangesien sy aangenome ma, Şule, ’n kind van haar eie kry en sy Efe begin afskeep. Intussen vind die Karasu’s uit dat hulle aartsvyand, Hasan, Efe se pa is. Hasan word uit die tronk vrygelaat en die eerste ding wat hy doen, is om Akça te gaan soek en dít terwyl Akça self enigiets sal doen om die vyfjarige Efe terug te kry.

Nuwe seisoene van twee immergewilde reekse maak ook hulle terugkeer na kykNET&kie (DStv- kanaal 145).

Vanaf Vrydag 7 April om 19:30 gaan die Roer!-aanbieder Alfred Adriaan verskeie bekendes in die kombuis verwelkom, waaronder Carmen Maarman, Cantona James en Jill Levenberg.

jou het kykers al warm onder die kraag gehad en met die nuwe seisoen – vanaf Saterdag 8 April om 19:30 sal dit waarskynlik ook die geval wees. Aden Thomas is weer die aanbieder en van die kwessies wat bespreek gaan word, is gay mans wat vroue vra om te trou, en kinders wat geheime vir hulle ouers wegsteek.

Nuwe Storiefilms en 'n fliekbederf vir April

Groot name in debuutfilms te sien.

Twee Storiefilms première in April op kykNET (DStv-kanaal 144). Storiefilms word Saterdae om 20:00 uitgesaai.

  • Melk & vleis op Saterdag 1 April om 20:00 is gegrond op die gelyknamige verhoogstuk en het Illse Roos en Paul du Toit in die hoofrolle. Dit vertel die verhaal van ’n suksesvolle vrou wat haar loopbaan opgee om met ’n melkboer te trou.
  • In Valentynssokkie wat Saterdag 15 April om 20:00 uitgesaai word, met Pietie Beyers en Reandi Grey in die hoofrolle, sien ’n groep matriekleerlinge die Valentynsdans as die laaste geleentheid om hulle laaste jaar op skool spesiaal te maak.

Daar is ‘n heerlike bederf op Saterdag 29 April om 20:00 Mr. Bones 3: Son of bones word op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Die fliek wys die terugkeer van Bones en Mathambo, wat ‘n groep opportunistiese mense wat vir olie wil dril in Kuvukiland. In die flieks is behalwe Leon Schuster, sy regterhand wat al dekades aan sy sy is, Alfred Ntombela, asook Tumi Morake, Jerry Mofokeng en Jay Anstey te sien.

Nuwe seisoene van gewilde programme keer terug

kykNET het deur die jare uitstekende leefstyl- en aktualiteitsprogramme uitgesaai en met die nuwe kwartaalikse blok word dié trotse tradisie voortgesit. Verskeie gewilde reekse is in April terug op kykNET (DStv-kanaal 144) met nuwe inhoud.

  • La’t wiel – Dinsdag 4 April om 17:30
  • Met ’n huppel in die stap – Woensdag 5 April om 17:30
  • Wie’s nuus? – Donderdag 6 April om 21:00
  • Oppiestoep – Vrydag 7 April om 18:30
  • Jan Braai vir erfenis – Saterdag 8 April om 19:30
  • Vat jou goed en trek – Maandag 10 April om 17:30
  • Dankie, Lottoland – Woensdag 12 April om 21:30
  • Hannes aan Huis – Donderdag 13 April 17:30

Nuwe musiekblokke vir kykNET NOU!

Van rock tot sokkie op kykNET NOU! (DStv-kanaal 146).

Vier nuwe musiekblokke word in April op kykNET NOU! (DStv-kanaal 146) bekend gestel. Die vier musiekblokke begin om 19:30 met Maandae wat op instrumentale musiek sal fokus.

Dinsdae is dit tyd vir romanse met Liefdesliedjies, en Woensdag is dit balke toe met Country. Donderdae is vir die MK-generasie met Rock wat die koppe gaan laat skud en die voete gaan laat stamp. En Vrydae? Natuurlik is dit dan tyd vir Sokkie met die allerlekkerste dansmusiek om jou lyf te rock jou tekkies te laat brand.

Bly ingeskakel op kykNET, kykNET&kie én kykNET NOU! vir die beste in wêreldklas Afrikaanse vermaak hierdie April.