Wat is jou beroep?
Ek het in Junie 2024 uit die korporatiewe wêreld getree, waar ek in uitvoerende posisies was. Ek het van ’n berg afgespring en my vlerke gesprei.
Tans is ek ’n entrepreneur en doen waarvoor ek “Liz” is. Ek lewer motiveringspraatjies (“Liz vir praat”), leer tieners kook (“Liz vir kook”), kook vir mense by hulle huise (“Liz vir huiskos”) en kook vir partytjies (“Liz vir partytjie”).
My kliënte kom haal daagliks kos, koekies en beskuit by my huis. Enige iets – “net waarvoor hulle Liz het”.
Ek is ook in vennootskap met UKUBALEKA, ’n reisagentskap. Ons ontvang buitelandse vroue en bederf hulle met eg Suid-Afrikaanse glans. Op reis deur ons mooi land, leer hulle Suid-Afrikaanse kookkuns en besoek ons toerismejuwele.
Hoekom het jy vir Kokkedoor Vuur & Vlam ingeskryf?
Ek het ingeskryf oor ek Liz is. Ek is “Liz” vir braai, kook, bak en kos. My ouma het as kind nie vir my stories nie, maar resepte gelees en my verbeelding geprikkel met moontlikhede vir die kombinasie van bestanddele.
Ek het ’n inherente passie vir goeie, mooi kos. Na ’n hoë-intensiteitwerkdag kook en bak ek my flou of lees ’n resep of kostydskrif. Ek het geglo Kokkedoor Vuur & Vlam sal my passies bymekaarbring en my die geleentheid bied om te wys hoe lief ek vir kookkuns is.
Ek wil baie graag mense met kos inspireer.
Hoe sal jy jouself beskryf?
Ek is ’n passievolle, oordadige ekstrovert wat lief is vir mense, uitdagings en altyd op soek is na oplossings. Ek glo daar is altyd ’n uitkoms vir elke situasie. Ek is al deur baie diep waters en getoets onder taai werksomstandighede waar ek baie verantwoordelikheid moes neem.
Soms sit ’n mens se stoei in die lewe nie in jou lyf, kop of buitekant nie, maar in jou beursie en werk – die twee plekke waarvoor mense nie genade het nie en maklik oorsien en waarvan die meeste mense nie wil hoor nie, en ook nie oor wil praat nie. Maar ek is “Liz vir praat” en my storie deel.
Die stoei-omstandighede in my lewe het my leer oorleef, om empatie te hê met mense en altyd verantwoordelikheid neem. Ek het besef ek haat roetine.
Ek het geleer my huismense en my familie is my rotse, en my vriende my cheerleaders en dat elke netwerkskakel in jou lewe ’n baie belangrike stukkie van die legkaart is. Ek is altyd myself, dra my hart op my mou, lewe uitbundig en gee altyd meer as 100%.
Iets interessants oor jou?
Ek hou baie van praat – ek het my eie radioprogram gehad op die ouderdom van 15 jaar en is superlief vir toneelspeel. As student was ek deel van ’n Kovsies-toneelgeselskap wat tydens die KKNK opgetree het. Ek het gedroom van filmskool. Ek skryf ook my eie eenvrouproduksies en voer dit graag op.
Ek het al deelgeneem aan ’n verskeidenheid uitdagende dinge:
Mev. Styl SA 2008 – (naaswenner)
My Kitchen Rules 2017 (vyfde plek )
Motiveringspreker sedert die ouderdom van 18 jaar
Ek het die eerste Sjokolade & Koffiefees in Suid-Afrika aangebied
Golden Footprint-toekenning (goud)
Wat is jou lewensmotto?
Daar is altyd ’n oplossing vir alles en altyd ’n uitweg.
Wat het jy van jouself tydens jou deelname aan Kokkedoor Vuur & Vlam geleer?
Hoe lief ek regtig vir kosmaak is en dat dit ’n diepgewortelde passie van my is. Nou dink ek net in kostaal.
Jou nommereen-braaiwenk?
Pas jou vuur op soos ’n baba.