Logo

Mrs J se vinnige vetkoek vis-burgers

07 Oktober

Lewer 6 porsies

Seekos

3

Maandagaand is viskoekie-aand in Mrs J se huis.

Mrs J  VINNIGE VETKOEK-VISBURGERS -1
Bestanddele

Vir die vetkoekies

250 ml Koekmeel

5 ml Bakpoeier

2,5 ml Sout

1 Eier, geklits

125 ml Melk

Olie, om in te braai

Vir die viskoekies

2 x 425 g Blikke ingelegde vis, goed gedreineer

1 Klein ui, fyngekap

Handvol pietersiele, fyngekap

250 ml Bruismeel

Sout en peper, na smaak

Asyn, na smaak

2 Eiers

Mieliemeel, vir oorstrooi

Olie en klontjie botter, vir pan-braai

Metode

Toe Bridgette en Lee-Ann nog op skool was het hulle Dinsdae die orige vis-‘patties’ met blatjang op brood in die kosblik gekry. Sny ’n keep in die vetkoekie, stop dit met ’n viskoekie en komkommer-suurtjies of ’n skeppie tamatie-en-rooi uie-slaai.

Om die viskoekies te maak: 

Druk die vis fyn met ’n vurk. Gooi die uie, pietersielie, bruismeel, sout, peper en ’n bietjie asyn by. Breek die eiers in en meng goed deur. Vorm viskoekies en druk dit plat met ’n maat-bekertjie. Strooi alkant met mieliemeel. Braai die viskoekies in ’n pan met vlak olie en ’n klontjie botter tot gaar en bruin aan beide kante. Hou warm.

Om die vetkoekies te maak: 

Sif die meel, bakpoeier en sout saam in ’n mengbak. Meng die geklitste eier en die helfte van die melk saam met die droë bestanddele tot glad. Voeg die res van die melk by om ’n slap beslag te vorm. As die beslag te dik is, verdun dit met ’n bietjie water.

Gooi net genoeg olie in die pan om die boom te bedek en maak dit warm oor matige hitte. Skep lepels vol van die beslag in die warm olie en braai aan albei kante tot gaar en goudbruin. Hou jou hitte mooi dop, want as die olie te warm is raak dit te gou bruin terwyl dit nog rou binne is. Dreineer dit op kombuis-papier.

Mrs J se viskoekie-trieks:

  • Maak jou hande klam, dan sit die vis nie vas as jy die viskoekies rol nie.
  • Sprinkel die gevormde viskoekies eers met meel of mieliemeel voor jy dit bak. Dit keer dat die koekies uitmekaar val.
  • As jy nie ’n kleefvrye pan het nie, spuit eers die  pan met kombuis-sproei voor jy die olie ingooi.
  • Jou pan moenie te warm wees nie. Bak dit op lae hitte.
Mymoena_DENNINGVLEIS
Suidooster Poster2
2019-10-01

Mymoena se denningvleis

Gewildste Resepte