Wat is jou beroep?
Oopvuursjef
Hoekom het jy vir Kokkedoor Vuur & Vlam ingeskryf?
Daar is verskeie redes. Ek is twee keer gekies vir ander braaiprogramme, maar ek moes van beide onttrek. Toe ek Kokkedoor Vuur & Vlam op die skerm gesien het, het ek geweet dis wat ek wil doen.
Ek’t ook gedink as “Mr Braai Guy” kan dit nie net ’n goeie uitdaging en leerskool vir my wees nie, maar ook goeie publisiteit.
Hoe sal jy jouself beskryf?
Ek is ’n gelukkige man met ’n fantastiese vrou, ’n trotse pa van drie, en ’n goeie vriend. My verhoudings is vir my baie waardevol. Ek geniet mense, maar geniet ook stilte in die bos of op die strand.
Ek is aktief en baie lief vir die natuur. Ek is betroubaar, eerlik en soms te reguit, maar ten minste hoef mense nie te worry oor waar hulle met my staan nie. Dit gesê, ek het deur die jare geleer dat ’n wag voor die mond ’n goeie eienskap is.
Iets interessants oor jou?
Na my nuwe heup is dit lekker vir my om ná baie jare weer aktief te kan wees. Ek moet dit wel ’n bietjie stadiger vat. As natuurgids is ek passievol oor die natuur en buitelewe en om dit saam met mense te geniet.
Wat is jou lewensmotto?
Ek het nie juis ’n lewensmotto nie. Ek glo soos wat ’n mens jou kop stamp en jy ouer word, jy hopelik karakter sal ontwikkel.
Wat het jy van jouself tydens jou deelname aan Kokkedoor Vuur & Vlam geleer?
Ek’t geleer dat om onder druk te perform, maak ’n mens beter, maar dit kan ook die ergste in jou na vore bring.
Jou nommereen-braaiwenk?
Beheer jou vuur en temperatuur vir ’n goeie uitkoms.