
Wat is jou beroep?
Ek is ’n kunstenaar, en ek gebruik verskeie kunsvorme en mediums soos olieverf, klei, hout, blomme, grond en deeg. Ek skep kunswerke uit bestanddele en vars produkte.
Hoekom het jy vir Kokkedoor Vuur & Vlam ingeskryf?
Ek het gevoel dis ’n goeie platform om myself uit te daag. Dis so ’n kreatiewe avontuur.
Kokkedoor Vuur & Vlam gaan vir my oor baie meer as net kook. Ek is baie lief vir geskiedenis, en ek is altyd nuuskierig oor verskillende produkte en kookmetodes en oor waar goed vandaan kom. Die hele voorbereiding vir die kompetisie was so opwindend en leersaam.
Hoe sal jy jouself beskryf?
Ek is kunstig en kreatief en sien maklik die mooi om my raak. Ek is ongelooflik gedetermineerd. As jy iets gedoen wil hê, sê net vir my dit kan nie gebeur nie, en ek sal dit maak gebeur. Dít, en my humorsin, het my al baie goed te pas gekom.
Ek het Teaterkunde by Pretoria Technikon studeer, maar die meeste van my loopbaan was in die kosbedryf.
Ek het as sjef by verskeie restaurante gewerk en was vir jare die inhuis-sjef by ’n vliegtuigversekeringsmaatskappy. Daarna het ’n paar jaar in die banketspan by Investec Bank gevolg, asook my eie besigheid, Dainty Delights, wat koeke en ander snoepgoed aan korporatiewe kantiens verskaf het.
Ek het saam met my man vir meer as vier jaar in Tete in Mosambiek en ’n jaar in Lubumbashi in die DRK gewoon.
Veral Tete was baie uitdagend, en ek moes al my vernuf inspan om vir ons ’n mooi, lekker en interessante lewe in die bos te skep.
Ek was regtig soos die jagter-versamelaars van ouds en moes letterlik die markte en beperkte winkels deursnuffel vir vars produkte.
My groentetuin het darem baie gehelp, en soms het ek soos ’n professionele smokkelaar gevoel met alles wat ek in ons koffers gepak het.
Met een geleentheid was daar ’n hele bevrore lam in my onwetende man se tas. Dit het nogal chaos op die lughawe veroorsaak, maar ek is met ’n ontstoke man – en ’n lam – huis toe.
As jong meisie het ek by ’n wonderlike Duitse gesin as au pair gewerk. Ons is ná al die jare steeds hegte vriende, en ek reis gereeld oorsee. My mees onlangse reis was ’n wandelende kostoer aan die Amalfikus van Italië.
Enige iets interessants oor jou?
Ek is ’n absolute nutsvrou en is baie tuis tussen die gereedskap in my werkswinkel.
Ek restoureer graag ou meubels. Enigiets wat stukkend is, is vir my ’n uitdaging – of dit nou ’n lekkende dak of ’n gebreekte bord is.
Ek is ook die trotse eienaar van ’n 1960 Volkswagen Karmann Ghia en het vanjaar aan my tweede skou vir ou motors deelgeneem. In 2015 het ek Route 66 in Amerika met ’n 1958 Chevy Bel Air platgery.
Ek behoort aan die VLV en die Malmesbury-fietsryklub. Dis vir my ’n groot lekkerte om vroegoggend tussen die plase deur te ry en my te verlustig aan die mooi van die Swartland.
Wat is jou lewensmotto?
Ek is verantwoordelik om my eie lewe mooi en lekker te maak.
Wat het jy van jouself tydens jou deelname aan Kokkedoor Vuur & Vlam geleer?
Ek het besef alhoewel ek baie van kos weet, daar soveel meer fasette aan kook, gaarmaakmetodes en bestanddele is – dinge waarvan ek nog nooit gehoor het nie.
Dit maak my so opgewonde om nog meer te lees en eksperimenteer en dan ook my groot liefde uit te leef: om nog meer geregte te eet en ervaar.
Daar gaan altyd iets nuuts wees om te ontdek. Ek gaan nooit ’n versadigingspunt bereik nie. Gelukkig staan ek elke oggend op met ’n honger maag én ’n honger siel.
Jou nommereen-braaiwenk?
Warm kole. Haal daai vleis eerder te vroeg af as te laat. Jy kan nie ’n oorgaar steak red nie.