Logo

Coenie in 'n Ander Wêreld

Nuus
25 Maart 2015
In die nuwe kykNET dokumentêre reeks ‘n Ander Wêreld – met Coenie, nooi gesoute en bekroonde aanbieder Coenie de Villiers kykers om plekke en mense te besoek wat hulle moontlik nie normaalweg sou doen nie.
anderwereld_logo_float-black

In die nuwe kykNET dokumentêre reeks ‘n Ander Wêreld – met Coenie, nooi gesoute en bekroonde aanbieder Coenie de Villiers kykers om plekke en mense te besoek wat hulle moontlik nie normaalweg sou doen nie.  Hierdie onbekende wêrelde verg nie dat kykers op ‘n vliegtuig klim om na ‘n ander land te reis nie: dis ‘n “ander” wêreld wat vlak onder die oppervlak van ons daaglikse bestaan lê.  Die program stel ons voor aan mense wat hulle harte oopmaak oor hulle eie  bestaanswerklikheid.  Dis dikwels ‘n wêreld waaroor ‘n mens wonder, maar waaraan ‘n mens min aandag gee.

*Lees meer oor Coenie en kyk na 'n voorskou van episode een.



In hierdie reeks neem Coenie die kyker onder meer op reis na die wêreld waar

-Die handjievol handlynvissers aan die Weskus nog snoek vang met ‘n handlyn

-Die ridders van die langpad die roetes van ons land in hulle trokke deurkruis

-Spierbouers en hokvegters wys wat ‘n mens met jou spiere kán vermag

-Petrolkoppe die woema van perdekrag najaag en alles sal doen vir die sensasie van perdekrag

-Die Kaapse gemeenskap voorberei vir die Kaapse Klopse en sing soos net hulle dit kan doen

-Fopdossers hulle harte en huise oopmaak om lig te werp op die skemerwereld waar die manne, wel, ‘n bietjie ánders is

-Boemelaars en bergies ons daaraan herhinner hoe dikwels die dice verkeerd val vir so baie mense

-Noodwerkers onder helikopters hang en met loeiende sirenes nagdeur werk om mense te help

-Mense met Down Sindroom vreugde bring aan die lewens van andere

-Digters en skrywers kwarts en half-edelgesteentes uit die rots moet kap om aan die lewe te bly

-Sommige broodwinners daagliks doodsveragtende werk moet verrig om brood op die tafel te sit

-Delwers met drome in hulle oë nog kromrug oor ‘n pan en sif wag op die blink van geluk

-Sommige van ons land se bekendstes ons aan hulle baie persoonlike ervaring van die Karoo voorstel.

Hierdie is ‘n kwaliteitsreeks van uurprogramme wat ‘n nuwe standaard in persoonlike joernalistiek daarstel.  Die eerste program word uitgesaai op 12 April 2015 om 20h00.  Kykers moet dit nie misloop nie!