Logo
kykNET_Juffrou_X_Slim_billboard
web uni tv guide

Juffrou X

144Drama16 VL

Splinternuwe programme waarna jy kan uitsien dié Mei op die kykNET-kanale

Nuus
02 Mei 2024
In Mei verskaf kykNET weer kykstof vir elke smaak en belangstelling onder die son – van drama tot realiteit, en leefstyl tot aktualiteit.
Juffrou X

Die nuwe dramareeks Juffrou X het afgeskop, die stadsjapies vind hulle voete in Plaasjapie, en dis tyd vir Suid-Afrika se algemene verkiesing. In Mei verskaf kykNET weer kykstof vir elke smaak en belangstelling onder die son – van drama tot realiteit, en leefstyl tot aktualiteit.

Juffrou X

Dinsdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144), asook op DStv Stream.

Haar passie is wiskunde en om vir kinders die beste moontlike kanse te bied, maar in die eerste episode van Juffrou X, wat op 30 April uitgesaai is, het die onderwyseres Inge Bester (Trix Vivier) reeds besef dat invloede van buite, wat bendes en dwelms insluit, ’n invloed op haar leerlinge het.

In die tweede episode ondervra die polisie Inge en die matriekleerling Archie Samuels (Gershwin Mias), maar die Matchbox Boys is ook op haar spoor. ’n Onwettige vuurwapen lei tot ’n onverwagse alliansie en ’n poësie-aand, wat deur die idealistiese onderwyser Cameron le Roux (De Klerk Oelofse) gereël word, eindig nie soos wat hy gehoop het nie.

Clayton Evertson (Arendsvlei, Spinners) speel die rol van Jerome Smith, ’n sekuriteitskonsultant met ’n paar skaduwees in sy verlede en die pa van een van Inge se matrieks. Ná ’n tragiese insident onderneem hy om die skool te help beskerm.

Clayton het ’n paar vrae oor die reeks en sy rol beantwoord:

Hoe sal jy Juffrou X beskryf?

Vir my is dit ’n reeks oor verlies en hoe daardie verlies mense nader aan mekaar bring – mense wat genoeg gehad het en nie meer daardie verlies wil ervaar nie. Maar dit is ook ’n reeks oor liefde, vriendskap, gemeenskap en familie.

Hoekom moet mense dit kyk?

Dis ’n reeks vol emosie, maar daar is ook aksie. Dit is ’n ongelooflike rolverdeling, en Tertius Kapp, die skrywer en regisseur van Juffrou X, het ’n merkwaardige draaiboek geskryf. Ek het al van Tertius gehoor, maar dit is die eerste keer wat ons saam gewerk het. Ek glo kykers gaan van die eerste tot die laaste oomblik vasgevang wees.

Wat het jy die meeste van die verfilming geniet?

Om weer saam met Trix [Vivier] te werk. Ons was in 2017 saam in die kortfilm Versnel, maar het tot Juffrou X nie weer die kans gehad om saam te speel nie. Trix sit alles in en is baie gefokus. Om saam met iemand soos sy te kan werk, moet jy die uitdaging aanvaar om by te bly. Haar karakter is kompleks, en ek dink sy het uitstekende spel gelewer. Sy is ook ’n wonderlike mens, en ek het hoë agting vir die erns waarmee sy haar rolle benader.

Beskryf jou karakter in drie woorde.

’n Pa, fragile en ’n fighter.

Watter onderwyser of onderwyseres het die grootste invloed op jou lewe gehad?

Ek het op laerskool, in graad 5 en 6, ’n onderwyseres gehad, Juffrou Carew. Ek het soms moeilikheid gemaak, maar sy was die enigste een wat seker gemaak het ek bly op die regte pad. Sy het tyd gevat en haar arm om my gesit en vir my leierskapposisies gegee. Sy was die strengste juffrou in die skool en niemand wou by haar in die klas gewees het nie, maar sy was die beste juffrou by wie ek kon wees. Ek wens ek kan haar sien en vir haar vertel watter goeie invloed sy op my gehad het.

 

Plaasjapie

Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144), asook op DStv Stream.

2 Mei

Spanning loop hoog wanneer albei spanne moet uithaal en wys in ’n baie belangrike gekombineerde uitdaging vir veiligheid en beloning. Wie gaan nie die mas opkom nie?

9 Mei

Groenkloof en Oranjezicht hou ’n boeresportdag. ’n Bekende gas beoordeel die uitskop-uitdaging saam met Ewan, en iemand se doppie word geklink by ’n emosionele koöperasie-kuier.

16 Mei

Die spanne moet die pot aan die kook hou om kos-ghoeroe Herman Lensing te beïndruk. ’n Halsstarrige koei en ’n gekarring sorg vir konsternasie, en nog ’n deelnemer kry die trekpas.

23 Mei

’n Deelnemer kry ’n nuwe tuiste, en die spanne spook om hulle skape onder die wakende oog van ’n geliefde boer in die kraal te kry. ’n Moeilike besluit sorg vir drama by die koöperasie-kuier.

30 Mei

Watter een van die stadsjapies staan die grootste kans om as die wenner van die R1 miljoen uit die stryd te tree?

In die sop

Woensdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) asook op DStv Stream.

In die sop skop in Mei af met Bertus en Misi wat vir Annalet in die hartjie van Philadelphia help om nuwe lewe in haar restaurant te blaas.

  • Het jy geweet? Bertus is op 12 April 1979 in Kaapstad gebore, maar het in Polokwane, Mbombela en eMalahleni grootgeword. Hy het op ’n jong ouderdom saam met sy ma in die kombuis begin kook en is ná skool Londen toe waar hy, onder meer, by die Michelin-bekroonde restaurant Chez Bruce gewerk het. Terug in Suid-Afrika het hy ’n spyseniersonderneming begin voor hy verskeie restaurante oopgemaak het. Bertus is in 2019 as Eat Out se sjef van die jaar aangewys.

Bewonder en bewaar

Sondae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) asook op DStv Stream.

5 Mei

Bonné vind uit hoe ’n wildlewe-sensus werk deur tyd saam met die SANParke-ekoloog Cathy Greaver te spandeer terwyl sy en haar span ’n uitgebreide lugopname binne die Krugerwildtuin onderneem.

12 Mei

Bonné besoek die asemrowende Grand Teton Nasionale Park, tuiste van ikoniese bere, waar beerbioloog Justin Schwabedissen van die Amerikaanse Parkediens meer deel oor Amerika se geliefde bere.

19 Mei

Bonné kyk saam met die wêreld se voorste kaak- en gesigveearts, professor Gerhard Steenkamp, na Onderstepoort se ryk veeartsenykundige onderrigtradisie terwyl hy aan poemas en luiperds werk.

26 Mei

Bonné neem sitplek in langs SANParke se hoofvlieënier, David Simelane, tydens ’n wetenskaplike operasie in die noorde van die Krugerwildtuin, waar hy die helikopter deur “dead man’s curve” vlieg.

Sepies

Binnelanders

Weeksdae om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Steve weet nie wat om oor ’n situasie met Vicky te doen nie. Anje Staal se verhale bereik groot hoogtes, en Nicolette onderskep iets baie waardevols by iemand uit haar verlede. Conrad en Tertius is beide verward oor ’n besluit wat Tracy neem, en Annetjie word oor die kole gehaal. Diamante word getoets, iemand is op soek na Karen, en Leah word in Binneland opgeneem. Liam se passie dryf hom tot aksie én ’n besluit wat almal verras. Iemand word in Mimi’s aangeval, en Conrad deel ontstellende nuus met Tertius. Brenda is terug, Nicolette se niggie kom kuier, en Naomi besef kantoorwerk is nie vir haar nie.

Suidooster

Weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145).

Danni besluit dis tyd om Ruiterbosch te groet, en dit veroorsaak nog meer spanning tussen Siya en Bridgette. Nazeem sit hul verskille opsy en besluit om kragte saam te snoer om Tim se gekonkel te ontbloot. Gaan Zoë haarself blind hou vir haar man se dade? Tim gaan ook nie sonder ’n geveg ingee nie – benoude katte maak immers benoude spronge. Nazeem se samewerking kom ook met ’n prys vir Bridgette. Gary en Justin stel hul visier in op dieselfde meisie, en hul mededinging om Noelle se aandag mag dalk net selfverwoestend vir die twee vriende wees. Maar het Noelle dalk ’n verskuilde agenda? Susan se pogings om Herschel te help werp vrugte af, en hy kry die kans om ’n nuwe bladsy om te slaan. Almal is egter nie ewe gelukkig met Herschel se teenwoordigheid in Ruiterbosch nie. Daar is ook ’n nuwe inwoner in Ruiterbosch wat dadelik die aandag van die skoner geslag trek. 

Diepe waters

Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Arno het omtrent deur diepe waters gegaan toe sy en Charity se ma, Felicity, weer die pad gevat het. Hy het geglo hy het uiteindelik die kans om ’n sterk verhouding met sy ma te bou. Daarom was haar dade vir hom meer traumaties as wat enigiemand besef. Hy keer terug na die lewe wat hy voorheen goed geken het, en al manier waarop Karla dink sy hom van homself kan red, is om tot uiterstes te gaan. Gaan hul verhouding hierdie groot terugslag oorleef?

Tshepo is aan die einde van April geskud deur die nuus dat Mohavi dringend ’n nieroorplanting moet kry. Hy het eers onlangs sy neef beter leer ken en het uitgesien daarna om ’n sterk band met hom te bou. Al wat Mohavi kan red, is ’n nuwe nier. Sal hy betyds die hulp kry wat hy nodig het?

Dit blyk dat Rossouw nog nie die einde van Candy en Bert gesien het nie. Hulle keer terug op ’n manier wat hy nooit sou kon raai nie. Sal hy weer van hulle kan wegkom?

En dan daag Damian Rautenbach (Luan Jacobs), ’n swem-scout uit Amerika, op. Hy fokus baie op Nina, wat vir haar lekker is, maar sy het ander goed wat haar aandag aflei – soos die vreemde en angswekkende dinge wat met haar en haar gesin gebeur.

Arendsvlei

Maandae tot Donderdae om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145).

Vir die afgelope paar weke probeer Birdy vir Hein oortuig om saam met haar oorsee te trek, maar Hein is huiwerig om Arendsvlei te verlaat. Tot sy verbasing besluit Birdy om sonder hom die pad te vat, en Hein se hart is gebroke. Yvette probeer haar bes om Hein deur die moeilike tyd by te staan en namate tyd verloop, blom dié twee se vriendskap. Sal Yvette haarself weer in Hein se arms bevind?  

Terwyl Lee-Roy se lewe stadig maar seker weer op koers kom, kry hy ’n onverwagse aflewering uit Amsterdam. Vir dae huiwer hy om dié pakkie oop te maak, maar toe hy eindelik die moed bymekaar skraap om te kyk wat sy ma vir hom gestuur het, word die wind uit sy seile gehaal. Devon, Lionel en Janice help hom om die stukke op te tel, maar dan kry hy nóg ’n verrassing: ’n Vriendin daag onverwags in Arendsvlei op met groot nuus. Gaan hy die waarheid oor haar vir sy familie en vriende vertel?

Janice baklei steeds met Desmond oor die winkelsentrum, maar net toe sy wou opgee, sien sy ’n lig aan die einde van ’n donker tonnel. Dit kom egter teen ’n koste. Sal Desmond ingee en die winkeleienaars se aanbod aanvaar, of is hy weer besig met sy plannetjies?

kykNET&kie

Nie net het kykNET&kie (DStv-kanaal 145) op 1 April ’n splinternuwe voorkoms gekry nie, die aangepaste skedule gaan ook vanaf 7 Mei weer eens wys waarom dié kanaal een van die gewildstes is.­­

kykNET&kie het sedert die eerste uitsending op 9 April 2013 nie net die room van kykNET se programme gewys nie, maar ook gesorg vir nuwe inhoud wat eksklusief vir kykNET&kie vervaardig is. Die bekroonde Suidooster, wenner van die Safta in 2022 vir die beste sepie, en die telenovela Arendsvlei het eg Suid-Afrikaanse stories na kykers gebring, ’n rits nuwe talentvolle akteurs in die kollig geplaas en vir ’n reuse-inspuiting in die plaaslike TV-bedryf gesorg. Dan is daar programme soos Sê jou sê, KLOP! en die oorgeklankte Turkse telenovelas wat kykers aan die gons hou.

kykNET&kie se skeduleverandering in Mei sal kykers saans die luukse gee om met uitstekende vermaak terug te sit en te ontspan.

So, sit neer daardie remote control en geniet prima-kykstof in premiumtyd.

  • Binnelanders se twaalfde seisoen begin op Dinsdag 7 Mei om 17:30. Die reeks word van Maandae tot Vrydae uitgesaai.
  • Diepe waters se eerste seisoen is van Dinsdag 7 Mei om 18:00 te sien. In die eerste week word daar ook ’n episode op Vrydag 10 Mei uitgesaai, maar daarna is dit van Maandae tot Donderdae op die lug.
  • Suidooster is steeds van Maandae tot Vrydae om 18:30 op die kassie.
  • Arendsvlei bly van Maandae tot Donderdae in die 19:30-tydgleuf. Die laaste episode van dié grensverskuiwende telenovela, wat vir ses seisoene en 160 episodes gesorg het, word einde Junie uitgesaai. Dit word direk opgevolg deur ’n nuwe telenovela, Skemergrond, wat op Maandag 1 Julie om 19:30 begin. Skemergrond speel af in Gemoedsdrif, ’n klein dorpie in die Wes-Kaap, en draai om die Louw-familie en hulle prag-blomplaas.
  • Die Turkse telenovela Skerpioen se laaste episode word op Maandag 6 Mei om 20:00 uitgesaai. Moederhart, wat tans Maandae tot Donderdae om 17:30 uitgesaai word, skuif vanaf 7 Mei na die 20:00-tydgleuf, maar is steeds van Maandae tot Donderdae op die lug. Hou die nuus dop vir ’n aankondiging oor ’n nuwe Turkse telenovela wat begin wanneer Moederhart tot ’n einde kom.

Ander programme op kykNET&kie wat op elke goeie kyklysie hoort, sluit in:

  • Medies (Dinsdae om 21:30)
  • KLOP! (Sondae om 18:00)
  • Sê jou sê (Sondae om 19:00)
  • Superrugby (Maandae om 21:00)
  • Toks & Tjops (Vrydae om 20:00)
  • eNuus (daagliks om 19:00)

Superrugby, Toks & Tjops en eNuus word al drie gelyktydig ook op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

Sê jou sê

Sondae om 19:00.

5 Mei

Duisende enkelma’s sukkel om papgeld uit die pa’s te kry. Ons het so ’n pa in die ateljee om ’n paar vrae te beantwoord.

12 Mei

Ontstoke inwoners van staatswoonstelle kom raas oor hoe hulle plekke uitmekaarval, maar ons vra: Moet alles vir hulle gedoen word, of kan hulle self ook help?

19 Mei

Dis die grootste krisis vir elke ouer: Ek kan my kind nie in ’n skool kry nie. Hoekom is daar nie plek vir almal nie? Ons praat in diepte hieroor.

26 Mei

Sê jou sê is die saampraatprogram waar daar nie doekies omgedraai word oor al die alledaagse probleme nie en JY jou sê kan sê.

 

kykNET NOU!

STILTETYD

kykNET NOU! (DStv-kanaal 146) skep ’n oomblik Stiltetyd vir elke dag deur geliefde geestelike liedjies te speel. Gun jouself ’n paar minute van stilword voordat jy die storms daar buite aandurf.

Elke oggend, tussen 05:00 en 06:30

KLANKBAAN is die plek om gelukkig en nostalgies te raak met jou gunstelingmusiekvideo’s uit flieks en TV-reekse. Alles van “Ballade vir ’n enkeling” tot “Binnelanders” is op die spyskaart.

Tydgleuwe:

Maandag: 20:00 – 20:30; Woensdag: 15:00 – 15:30; Donderdag 22:00 – 22:30; Vrydag: 12:00 – 12:30; Saterdag: 17:00 – 17:30

GOUE OUES

Die een classic ná die ander. Van Anneli van Rooyen en ABBA, tot Worsie Visser en Anton Goosen. Rina Hugo, Manuel Escórcio, Coenie de Villiers en Lucas Maree. Noem maar op, al die goue treffers speel hier.

Maandae – Vrydae, 10:00 – 11:00; Saterdae, 09:00 – 10:00; Sondae, 16:00 – 17:00

KRAAKVARS

Al die nuutste vrystellings op een speellys.

Maandae, 21:00 – 21:30; Woendae, 19:00 – 19:30 en Saterdae, 18:00 – 18:30

MOEDERSDAG

Vier Moedersdag met hierdie warm, musikale dankie-sê vir alles wat Ma vir ons doen.

Sondag, 12 Mei: 10:00 – 10:30; 13:00 – 13:30; 14:00 – 14:30; 21:00 – 21:30

 

Bly ingeskakel op kykNET, kykNET&kie en kykNET NOU! vir die beste Afrikaanse vermaak. Gesels ook saam op Facebook, XInstagram en TikTok