web uni tv guide
Diepe waters S4 Slim BB
web uni tv guide

Diepe Waters

144Telenovela13

Schalk verloor heeltemal sy kop en skiet Rossouw: Wat gaan volgende gebeur? – Diepe waters

Nuus12 Maart 2026
Dat dinge só kon uitdraai, sou niemand kon voorspel nie. Ja, daar was nou al weke lank tekens van geweld en manipulasie deur Schalk Viljoen (Izak Davel), maar om Rossouw te skiet?
Diepe waters

Dit het als begin toe Schalk se huwelik met Leandri (Christel van den Bergh) skipbreuk gelei het. Hoe anders? Schalk het vir maande haar gedreig, vir haar gejok en twee keer sy hand teenoor haar gelig.



Sy móés wegkom, vir haar en haar drie kinders, Marco (Xander Venter), Danie (Chartyn van Heerden) en Hanneli (Carla Schönfeldt), se veiligheid.

Dít het Schalk reeds baie moeilik verwerk. Soos Izak sê: “A leopard never change its spots. Schalk het probeer, maar hy het net ongelukkig daardie element tot sy karakter dat hy enige oomblik kan ontplof.”



Hy skree op Hanneli in publiek, dreig Leandri en ’n kas of twee word selfs stukkend geslaan in sy woede uitbarstings.

Toe kom daar ’n kinkel in die kabel. Leandri en Rossouw (Altus Theart) begin al hoe meer tyd saam spandeer. Leandri begin by Swarts & Swarts afrig en is boonop mos ’n sosialemedia-kenner wat dié swemklub daarmee ook kan help. Aanvanklik het Rossouw nie werklik ooghare vir haar nie, maar hoe meer hulle tyd saam spandeer, en hy die emosionele letsels wat Schalk op haar gelos het raaksien, raak sy hart tog sag.



Dadelik kon kykers sien híér is iets aan die gang . . . en hulle was mal daaroor.

Maar hoe meer tyd Rossouw en Leandri saam spandeer, hoe meer verdrink Schalk in sy eie woede. Hy agtervolg die paartjie, hou hulle dop en hy begin al hoe meer kook van woede.



’n Nuwe man in Leandri se lewe kan hy net nie aanvaar nie en Schalk wil wraak neem. Terwyl Leandri en Rossouw tuis op ’n romantiese afspraak is, betrap hy hulle heeltemal onkant. Maar hy wil hulle nie net konfronteer nie, daarvan getuig die pistool in sy hand.

Woorde wissel en dan klap die skoot.



“Dit is so lekker om so intense toneel saam met Izak en Christel te speel. Ons ken mekaar al jare en is so gemaklik met mekaar,” verduidelik Altus.

“Veral met Izak, wat so sagte persoon is, is dit ongelooflik om te sien hoe Schalk uitkom in ’n toneel.”

Dit is Rossouw se karakter wat deur die koeël getref is en plat op die vloer lê. En om dinge te vererger, weet die kykers nog nie of Rossouw dit lewend uit dié tragedie gaan maak nie.



Hats off vir Izak wat so ongelooflike karakter geskep het en na hierdie skiettoneel toe kon bring. Ek en Christel was op ’n stadium ’n bietjie skrikkerig vir Schalk,” verduidelik Altus.

“Izak het lekker all guns blazing die toneel aangepak en dit was werklik intens.”

Toe die toneel egter verby was, is dit die saggeaarde Izak wat Altus eerste van die vloer af opgehelp het.



Marco kom gelukkig net betyds by hul huis aan om sy ma se lewe te red. In ’n emosionele toneel oorreed hy vir Schalk om vir hom die geweer te gee, sodat hy vir sy ma kan skiet.

Dít was egter nooit sy plan nie, want die volgende oomblik tref die geweer Schalk so hard teen die kop dat hy bewusteloos grond toe val.

“Dit is altyd opwindend om sulke groot tonele met jou karakters te doen. Dit daag jou uit as akteur om in só ’n toneel te speel,” vertel Altus.



“Ek self speel nie met die gehoor se reaksie in gedagte nie. Dis hoekom dit altyd so lekker is om ná die tyd te sien wat die kykers se reaksie is.”

Vir nou sit die kykers op die punte van hul rusbanke tuis. Gaan Schalk in die tronk bly? Gaan sy kinders hom kan vergewe? Gaan Rossouw volkome herstel? En indien wel, is daar ná die traumatiese skietvoorval nog plek in sy lewe vir Leandri?

Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Diepe Waters is ook op Catch Up beskikbaar.