Logo
Met 'n huppel in die stap
web uni tv guide

Met 'n Huppel In Die Stap

144LeefstylPG

Beveg artritis só – Met ’n huppel in die stap

Nuus
06 Februarie 2019
Draf artritis kaf met hierdie slim voedselkeuses.

deur Charmaine Nel

Wanneer daar gekyk word na die definisie van artritis in die mediese woordeboek, word dit beskryf as ’n toestand van inflammasie van die gewrigte. Daar is geen dieet bekend en beproef wat artritis kan genees nie, maar daar is wel voedsel wat die inflammasie kan verminder, bene kan versterk en boonop die immuunstelsel ’n hupstootjie kan gee. Deur sekere kossoorte by ’n gebalanseerde dieet by te voeg, mag die simptome van artritis verminder. Kom ons kyk na ’n paar van die voedsels.

KYK OOK: BLY SÓ AKTIEF

Vis:
Vis is hoog in Omega 3-vetsure. Dit is juis hierdie komponent wat artritis kan help teenwerk. Probeer om ten minste twee porsies van 90 tot 120 g vis weekliks by die dieet in te sluit. Vissoorte wat veral ryk is aan Omega 3-vetsure sluit in salm, tuna, makriel en haring.

Soja:
As jy nie lief is vir vis nie, is ’n goedkoper keuse sojabone. Sojabone is laag in vet, hoog in proteïen en vesel. Sluit weekliks ’n porsie hiervan by die dieet in. Met die ekonomie wat druk, kan dit ’n uitstekende bron van proteïen wees vir “vleislose Vrydae”.

Natuurlike plantaardige olies:
Ekstra suiwer olyfolie is gelaai met gesonde vette. Dit bevat ’n natuurlike komponent wat soortgelyke eienskappe het as wat daar in antiinflammatoriese medisyne is. Avokado-olie en saffloer-olies kan ook gebruik word. Hierdie olies kan boonop cholesterolvlakke verlaag.

Bessies:
Navorsing het getoon dat die gereelde inname van bessies in die dieet aanvalle van jig aansienlik kan verminder, onder meer aarbeie, frambroos, bloubessies en braambessies. Koop bessies aan wanneer hulle in seisoen voorkom. Bessies kan ook verpulp word en met sukses gevries word.

Suiwelprodukte:
Suiwelprodukte in die vorm van melk, jogurt en kaas is uitstekende bronne van vitamien D en kalsium. Vitamien D, wat noodsaaklik is vir die opneem van kalsium, speel ’n uiters belangrike rol in die versterking van bene. Waar moontlik, kies die laevet suiwelproduk bo die volvet. Indien suiwelprodukte nie met jou akkordeer nie, probeer om ander goeie bronne van kalsium en vitamien D in die dieet in te sluit, soos groenblaar-groentes. Hierdie kossoorte is veral ’n buffer teen osteoartritis.

Brokkoli:
Brokkoli verskaf vitamien K en vitamien C. Daar is ’n komponent, sulforafraan, wat in brokkoli voorkom, wat osteoartritis teenwerk. Brokkoli bevat ook kalsium watbeneversterk.

Groentee:
Groentee is besonders hoog in antioksidante wat inflammasie verminder. ’n Sekere antioksidant, wat uniek is aan groentee, voorkom dat molekules vorm wat die gewrigte beskadig. Vervang dus ’n paar koppies gewone tee met die gesonder groen alternatief.

Sitrusvrugte:
Dit is ’n mite dat die inname van sitrus- vrugte artritis kan vererger; dit het juis die teenoorgestelde effek. Vars lemoene, pomelo’s en lemmetjies is besonder ryk aan vitamien C. Deur die regte hoeveelheid vitamiene in te neem, word inflammatoriese artritis voorkom en word die gewrigte beskerm. Suurlemoen alkaliseer ook die pH van jou liggaam en voorkom die opbou van sure.

Droëboontjies:
Droëboontjies is baie hoog in vesel en het die vermoë om die teenwoordigheid van C-reaktiewe proteïen, wat ’n aanduiding van inflammasie in die liggam is, te verlaag. Droëboontjies bevat ook foliensuur, magnesium, yster, sink en kalium wat positief inwerk op die immuunstelsel. Trek die droëbone nader en gebruik dit in ’n voedsame sop, veral in die kouer wintermaande wat voorlê. Rooiboontjies en stamboontjies is uitstekende keuses.

Knoffel:
Knoffel, uie en preie is almal van dieselfde groentefamilie en kan vroeë simptome van osteoartritis teenwerk. Navorsers is dit eens dat knoffel ’n verbinding bevat wat die vorming van daardie ensieme wat liggaamselletjies beskadig, verminder. Gebruik knoffel en uie daagliks in die voorbereiding van kos. Nie net dra dit by tot die heerlike smaak nie, dit help ook om inflammasie teen te werk.

Daar is natuurlik ook kossoorte wat heeltemal vermy moet word wannneer daar enige teken van artritis is. Dit sluit in:

  • Suikerenversadigdevette
  • Transvette(byprodukwanneerolies aan hoë temperature blootgestel word – kom veral voor in kitskosse)
  • Verfynde koolhidrate
  • MSG (smaakmiddel)
  • Gluten (kom veral voor in koring) 
  • Aspartaam (kunsmatige versoeter)
  • Deur sterk te staan en die regte voedselkeuses te maak, kan jy beter gesondheid verseker, iets wat al hoe belangriker word soos wat die lewensjare aanstap.

Charmaine Nel is ’n dieetkundige by Freedem.

KYK OOK: BEPLAN SÓ VIR DIE TOEKOMS

Skakel Woensdae om 18:00 in op DStv-kanaal 144 vir Met ’n huppel in die stap. Gesels saam op FacebookTwitter en Instagram met die hutsmerk #HuppelStap​.