Logo
Die Real Housewives van Pretoria - Season 1. Lottostar Kompetisie - R50 000
web uni tv guide

Die Real Housewives van Pretoria

144Realiteit13 L

kykNET bring die Real Housewives-formaat na Pretoria!

Nuus
17 Augustus 2022
Vind meer uit.
RHOP

Dis ’n eerste vir kykNET én ’n eerste vir die wêreld! Aanhangers van die Real Housewives-formaat kan nou uiteindelik uitsien na die eerste Afrikaanse weergawe van die realiteitsreeks wanneer kykNET Die Real Housewives van Pretoria (RHOP) in Oktober bekendstel.

Ses vroue van Pretoria sal nou hulle mooiste en duurste paar stiletto’s afstof om kykers elke Donderdagaand te vermaak: Luukse voertuie, manjifieke herehuise, ontwerpersklere, buitensporige partytjies en die duurste diamante sal alles deel vorm van dié 13-episode reeks teen die agtergrond van Pretoria.

“Dit is ’n voorreg om die bekende internasionale Real Housewives-formaat na kykNET te bring. Die feit dat hierdie reeks afspeel in Pretoria eerder as Lagos of Kaapstad sou altyd vereis dat ons dit anders benader as die ander reekse van Real Housewives wat regoor die wêreld vervaardig is. Ons wil ons kykers ’n groep sterk Afrikaanse vroue uit Pretoria wys wat groot spelers is in hul gesinne én gemeenskappe, wat eg Afrikaans is, en wat natuurlik ook die swier bring waarvoor Real Housewives bekend is. Hierdie vroue lewe gróót. Hulle ken die mooi dinge in die lewe. Hierdie is ’n rare kans om hulle intiem te leer ken, en in hul (hoë hak-) skoene te loop,” sê Waldimar Pelser, direkteur van die kykNET-kanale.

Die Real Housewives van Pretoria is die vyfde weergawe van die Real Housewives-formaat in Afrika wat Johannesburg, Durban, Lagos en Kaapstad insluit. Die formaat word internasionaal deur NBC Universal Formats versprei en het al talle toekennings opgeraap.

“Ons is opgewonde om nóg ’n weergawe van die Real Housewives-formaat na Afrika te bring. Dit is in lyn met ons onderneming om ’n diverse aanbod aan ons kliënte te bied en om voort te bou om plaaslike stories as Afrika se mees geliefde storievertellerte vertel. Die Real Housewives van Pretoria sal niks minder as outentieke vermaak en opwindende inhoud aan kykers bring nie,” sê Nomsa Philiso, uitvoerende hoof van programmering: M-Net kanale.

Die reeks word deur Provoco vervaardig. Provoco het ook realisteitsreekse soos Seks in Afrikaans, Die Siener en Liefde Sonder Grense vervaardig.

“Ek is oortuig dat Die Real Housewives van Pretoria die land aan die gons gaan kry en aan die gons gaan hou. Daar is meer as genoeg oomblikke wat jou sal laat snak na jou asem maar ook wat jou twee keer sal laat dink oor die tradisionele siening dat Pretoria konserwatief en vervelig is!” sê Rian van Heerden, uitvoerende vervaardiger van die reeks.

Sonder om te veel te verklap kan kykers ’n onbeplande resies in luukse voertuie, ’n dramatiese staptog, botox, hiënas, ’n aksie-belaaide reis na Zanzibar en heelwat perde verwag!

Die Real Housewives van Pretoria saai vanaf 13 Oktober om 20:00 uit op kykNET DStv-kanaal 144 en sal gelyktydig beskikbaar wees op Showmax.