web uni tv guide
web uni tv guide

Op Pad Met My Potjie

144DramaPG

Groenpampoenpotjie en potbrood: Noordoewer – Op pad met my potjie

Nuus20 Februarie 2026
Probeer gerus dié resep!
Op pad met my potjie S2 Ep 13 Article Image

Potbrood

2,5 kg wit broodmeel

250 g plaasbotter)

1 eetlepel sout

1 eetlepel suiker

10 g kitsgis

ongeveer 6 to 7 koppie louwarm water

 

Plaas die meel in ’n groot mengbak. Maak ’n holte in die middel en voeg die gis, suiker en sout by. Meng. Voeg die water geleidelik en meng tot daar nie meer droë meel oor is nie.

Knie die deeg vir ongeveer 10 minute tot dit glad is en nie meer aan jou hande kleef nie. Smeer ’n potjie en die onderkant van die deksel goed met skaapvet. Plaas die deeg in die potjie en laat dit vir ongeveer 30 minute rys. Plaas die potjie op warm kole en plaas sewe kole op die deksel. Bak vir 1 uur tot gaar. Maak so nou en dan seker daar is genoeg eweredige hitte vir die brood om egalig te bak.

 

Groenpampoenpotjie

1 medium groenpampoen

8 medium uie

9 medium aartappels

2,5 kg lamsnekstukke
½ blikkie tamatie-en-uie mengsel

25 g hoenderroomsoppoeier

50 g uieroomsoppoeier

1 groot prei, in ringe gesny

100 – 150 ml kanola-olie

20 ml groenteaftrekselpoeier

1 eetlepel suurlemoen-en-peper geursel

1 eetlepel sout en peper

1 eetlepel BBQ-speserye

 

Skil en kap die ui fyn. Skil die pampoen en aartappels en sny in blokkies. Hou eenkant.

Plaas die potjie op die warm kole. Wanneer die potjie warm is, voeg 100 ml van die olie by en braai die uie tot deurskynend. Skep uit en hou eenkant.

Voeg meer olie by indien nodig en braai dan die lamsnek. Geur dit met sout en peper, sit die deksel op en laat die vleis vir ongeveer 5 tot 7 minute verbruin. Roer elke nou en dan sodat al die kante bruin bak.

Skuif die vleis eenkant toe om plek te maak vir die res van die bestanddele. Begin nou die lae pak. Begin met van die uie, dan helfte van die aartappels. Sprinkel met die BBQ-speserye en herhaal nog ’n laag uie en aartappels. Voeg water by en laat dit met die deksel op kook tot die aartappels begin sag word.

Voeg ’n laag groenpampoen by asook die res van die uie. Geur met die suurlemoen-en-peper geursel. Voeg nog ’n laag groenpampoen by tot die pot amper vol is.

Voeg die tamatie-en-uie mengsel en prei by. Laat die potjie met die deksel op vir 90 minute op prut. Skep dan sowat 150 tot 200 ml van die vloeistof uit en meng die dit met die soppoeiers tot dit glad is. Voeg dit weer by die potjie.

Lig die bestanddele liggies op sodat die sous tot onder die pot vloei. Sit die deksel op en laat dit vir nog 20 tot 30 minute prut.

Bedien warm saam met die potbrood.

 

Skakel Vrydae om 18:30 in vir splinternuwe episodes van Op pad met my potjie. Jy kan ook saam gesels op FacebookInstagramTikTok en X deur die hutsmerk, #OpPadMetMyPotjie te gebruik.