Logo
Magda Louw Slim BB NEW
web uni tv guide

Magda Louw

144Komedie13 SL

kykNET se trefferkomedie "Magda Louw" terug in Januarie

Nuus
10 November 2023
Die tweede seisoen van "Magda Louw" word van Maandag 1 Januarie 2024 om 20:00 op kykNET uitgesaai.
Magda Louw Article Image S2

2024 gaan op ’n hoë noot vir kykNET-kykers begin, wanneer die tweede seisoen van die gewilde Magda Louw-komediereeks, met die nimlike Desiré Gardner in die titelrol, op Nuwejaarsdag afskop.

“Die gevoel van die reeks gaan dieselfde bly: Lag met ’n traan . . .” beloof Desiré. Sy sê sy hoop mense hou van Magda omdat hulle met haar kan vereenselwig. Dalk ken iemand ’n Magda soos haar karakter, of dalk is iemand sélf opgesaal met Magda Louw se lewe.

“Die meeste van die temas, wat met ’n tong in die kies – en ’n knop in die keel aangeraak word – is temas waarmee ons onsself kan vereenselwig en verstaan. Dinge soos oudword, tyd wat verbyjaag, leë nes-sindroom, die huwelik en die dood,” sê sy.

Volgens Desiré gaan kykers die tweede seisoen Magda se gesin beter leer ken. 

’n Hele paar misverstande duik op – en die groot vraag is natuurlik met hoeveel drama Magda daarop gaan reageer.

Die groot tameletjie, wat Magda en haar man, Erhard (Hannes van Wyk), in die tweede seisoen moet trotseer, is iets wat sy nooit in haar lewe wou doen nie. Sy noem dit haar “Job Hoofstuk 30 . . .” Hulle is genoodsaak om bakhand voor haar seun, Baltus (Bennie Fourie) te staan vir verblyf – “voor die een wat sy gebaar het” – en sy tuin woonstel is hul voorland.

“Ek dink die grootste boodskap van Magda Louw, veral in dié seisoen, is dat die lewe so onvoorspelbaar is dat jy nooit weet wat môre gaan gebeur of wat oor jou pad gaan kom nie,” sê Desiré.

Daarom is dit belangrik om te besef dat baie meer mense, ook diegene met hul perfekte maskers, dalk deur dieselfde vrese in die gesig gestaar word en ook sukkel met onsekerhede en lief en leed – nes enige ander mens.

“Ons is eenders in ons andersheid en dit is een van die mees gerusstellende waarhede van die lewe.”

“Maak nie saak wat jy doen nie, hoe mooi jy oudword, hoe gesond jy leef of hoe baie ons van mekaar verskil nie, die een ding is seker: Ons almal word oud. En ons is almal net tydelik hier, terwyl ons almal sukkel om elke oomblik te waardeer en werklik te ervaar.”

Meer oor Desiré Gardner & Magda Louw

  • Kykers het Desiré leer ken in die sepies Suidooster (Carmen Fourie) en Binnelanders (Daleen Jonker), asook die fliek Roepman (Erika Rademan).
  • Desiré vertolk nie net die titelrol nie, sy is ook die draaiboekskrywer van Magda Louw.
  • Sy het dit eers as eenpersoon-verhoogproduksie geskep voordat kykNET dit in 2021 as ’n storiefilm opgeraap het.
  • Vanjaar het die Magda Louw-verhoogstuk by die jaarlikse Suidoosterfees herleef.
  • Na afloop van die Suidoosterfees, het Desiré landwyd met die verhoogstuk getoer.
  • By vanjaar se Silwerskermfees, is Desiré is as die beste akteur in ’n komedie (vir die toekennings vir televisie), vir haar spel in die eerste seisoen van die reeks aangewys.

Die tweede seisoen van Magda Louw word van Maandag 1 Januarie 2024 om 20:00 op kykNET uitgesaai