Logo
Hartklop slim bb
web uni tv guide

Hartklop

144Drama16 L

Leandie gaan delf diep vir Jolene – Hartklop

Nuus
12 September 2023
Leandie du Randt vertel meer oor hierdie sonderlinge karakter wat sy met soveel oortuiging speel.
Leandie du Randt Hartklop article image

Kykers het die karakter dr. Jolene Joubert reeds in die eerste episode van Hartklop leer ken as ’n vrou wat nie skroom om vir haarself steke in te sit nie en iemand wat duidelik die rugkant van die lewe al gesien het. Leandie du Randt vertel meer oor hierdie sonderlinge karakter wat sy met soveel oortuiging speel. 

Kykers het reeds van die eerste episode af geweet Jolene is ’n karakter met ’n verlede. Hoe het jy haar gevorm? 

Sjoe, ja-nee, haar verlede is rof. Anders as in die regte lewe waar mens nie weet wat in jou toekoms is nie, kon ek nadat ek die teks gelees het mooi verstaan waarheen Jolene op pad is. Ek het van haar toekoms, in my kop en my hart, teruggewerk om die plek te kry waar sy begin. My skietskedule het so uitgewerk dat baie van Jolene se laaste tonele eerste verfilm is, en dit het my gehelp om te verstaan van waar af die karakter moet begin ontwikkel. 

Hoeveel mediese navorsing het jy gedoen vir die rol? 

Ek het net navorsing gedoen vir die operasies waarby ek betrokke was, want ek wou myself nie oorweldig deur te leer wat ek nooit gaan hoef te wys nie. Die navorsing het bestaan uit YouTube-video’s kyk en gesprekke met dokters en ons mediese raadgewers op stel, wat altyd daar was om te help. 
 

Dit is ’n groot en sterk rolverdeling. Watter lesse het jy by jou medespelers geleer? 

Wow, ja, die spelers is fenomenaal. Dis altyd interessant om te sien hoe akteurs hulle woorde leer en voorberei en hoe elkeen doen wat vir hom of haar werk. Die grootste wenk wat ek op die stel gekry het, was van Christo Davids, wat ook die regisseur van episode 8 was. Hy het vir my geleer dat jy nooit hoef te wonder hoe jy ’n toneel of emosie gaan speel  wanneer jy dáár is in die oomblik, luister en dit persoonlik maak nie. Jy vra jouself watter mens of herinnering uit jou eie lewe kan jy met elke toneel vergelyk sodat jy ’n aanknopingspunt het en ’n plek waar jy die emosie kan gaan haal. Dit maak dit eg en die interpretasie meer geloofwaardig omdat dit uit ’n persoonlike plek kom. 

Sou jy vir jouself kon steke insit? 

Definitief nie! Hahaha. Ek voel eintlik soos een groot fraud. Ek het flippen baie respek vir dokters gekry.

Jolene se pad loop nog ’n draai of twee voor die einde van die reeks. Sonder om te veel weg te gee, wat kan kykers nog verwag? 

Bitter baie seer en geraamtes waarmee sy nog gekonfronteer word – trauma waardeur sy moet werk voor sy kan begin genees. Ek dink soos baie mense het Jolene van haar verlede en omstandighede probeer weghardloop en gehoop dit sal die seer laat weggaan, maar só leer sy dat weghardloop en ontkenning net al hoe minder plek in jou hart vir genesing en liefde los. 

Wat sal Leandie se raad aan Jolene wees?

Vergewe die mense wat jou kwaad aangedoen het sodat jy kan begin genees. Net omdat sommige mense in jou verlede sleg was, beteken dit nie almal is sleg nie. Mens moet net beter mense leer kies met wie jy jouself omring. Praat bring genesing sodat jy kan ophou om die slagoffer te wees, verantwoordelikheid kan begin neem en as ’n wenner kan uitstap. ’n Mens kan kies of wat met jou gebeur het jou gaan sterk maak en vorm, of vir ewig jou siel en menswees gaan omkrap. Mens kan nie altyd kies wat met jou gebeur het nie, maar jy kan ALTYD kies wat jy daarmee gaan doen en hoe jy dit VIR JOU gaan gebruik. 

Wat het jy by Jolene geleer? 

Dat ek nóóít ’n dokter sou kon wees nie! Maar ek dink die grootste geskenk wat sy my gegee het, is meer insig in mense wat swaar grootgeword het en slagoffers van mishandeling en die lewe se seer. Dit het my baie meer empatie vir sulke slagoffers gegee en my weer laat besef watter daaglikse battles hulle veg om vrede en ’n kans in die lewe te kry. Ek het baie meer deernis vir mense en herinner myself altyd dat mens moet sag en liefdevol wees met almal, want jy weet nie watter battles hulle veg nie. 

Hierdie was die laaste reeks waaraan Franci Swanepoel gewerk het voor haar ontydige dood. As jy aan haar dink, wat is die eerste gedagte wat by jou opkom? 

Lag! Ek het dit so geniet saam met haar. En eerlikheid – altyd! Ek en sy het altyd ’n ding gesê nes dit was en het baie waardering vir mekaar se grappies en eerlikheid gehad, want nie een van ons was oorsensitief nie. Ons kon altyd net lekker onsself wees by mekaar. Sy was darem maar net een spesiale mens en ’n ongelooflike aktrise. Ek is dankbaar vir die geleentheid om teenoor haar te kon speel. 
 

Wat is jou planne vir die res van die jaar? 

Ons skiet seisoen agt van Slank, en ek en my skoonsus, Michelle du Randt, maak ’n eerste fisieke winkel in November vir ons aanlyn onderneming, To Be Gift Boxes, in Hazelwood, Pretoria, oop. Ek en Stephan [Neethling, haar geliefde] gaan ook teen die einde van September oorsee vir die rugby en ’n bietjie rondreis.

Die eerste agt episodes is beskikbaar op DStv Stream, en elke nuwe episode sal ná Dinsdae se uitsending gelaai word. Jy het dus ’n keuse. Haal nou in en kyk die res van die reeks op kykNET of wees geduldig tot die reeks klaarmaak en kyk alles op jou eie tyd. Die dertiende en laaste episode word op 10 Oktober op kykNET (DStv-kanaal 144) om 20:00 uitgesaai. Wees net gewaarsku: Hartklop is verslawend.