Aktrise Carla Schönfeldt se intense teister-storielyn in Diepe Waters
Aktrise Carla Schönfeldt erken dat die intense teister-storielyn in Diepe Waters vir haar ’n emosionele uitdaging was, maar sy loof haar mede-akteur, Markus Haywood, wat haar deurlopend op stel ondersteun het.
Dit was so hittete of dinge kon nóg slegter uitgedraai het. Ja, Hanneli Viljoen (Carla Schönfeldt) kon net betyds agterkom wie Wian (Markus Haywood) werklik is, maar dinge kon soveel anders gewees het. ’n Mens sidder om te dink . . .
Kykers van Diepe Waters (Ma. tot Do. om 18:30 op kykNET) moes onlangs toekyk hoe die oulike en vriendelike Hanneli amper een van die grootste foute van haar lewe maak.
Arno (Jean Henry) stel ’n vertroueling uit sy verlede, Wian, aan om die sorgsentrum Helder Hoop te help bestuur. Sommer gou wurm Wian homself by die vroulike inwoners Boskruin én Hanneli se lewens in. Op die oog af lyk dit of hy net soveel in gedigte belangstel soos Hanneli en haar net “verstaan”.
“Toe ek aanvanklik oor dié storielyn lees, was ek in two minds. In ’n manier is dit positief, want jy skep bewustheid oor iets wat regtig gebeur. Aan die ander kant was ek ’n bietjie bang of ek dit op die regte manier geloofwaardig gaan kan oordra,” vertel Carla.
“Ek dink met tyd leer jy dat dit afhang saam met wie jy so ’n storielyn aanpak. Markus het my so baie gehelp en het tussen tonele altyd seker gemaak of ek oukei is,” sê sy.
Dit word vinnig duidelik dat daar veel meer aan Wian se storie is as wat hy voorgee. Hy begin skelm foto’s neem van die meisies, steel kledingstukke van Hanneli en bêre vreemde aandenkings in bokse in sy tas.
Boonop raak dit ook duidelik dat hy Hanneli manipuleer en sy woorde baie mooi kies om vir haar presies te sê wat sy wil hoor.
Om hierdie “intense, scary” storielyn te speel, is nie maklik nie, maar Carla geniet die uitdaging.
“Ek het Markus die eerste keer ontmoet toe ons tonele by ‘Helder Hoop’ geskiet het. Hy was ongelooflik vriendelik en ons het ná ons ’n bietjie gesels het, ons woorde begin saam oefen,” verduidelik Carla.
“Ek het vir hom aan die begin gesê dit is ’n stresvolle storielyn om te skiet, en hy het gesê hy sal seker maak dat dinge nie te erg op stel voel nie,” voeg sy by.
En Markus het by sy woord gehou. Elke keer as hy in karakter haar moes aangluur, vir haar jok of aan haar vat, het hy ná die tyd seker gemaak dat sy nog gemaklik voel.
“Hy is ’n saggeaarde mens, dit lyk nie of hy ’n sorg in die wêreld het nie,” lag sy.
Gelukkig vertrou die Helder Hoop-steunpilaar Brenda (Jacky Carpede) haar instinkte en bly ondersoek instel oor Wian. Sodoende vind sy die tas met sy vreemde aandenkings van die meisies.
Brenda, Arno en Karla (Daniëlle Swanepoel) konfronteer vir Wian en met die bewysstukke wat voor haar oop en bloot lê, kan Hanneli vir die eerste keer deur Wian se leuens sien.
“Ek dink hierdie storielyn is veral vir jonger vrouens, in ’n tyd van sosiale media, ’n baie groot realiteit,” verduidelik Carla.
“Hanneli was in hierdie donker plek waar sy gevoel het niemand hoor of luister vir haar nie. Toe kom hierdie ou en dadelik het hy haar laat dink hy verstaan haar. Sy het net die ‘regte goed’ gehoor, dit wat sy wóú hoor,” sê sy.