kykNET se Lamb Champs Seisoen 2 bring unieke verhale na die skerm
Die splinternuwe seisoen van Lamb Champs skop hierdie Woensdag, 10 Junie om 20:00 op kykNET af! Saam met die Suid-Afrikaanse Agri Inisiatief (Saai) bring die span hierdie seisoen nie net intense kompetisie na die skerm nie, maar ook die ongelooflike stories van ons land se familieboere.
Die tweede seisoen van die gewilde kykNET-reeks, Lamb Champs skop op Woensdag 10 Junie af en beloof om kykers nie net te lok met die land se beste lamsvleis en intense kompetisie nie, maar ook met diep menslike en inspirerende stories agter die boere.
Geanker deur die Suid-Afrikaanse Agri Inisiatief (Saai), wat hom beywer vir die beskerming en volhoubaarheid van familieboerderye, wys hierdie seisoen die veelsydigheid, veerkragtigheid en passie van Suid-Afrika se skaapboere.
’n Ongelooflike verhaal van hoop en skenking: JP Nel – Vryburg, Noordwes
JP boer saam met sy skoonpa, Tjaart Steyn, wat al vir 36 jaar met ’n oorgeplante hart leef. Ongelooflik genoeg leef JP se vrou, Melinda, ook al vir 16 jaar met ’n hartoorplanting. Weens haar gesondheidstoestand kan die egpaar nie self kinders hê nie, en hulle hoop dat die program hulle dalk in kontak kan bring met ’n surrogaatmoeder. Melinda bedryf die koekbakbesigheid Meelbestrooid, terwyl JP lamsvleis aan die publiek verskaf via sy Enkelbos Plaaswinkel.
Groen-boerdery op ’n mikro-skaal: Hennie Jonker – Kroonstad, Vrystaat
Hennie en sy vrou, Liza-Mari, bewys dat groot dinge op klein plekke kan gebeur. Hulle "groen" boerdery word bedryf op ’n klein stukkie grond van net 6 hektaar, maar huisves 600 skape deur elke vierkante meter optimaal te benut. Liza-Mari verskaf eiers aan die plaaslike gemeenskap, en die hoendermis word as natuurlike kunsmis op die plaas hergebruik. Selfs die kinders boer saam: Liam met Damaras en Miané met Boerbokke.
Trouklokke en kampioene: Louis Botha – Cradock, Oos-Kaap
Louis is geen vreemdeling vir sukses nie: hy en sy vrou, Monya, is getroud presies die dag vóór hy die 2025 Boland Lamb Champs gewen het! Terwyl Louis met Meatmasters boer en ’n passie het vir perde en motorfietse, is Monya ’n vroue-rugby agent en boer sy met Landskape en hansdiere onder haar handelsmerk, Hartsliefde Boerdery.
Die enkellopende voëlfotograaf: Sybrand Venter – Carnarvon, Noord-Kaap
Sybrand is ’n ware fynproewer van die natuur. Buiten sy liefde vir gholf en rolbal, is hy ’n kranige fotograaf wat reeds meer as 140 verskillende voëlspesies rondom sy plaasdam afgeneem het. Hy is die mede-stigter van Lamb & Legacy, wat Karoo-lam en tradisionele resepte verskaf. Sybrand is tans enkellopend, en die produksiespan hoop dat iemand spesiaal sy mooi hart op die program sal raaksien.
Francois Rossouw, Hoof Uitvoerende Beampte van Saai, beklemtoon dat Lamb Champs veel meer as net ’n koskompetisie is: "Dit gaan oor die bewaring van ons plattelandse kultuur, die bevordering van topgehalte Suid-Afrikaanse produk-handelsmerke, en die ondersteuning van die familieboere wat kos op ons tafels sit. Hierdie stories wys die ware karakter van ons land se mense."
Lamb Champs word vanaf Woensdag 10 Junie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Dit sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.