Logo

Skemergrond: Maak gereed vir kykNET&kie se nuwe trots inheemse telenovelle

Nuus
15 Februarie 2024
Hierdie telenovelle kom in die plek van "Arendsvlei" wat vanjaar na sy sesde seisoen tot 'n einde kom.
Afrikaans telenovelle name

In Julie begin Skemergrond – ’n nuwe en opwindende Afrikaanse telenovelle op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) vol diep bewaarde familiegeheime, wraak, ware liefde, leuens en verbrokkelende vriendskappe. 

Skemergrond sal kykers vier aande ’n week vasgenael voor die kassie hou. Dit kom in die plek van Arendsvlei, ’n telenovelle wat baanbrekerswerk gedoen het sedert die eerste episode op 1 Oktober 2018 uitgesaai is, maar in Junie vanjaar tot ’n dramatiese einde kom.

Skemergrond speel af in Gemoedsdrif, ’n klein dorpie in die Wes-Kaap, en draai om die Louw-familie en hulle pragtige blomplaas. Die Louws se rustige bestaan word omver gegooi wanneer onverwagte gaste opdaag wat dreig om skokkende familiegeheime te onthul. Ou wonde word oopgekrap en nuwe bande word gesmee om die Louws en hulle nalatenskap te red en te beskerm.

Roxanne Blaise, bekend vir haar rolle in Sara se geheim en White Lies, is die hoofregisseur. Sy was ook een van die regisseurs van Arendsvlei. By verlede jaar se Silwerskermfees het sy saam met Mujaanhid Valley die toekenning vir die beste draaiboek gewen vir die kortfilm Die Blokke. Roxanne is ook as beste regisseur vir Die Blokke benoem. 

“Ons is verheug oor hierdie fantastiese geleentheid. Die vars en opwindende rolverdeling gaan ’n epiese familiesage na die kassie bring. Skemergrond speel af tussen die Wes-Kaapse platteland en die blommemarkte van Kaapstad en is vol interessante karakters wat donker geheime saam met hul dra,” sê Roxanne. 

Die ander regisseur is Marisa Drummond, wat ook voor die kameras naam gemaak het met reekse soos Spoorloos: Die eiland en Suidooster. Bobby Stuurman, wat met Arendsvlei sy opleiding as regisseur gekry het, is die leerlingregisseur en dialoog-afrigter.

Die gedugte skryfspan het tussen hulle aan elke geliefde sepie en telenovelle in die land gewerk: Jo-Ann Scholtz (7de laan), Johann Davis (ArendsvleiSuidooster), Alyzzander Fourie (High RollersIsidingo), Margaret Goldsmid (Diepe WatersArendsvleiAfgrond), Meesha Aboo (Diepe WatersUnseenArendsvlei), Kanya Viljoen (Arendsvlei), Lauren Scholtz (ArendsvleiDiepe Waters), Henry Cloete (ArendsvleiDiepe WatersSuidooster) en Tristam Atkins (Diepe WatersUnseenArendsvleiSuidooster).

Die reeks word deur Penguin Films vervaardig wat reekse en films soos Sara se geheimFishy Fêshuns, Afgrond en Diepe Waters op hulle kerfstok het. Roberta Durrant en Andrea Frankson-Titus is die kreatiewe vervaardigers van Skemergrond.

“Ons het ’n uitsonderlike rolverdeling en ’n briljante span mense agter die skerms bymekaar gebring om hierdie veelvlakkige storie vol geheime, liefde en wraak te vertel. Kykers gaan aangegryp en verras word deur al die emosionele kinkels,” sê Roberta.

  • Die rolverdeling van Skemergrond word later aangekondig, maar sluit sowel legendariese spelers as opwindende jong talent in. Skemergrond begin in Julie 2024 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145). Dit sal van Maandag tot Donderdag om 19:30 uitgesaai word.