Wat is jou beroep?
Ek is die afgelope twee jaar ’n tegniese klerk by die Mediclinic in Paarl.
Hoekom het jy vir Kokkedoor Vuur & Vlam ingeskryf?
Ek het ’n passie vir kosmaak en terselfdertyd is ek ook baie kompeterend. Ek wil vir mense van my plek en my woonbuurt wys niks is onmoontlik nie. As jy ’n doel het, fokus daarop, ongeag jou omstandighede. Volg jou drome en maak die beste van jou situasie. Jy kan ’n rolmodel wees vir ander wat te bang is om ’n geleentheid aan te gryp.
Hoe sal jy jouself beskryf?
Ek is ’n mense-mens. Iemand wat rustig en vriendelik is, maar ek laat ook nie sommer oor my loop nie. Ek is nie bang om my opinie te lug nie. Ek glo ook jy moet jou medemens respekteer, ongeag ras, geslag, geloof of status. Respek is die nommereen-woord in my woordeboek, en ek glo jy moet ander behandel soos jy self behandel wil word.
Iets interessants oor jou?
My medemens is vir my baie belangrik. Daarom is ek betrokke in my gemeenskap, waar ek ook graag kos vir diegene gee wat nie iets op die tafel het nie.
Ek probeer veral jong manne motiveer om nie met bendes deurmekaar te raak nie en vir hulle te wys jy kan jouself opbou deur by positiewe dinge betrokke te raak. Ek is trots as ek op só ’n manier ’n verskil in ’n jong man se lewe kan maak.
Wat is jou lewensmotto?
Wees altyd jouself en toon respek vir ander.
Wat het jy van jouself tydens jou deelname aan Kokkedoor Vuur & Vlam geleer?
Ek het ongelooflik baie oor spanwerk geleer en ook hoe belangrik dit is om jou instink te vertrou.
Jou nommereen-braaiwenk?
Wees altyd voorbereid in terme van wat jy wil braai, en doen jou huiswerk. Hou by die basics, en moenie iets aanpak waarmee jy nie vertroud is nie.