kyknet channel logo

Roerende opvolgdokumentêr oor oorlog eersdaags op kykNET – ’n Pad na Oekraïne

Nuus14 Augustus 2023
Die moedige missie sorg vir ’n dokumentêre program, ’n Pad na Oekraïne, wat volg op die aangrypende ’n Bus na Oekraïne.
Oekraine article image

Kort voor ’n jaar ná die begin van die oorlog tussen Rusland en Oekraïne, beplan ’n span vrywilligers en lede van die media om van Nederland na Pole te ry. Daar wil hulle die grens oorsteek en Oekraïne besoek om broodnodige mediese voorraad, kragopwekkers vir hospitale en lekkergoed vir ’n kinderhuis af te lewer. 

Hierdie moedige missie sorg vir ’n dokumentêre program, ’n Pad na Oekraïne, wat volg op die aangrypende ’n Bus na Oekraïne

In ’n Pad na Oekraïne word Martelize Brink en Johan Oldenburg nie net deur ’n kameraspan op hul reis gevolg nie, maar word daar ook besoek afgelê by die vroue wie se lewens deur die oorlog verwoes is en deur Johan Oldenburg vanaf Pole na Nederland vervoer is.

Johan het in die afgelope jaar na hulle behoeftes omgesien en ook gehelp om hulle te integreer in Nederland.

Ná die maak van ’n Bus na Oekraïne het Johan met Jack Parow (Zander Tyler) en Loki Rothman bevriend geraak.

“Hulle is mense met harte van goud, en hulle is die eerste sangers in Suid-Afrika om ’n liedjie teen die oorlog vry te stel,” sê Johan. “Die liedjie is uniek.”

Loki verduidelik dat Helmut Meijer, wat vir die klankbaan verantwoordelik was, vir Jack musiek gestuur het sodat hy kan begin woorde skryf. Jack het toe na Loki uitgereik en hulle het saam aan die liedjie gewerk, saam die koorgedeelte gesing en dit help vervaardig.

Die resultaat was die protesliedjie “Wit vlag”. “Die klank en lirieke van die liedjie is beslis onverwags komende van ’n kunstenaar soos Jack Parow. Dit beeld ’n meer ernsige kant van hom uit,” sê Johan.  

In die mediaspan wat saamgereis het, was die geliefde radio-omroeper Martelize Brink. 

Tydens die besoek aan Oekraïne wou die span ook uitvind hoe dit gaan met die mans en pa’s van die vroue en kinders wat na Nederland gevlug het – mans en pa’s wat moes agterbly om in die oorlog te veg. 

“Om die vroue wat na Nederland geneem is te ontmoet en onderhoude met hulle te voer oor hulle lewe en aanpassing in die nuwe land waar hulle met soms geen en andersins slegs ’n bietjie Engels probeer integreer,” was vir haar ’n hoogtepunt, sê Martelize. “Natuurlik ook vir diegene wat by die vorige dokumentêr betrokke was, en dit was heerlik om Nederland ’n bietjie te verken.”

“Dis oor die algemeen ’n hartseer verhaal, maar ’n hoogtepunt was om die blydskap van die weeskinders in die kinderhuise te sien,” sê Johan. 

Wat was die een lewensles wat Johan hieruit geleer het? 

“Dat liefde die bohand in die lewe behou,” sê hy. “Dit gaan vir my oor die humanitêre kant, die menslikheid van die verhaal. Mense moet lief wees vir enige ander mense in nood.” 

Martelize stem saam. “Die mens is ongelooflik aanpasbaar. Ons mag dalk in ’n groot globale dorp woon, maar kulture verskil geweldig. Die vroue moes inpas by ’n kultuur wat wêrelde verskil van hulle eie. Die vroue het ook hooggeplaaste posisies gehad. Vandag is van hulle nie meer skoolhoofde of kerningenieurs nie, maar help met opvoeding of maak huise skoon. ’n Mens kan baie vinnig alles verloor.”

Is daar ’n prentjie in haar kop wat sy nooit sal vergeet nie? “Elke vrou wat in haar eie storie bewoë raak tydens ons gesprek wanneer sy oor haar tuisland praat en daardie verlies van ’n kultuur, familie en vriende.”

Sy het nog kontak met die een vrou, Maryna Romanyuk. “Ek hoop regtig dat sy eendag permanent met haar man en twee pragtige honde in Oekraïne kan herenig,” sê Martelize.

’n Pad na Oekraïne word 20 Augustus op kykNET (DStv-kanaal 144) om 20:00 uitgesaai. Dit sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.