
Wat is jou beroep?
Ek is ’n professionele kok en die uitvoerende sjef by Jéan Restaurant op die Klein Roosboom-wynlandgoed.
Hoekom het jy vir Kokkedoor Vuur & Vlam ingeskryf?
Ek het besluit om myself ’n bietjie uit te daag en om buite my gemaksone sonder my span iets aan te pak. Om iets vir myself doen. En die eerste seisoen het na baie pret gelyk.
Hoe sal jy jouself beskryf?
Dit voel na bietjie van ’n cliché, maar ek is werklik passievol oor die lewe. Ek is totaal en al verlief op alles wat mooi is, lekker kos, goeie bestanddele, gehaltewyn, lekker mense, kuns, musiek, kreatiwiteit en nuwe avonture.
Ek is gek oor nuwe uitdagings en glo dat elke dag vol nuwe lesse is. Ek probeer om elke dag sterker en ’n beter mens te wees as die vorige dag. Dis bitter moeilik, maar dit is my mantra elke oggend.
Iets interessants oor jou?
Ek dink nie ek het enige uitsonderlike spesiale vaardighede nie. Behalwe vir my kreatiwiteit sing ek soos ’n rockster in die stort en breakdance soos ’n Australiër in die Olimpiese Spele.
Ek is baie trots dat ek saam met die Amerikaanse sjef, restauranteur en kosskrywer Alice Waters kon werk by Chez Panisse vir ’n rukkie. Dit was werklik ’n baie besonderse ervaring.
Wat is jou lewensmotto?
Leef elke dag asof dit jou laaste dag gaan wees.
Wat het jy van jouself tydens jou deelname aan Kokkedoor Vuur & Vlam geleer?
Ek het besef ek moet ten volle geniet wat ek doen en net myself wees. As ek te veel dink oor iets of probeer beter wees as die volgende persoon, gaan ek dit nie ver in die lewe bring nie.
Wees die beste weergawe van jouself en moenie kompeteer met ander nie, al is dit ’n kompetisie. Jy kan net jou beste gee vir jouself en jou spanmaat. Dan weet jy aan die einde van die dag, wat ook al gebeur, jy het jou beste gegee – and stayed true to yourself.
Jou nommereen-braaiwenk?
Moenie bang wees om nuwe goed te probeer nie. Die vuur is ook vir groente, blare, koeke, brode – regtig enigiets waaraan jy kan dink wat gaargemaak moet word. Probeer, maak foute, probeer weer en geniet dit net. Jy ontdek dalk net iets nuuts en unieks.