Nuwe dokumentêr Die Boere van Patagonië
Nuwe dokumentêre kykNET-reeks vertel die aangrypende verhaal van Die Boere van Patagonië.
’n Byna vergete hoofstuk van Afrikaner-geskiedenis kry nuwe lewe in die boeiende dokumentêre reeks Die Boere van Patagonië, wat op 19 Julie om 20:30 op kykNET begin.
Met Voetspore het Johan Badenhorst kykers oor dekades heen na afgeleë wêrelddele saamgeneem. Nou vertel hy saam met Kew Productions die merkwaardige verhaal van die Afrikaners wat ná die Anglo-Boereoorlog ’n nuwe lewe in Argentinië gaan bou het.
Ná die oorlog was talle Afrikaners moedeloos en verslae. Plase is afgebrand, oeste vernietig, vee uitgewis en duisende vroue en kinders het in konsentrasiekampe gesterf. Baie families het gevoel daar is net een opsie oor: om Suid-Afrika te verlaat en elders ’n nuwe heenkome te gaan soek.
Terwyl sommige uitgewyk het na plekke soos Tanzanië en Madagaskar, het sowat 600 Afrikaners die lang reis na Argentinië aangepak, waar hulle genooi is om die yl bevolkte streek van Patagonië te help ontwikkel.
Daar, in ’n landskap wat sterk herinner aan die Karoo, maar met veel strawwer winters, genadelose winde en geïsoleerde plase, het die boere ’n nuwe lewe probeer uitkerf. Vandag leef hul afstammelinge steeds daar – met vanne soos Van der Merwe, Kruger, Botha en Pelser – en hoewel baie van hulle reeds verspaans het, leef elemente van Afrikaner-kultuur steeds voort.
Hulle speel Boeremusiek, langarm en braai skaaprib oor die kole. En soms praat hulle steeds Afrikaans – ’n vorm van die taal wat grootliks onveranderd gebly het sedert hul voorouers Suid-Afrika meer as ’n eeu gelede verlaat het. Waar Afrikaans in Suid-Afrika oor dekades heen verder ontwikkel en gestandaardiseer is, leef ou uitdrukkings en woorde in Patagonië steeds voort.
Die Boere van Patagonië ondersoek nie net die historiese redes vir die Groot Trek na Argentinië nie, maar vra ook belangrike vrae oor identiteit, taal, kultuur en herkoms. Die reeks, wat uit vyf episodes bestaan, kyk na die verwoesting van die Anglo-Boereoorlog en die motivering agter die emigrasie, die uitdagings wat die boere in Patagonië moes trotseer, die ontdekking van olie en die rol wat Afrikaners daarin gespeel het, asook die behoud van die Afrikaanse taal en kultuur in Argentinië. Die reeks spekuleer ook oor wat die toekoms van Afrikaans in Patagonië mag wees.
“Die Afrikaner-diaspora is ’n relatief onlangse verskynsel met groepe in veral Australië, Kanada en Engeland. Maar meer as 120 jaar gelede is daar ’n groep Afrikaners na Patagonië. Hulle het nie net bly Afrikaans praat, braai en biltong maak nie. Hulle het ook langarm gedans en Boeremusiek gemaak. Dis tans dalk die laaste stuiptrekke van ’n unieke groep Afrikaners, maar steeds bly hulle verhaal van deursetting en oorlewing ’n inspirerende verhaal,” sê Johan Badenhorst, vervaardiger van die reeks.
“Wat uitgestaan het, is die feit dat selfs hulle wat nie meer Afrikaans kan praat nie, maar steeds vanne het soos Botha en Van der Merwe, geweldig trots is op die kontinent van hulle herkoms. Hulle vier dit steeds elke jaar.”
Die reeks is oor twee maande in beide Suid-Afrika en Argentinië verfilm. In Suid-Afrika word daar gekyk na die gemeenskappe vanwaar die emigrante oorspronklik gekom het, terwyl die Argentynse been van die produksie fokus op Buenos Aires, Comodoro Rivadavia, Sarmiento en die omliggende gebiede waar die boere hulle gevestig het.
Die Boere van Patagonië vang ’n fassinerende stuk geskiedenis en ’n kultuur vas wat op die rand van die vergetelheid staan. Dis moontlik een van die laaste kere wat hierdie stories eerstehands in Afrikaans vertel kan word.
Die Boere van Patagonië begin 19 Julie om 20:30 op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.