
Wat is jou beroep?
Ek is ’n smaakmaker en inhoudskepper vir my eie handelsmerk, Women Fire Food. Ek is ook ’n regsassistent, maar praktiseer nie tans nie.
Hoekom het jy vir Kokkedoor Vuur & Vlam ingeskryf?
Ek wou meer mense, veral vroue, bewus maak van kos op vuur voorberei.
Deur Women Fire Food wil ek vir vroue leer om te braai en ook kos te rook en hulle te laat besef dat dit oukei is om te braai en goed te wees daarmee. Daar is baie vroue wat braai, maar ons sien dit min. Braai is immers nie net ’n sport vir mans nie.
Ek wou ook aan myself bewys dat ek goed genoeg is om aan so ’n groot kompetisie deel te neem.
Hoe sal jy jouself beskryf?
Ek is ’n baie bedrywige mens – ek het twee soorte ADHD. Dit maak dat ek gereeld nuwe goed aanpak, en ’n groot gedeelte van my lewe is daarop gefokus om mense te help.
Ek hou daarvan om die underdog te help en te baklei vir wat reg is. Dis ook hoekom ek regte gaan swot het. Ek is ’n groot familiemens en maak tyd om met my geliefdes deur te bring. Ek het ook baie energie en is gewoonlik voor in die koor by ’n partytjie.
Ek raak ongelukkig gou verveeld. Ek praat ook baie en vinnig. So, dis hoe mense my onthou.
Iets interessants oor jou?
Ek het baie stokperdjies en belangstellings. Ek ry motorfiets en maak gereeld video’s vir mense wat my borg.
Ek was jare gelede ’n Suid-Afrikaanse kampioen in skopboks, maar nadat ek op 21 in ’n groot motorongeluk was, moes ek ongelukkig daarmee ophou. Ek was vir ’n kort rukkie verlam.
Ek was ook een van die eerste vroue wat krieket gespeel het. Dit was toe ek in standerd ses (graad 8) was. Ek moes ongelukkig saam met die seuns speel, want daar was nie vrouespanne in daai tyd nie.
Ek het aan veldmotorfietskompetisies deelgeneem tot ek te veel geval het. ’n Mens verloor jou kop op daai goed.
Ek is ook die stigter van die Chilli Club South Africa en maak my eie warmsous met die naam Donkiebyt. Met hierdie sous het ek goud en dubbelgoud gewen by die Aurora International Taste Challenge.
Ek weet baie van rugby af. My broerskind het my eenkeer van die skool af gebel omdat hulle vir my ’n pos kon aanbied om Paarlvallei se rugbyafrigter te wees. Ek het dit vriendelik van die hand gewys.
Ek neem ook deel aan smoking competitions en het met my laaste kompetisie in Gauteng die eerste plek verwerf vir my beesribbetjies.
Wat is jou lewensmotto?
Jy moet jouself bemark en in jouself glo, want as jy nie in jouself glo nie, hoe kan jy verwag ander mense moet?
Wat het jy van jouself tydens jou deelname aan Kokkedoor Vuur & Vlam geleer?
Jy’s goed genoeg. So, staan op vir jouself en neem jou plek in waar jy hoort. Ek het hard gewerk sonder geen hulp om te kom waar ek vandag is. So, hou op terugstaan. Time to shine, sweetheart.
Jou nommereen-braaiwenk?
Braai gaan oor hittebeheer. Maak seker jy het alles reg voor jy begin braai (tang, braaibak ens.), sodat jy kan gooi sodra jou kole reg is. Jy wil nie jou vleis met koue kole stoom nie.