web uni tv guide
web uni tv guide

Op My Eish!

144RealiteitPG13

’n Skok-afskeid, ’n oop hart en ’n nuwe liefde vir Maritha – Op my eish!

Nuus27 Februarie 2026
In episode sewe van Op my eish! is emosies oopgevlek en ’n besluit is geneem wat die verloop van Ruan se reis ingrypend verander het.
Op my eish S4 Ep 7 Article Image

In episode sewe van Op my eish! is emosies oopgevlek en ’n besluit is geneem wat die verloop van Ruan se reis ingrypend verander het. Die dag het egter op ’n stiller, meer introspektiewe noot afgeskop.

Soos gewoonlik het Ruan en JP eers teruggekyk op die vorige aand se gebeure, voordat die fokus na innerlike refleksie verskuif het. Die dames het elk individuele sessies met die lewensafrigter Liezl Thom gehad – gesprekke wat vir sommige lig en gerustellend was, maar vir ander rou en emosioneel. Trane het vrylik gevloei toe deelnemers soos Jenine, Chantelle en Charlene oopgemaak het oor onsekerheid, spanning en hoe die proses hulle emosioneel begin vang het.

Ná die sessies was daar ’n groepafspraak. Saartjie, Maritha, Cindy-Lee, Chantelle en Jenine het saam met Ruan op klein, opgeblaasde binnebande in die snel vloeiende rivier afgedryf. Wat begin het met senuwees wat duidelik knaag, het vinnig verander in lag, avontuur en kameraadskap toe almal hul reddingsbaadjies aantrek en die rivier aandurf. Daar was rustige oomblikke maar ook adrenalienbelaaide draaie, met ’n vier meter hoë sprong wat vir ’n groot toets van dapperheid gesorg het. Met aanmoediging, ondersteuning en ’n bietjie wilskrag het almal die aktiwiteit egter suksesvol voltooi.

Later, langs die rivier met verversings, het Ruan kans gekry vir individuele gesprekke. Sy alleentyd met Saartjie het gefokus op gemak, geluk en eerlike vrae oor die toekoms –  insluitend kinders en opoffering. Saartjie het ná die gesprek gesê sy voel wel ’n konneksie, maar sy ervaar dit eerder vriendskaplik as romanties.

Terug in die groep het Ruan openlik erken dat dit een van die gemaklikste groepafsprake was wat hy nog beleef het – ’n gevoel wat die dames beaam het. Maar in hierdie gemoedelike stemming het die episode se grootste skok gevolg.

Ruan het Maritha eenkant toe gevra vir alleentyd. Wat aanvanklik ’n rustige bespreking oor die groepdinamika was, het skielik ’n ernstiger wending geneem toe Ruan haar meegedeel het dat hy haar huis toe gaan stuur. Hy het verduidelik dat hy sterker konneksies met ander vroue ervaar en dat hy homself belowe het om nie met iets voort te gaan as dit nie reg voel nie – al was dit vir hom moeilik.

Vir Maritha was die oomblik onverwags en diep emosioneel.

“Toe Ruan my huis toe stuur, was ek redelik geskok en natuurlik teleurgesteld, maar ek het ook onmiddellike vrede ervaar omdat die hele show vir my ’n gebedsaak was. In daardie oomblik maal daar baie vrae deur jou kop, veral omdat jy na jou konneksie met Ruan kyk uit jou eie perspektief – en dan gebeur die teenoorgestelde.”

Sy sê sy het in die dae voor haar afskeid intens gebid oor haar deelname aan die program.

“Snaaks genoeg, so twee dae voor ek huis toe gestuur is, het ek baie gebid oor die show en of dit die regte plek vir my is om te wees. Ek glo daarin dat die Here jou pad beplan en presies weet wat Hy doen.”

Terugskouend erken Maritha dat sy haar misgis het.

“Ek het gedink die konneksie tussen my en Ruan was sterk. Ons was baie gemaklik met mekaar en kon regtig oor enige iets gesels en baie saam lag. Ek dink wel dat ons emosionele konneksie nie so sterk was soos die fisiese konneksie nie, wat van die begin af vir Ruan belangrik was.”

Sy erken ook dat die beperkte tyd en die groepsdinamika ’n uitdaging was.

“Die tyd was ook so kort om iemand behoorlik te leer ken. Ek het tog ’n deel van myself teruggehou gedurende die reeks. Ek sukkel om onmiddellik my hele hart op die tafel uit te lê.”

Wanneer sy vandag na die reeks kyk, doen sy dit met meer perspektief.

“Gedurende die show leef jy half in hierdie bubble-tjie, en baie dinge voel onwerklik en onrealisties. Alhoewel ek in daardie oomblik teleurgesteld was, kyk ek nou daarna en ervaar baie vrede.”

Ten spyte van die hartseer, beskryf sy haar Op my eish!-ervaring as ’n waardevolle lewensles.

“Wat vir my die meeste uitstaan van my reis met Op my eish! is die feit dat ek kon sien being vulnerable is actually beautiful.”

Maritha het kykers verras toe sy vertel het dat sy intussen weer liefde gevind het.

“Ek het intussen iemand ontmoet waaroor ek absoluut mal is. Dit het op die regte tyd gebeur en heeltemal spontaan. Dit maak my hart warm om te weet die Here het presies geweet wat Hy doen, en ek is baie opgewonde vir wat die toekoms inhou. Ek word op die hande gedra, my hart is veilig, ek lag meer as ooit, en miskien bloos ek nog meer as tevore ook. Ek wens vir Ruan presies dieselfde geluk, liefde en butterflies toe. Almal verdien om só te voel.”

Op my eish! word elke Donderdag om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en is ook op DStv Stream beskikbaar