web uni tv guide
web uni tv guide

Kokkedoor: Vuur & Vlam

144Kookkompetisie13 L

Johan van der Watt (46), Bellville

Wat is jou beroep? 

Ek is ’n argitek wat spesialiseer in die konstruksiegedeelte van die bouproses. Ek is baie lief vir ontwerp en teken, maar verkies die fisiese konstruksie-aspek. Dis nou waar die werklikheid intree en jy nie kan wegkruip agter ’n uitveër nie.

Hoekom het jy vir Kokkedoor Vuur & Vlam ingeskryf?

Ek het ingeskryf om nuwe resepte, bykosse en braaivernuf aan te leer, asook om my eie tegniek en braaistyl met my mededeelnemers te deel. Dit was vir my ’n groot toets teen myself om uit te vind hoe goed ek werklik is en of my ondervinding en tegniek kan saamgesels met die ander deelnemers om die braaivuur.

  Hoe sal jy jouself beskryf?

Ek is ’n baie sosiale persoon en lief vir mense om my. Wat vir my belangrik is, is dat die mense om my gelukkig moet wees. As jy my ken, behoort jy te weet my deur staan altyd oop, en ek sal my bes doen om te help waar ek kan.

Dis ook ’n selfopgelegde las, aangesien ek mense nie wil teleurstel nie. Dis baie beslis van toepassing in my beroep, waar ek die ekstra tree sal gee om die kliënt gelukkig te hou.

Dan is ek ook soms heeltemal die teenoorgestelde. Ek hou baie daarvan om op my eie en alleen te wees. Dis meeste van die tyd waar ek rus en krag vind.

Iets interessants oor jou? 

As student was ek kaptein van die Suid-Afrikaanse studentetennisspan wat ons land by die Africa Student Games in Eswatini (Swaziland) verteenwoordig het. Ons het die goue medalje verower. 

Wat is jou lewensmotto?

Dis eintlik ’n Engelse gesegde, maar vertaal na Afrikaans, lees dit só:

Die geheim van die lewe is nie om met ’n goed opgepaste lyf by die graf te arriveer nie,

maar eerder om laat te wees, skuins in te skuur, heeltemal uitgebrand, moertoe, en hard uit te skree: “Bl*ksem, wat ’n reis!”

Ek dink dit som nogal die lewe op. Dis nie dat ek sê jy moet die lewe onverskillig aanpak nie, nee. Lewe net voluit en sien die goeie in die lewe ook raak. Ons mensdom is so geneig om net die negatiewe in die lewe te sien en daardeur mis ’n mens die mooi en die lekker.

Wat het jy van jouself tydens jou deelname aan Kokkedoor Vuur & Vlam geleer?

Die Kokkedoor-ervaring was vir my waarlik ’n interessante reis, en ek het baie geleer van kos – veral smake en verskillende geurkombinasies en hoe dit die kos beïnvloed.

Ek het die reis aangepak om uit te vind hoe goed ek is met kosmaak, aangesien ek geen formele kos-opleiding gehad het nie. Deur die hele ervaring het ek geleer ek is nie te bad nie,  en my aanvoeling vir geure en smake kan kompeteer met medekosmakers.

Ek het besef my gut feel het meriete, en ek moet meer daarna luister, alhoewel dit nog verfyn kan word.

Jou nommereen-braaiwenk?

Braai die vleis (of enigiets wat gebraai word) soos jy daarvan hou.

Mense, oor die algemeen, het vreeslik baie opinies oor hoe kos gaargemaak word, veral as iemand anders die kos maak.

Ek glo indien jy die kos goed gaarmaak – nie te gaar of te rou nie – sal almal daarvan hou. Wie het nog nie om ’n vuur gestaan en gehoor hoe iemand vra: “Moet jy nie omdraai nie?” My kinders het vir my ’n plakkaat gegee wat lees: “Hier braai ek en jy hou jou bek. Hoe eet jy jou vleis? Soos ek dit gaarmaak!”

Kokkedoor vuur en vlam S2 Johan de Villiers
Kokkedoor S4 Joubert Spies
Kokkedoor vuur en vlam S2 Johan van der Watt