web uni tv guide
web uni tv guide

Kokkedoor: Son & See

144RealiteitPG13 L

'Kokkedoor' trek ’n ander voorskoot aan

Nuus16 Maart 2025
Vir die tiende seisoen van kykNET se gewilde koswerklikheidsreeks Kokkedoor, trek die program nie net ’n ander voorskoot aan nie, maar kry dit ook twee nuwe beoordelaars.
kokkedoor son & see

In sy volgende gedaante gaan die reeks as Kokkedoor: Son & see bekend staan, terwyl die koskenners Herman Lensing (37) en Yolani Abrahams (32) gaan besluit watter deelnemers koning kraai.

kykNET soek nou na deelnemers vir die reeks, wat in November en Desember ’n hoofgereg op die kykNET-spyskaart gaan wees. 

Kokkedoor: Son & see is die vyfde gedaante van die Kokkedoor-familie, waarvan die huidige reeks, Kokkedoor: Vuur & vlam, tans op kykNET uitgesaai word. Buiten Kokkedoor, wat in 2012 vir die eerste keer voorgesit is, en Kokkedoor: Vuur & vlam, was daar ook Koekedoor, Kokkedoortjie en Koekedoortjie.  

Foto's: Gys Loubser

Die nuwe aanbieders het geen bekendstelling nodig nie, en beide het al diep spore in die Suid-Afrikaanse koslandskap getrap. Herman en Yolani spog nie net albei met sjefskwalifikasies nie, maar het ook beide reeds in talle kook- en leefstylprogramme op die kassie hul verskyning gemaak. 

Volgens Yolani, wat ook ’n restaurateur is en in 2017 as die wenner van SARIE se voorbladgesigkompetisie aangewys is, wou sy nog altyd haar kosvernuf in die media deel. 

“Dis beslis nie aldag dat so ’n geleentheid oor jou pad kom nie, en ek gryp dit met albei hande – en sommer ook met my voete – aan,” sê sy.

“Ek wil ’n sukses daarvan maak, en bowenal wil ek dit geniet. Wie weet, dalk leer ek self ook ’n ding of twee in die proses.”

Foto's: Gys Loubser

Herman, wat met talle topverkoperboeke op sy kerfstok spog en onlangs as Netwerk24 se smaakmaker van die jaar aangewys is, sê hy droom al vanaf 2013 daarvan om ’n Kokkedoor-beoordelaar te wees. 

“Om nou deel te wees van die tiende seisoen van die reeks en al sy handelsmerke is regtig ’n eer,” sê hy.

“Ek sien dit as ’n groot taak wat op my skouers rus om daardie intieme geskenk wat jy en jou spanmaat met my kom deel, met respek te hanteer. 

“Ja, ek gaan eerlik wees met my terugvoer, maar ek belowe ek is so lief vir kos dat jy nooit gaan wegstap en minder werd voel in die kombuis nie.”