Logo
web uni tv guide

Donkerbos

144Misdaad18 VL

Dis waar jy jou gunsteling “Donkerbos”-akteurs kan sien

Nuus
02 Februarie 2024
As jy gewonder het waar het jy die sterre van “Donkerbos” al gesien het; is hier ‘n lys van hulle vorige werk.
Donkerbos akteur

Is daar 'n akteur in Donkerbos wat jou aandag getrek het? Of dalk is dit 'n bekende wat jy al jare gelede iewers in 'n fliek of TV-reeks gesien het en nou wonder jy: Waarin het dié ene nou weer gespeel?

kykNET het 'n lysie saamgestel sodat jy jou gunsteling akteur(s) se werk kan gaan kyk!

Oor die vervaardigers

Donkerbos, 'n misdaadreeks wat op Showmax in November 2022 ge-première het, is tans te sien op kykNET, DStv-kanaal 144.

Die agt episode-riller, wat 'n ster belaaide rolverdeling aanbied, is deur Nagvlug Films vervaardig. Nagvlug Films is verantwoordelik vir produksies soos Skemerdans, Barakat, Dinge van ‘n kind, SWIRL, Taktiek, Hotel, Nêrens, Noord-Kaap, en Meisies wat fluit.

Die regisseur vir Donkerbos, Nico Scheepers, was verantwoordelik vir die reeks Nêrens, Noord-Kaap, wat die Best Editing: TV Drama by die 2022 SAFTAs gewen het.

Scheepers was ook skrywer en regisseur vir die filmproduksies Die Maan val bewusteloos (‘n kortfilm, fantasie genre); Nêrens, Noord-Kaap (dramareeks); Posbus 1 (dramareeks). Hierdie is almal beskikbaar op Showmax

Oor die hoofkarakters

Erica Wessels as Fanie

Wie is Fanie: Wessels se karakter in Donkerbos moet die leiding neem oor 'n moord-ondersoek waarby ses kinders se lyke gevind is (in die eerste episode). Haar donker verlede in Pretoria spook by haar terwyl sy die waarheid soek in die Limpopo-dorpie, Donkerbos.

Erica is onder meer te sien in Katvis, Een saam, My Father’s WarOm en om, en Deon Meyer se Orion. Jy kan My Father’s War op Showmax stroom. Die flieks Om en om, en Een saam is beskikbaar op DStv Stream.

Sanda Shandu as Tsedza

Wie is Tsedza: Die geheimsinnig Tsedza word aangestel as Fanie se nuwe spanmaat. Fanie vind uit op die dag van hulle ontmoeting dat sy noemnaam “Luiperd” is. Tsedza kom voor as kwaai en nors, maar wys ook ‘n sagte kant terwyl hulle besig is met hulle ondersoek.

Waar het jy vir Sanda gesien: In die reeks Skemerdans as Charlie Ngcobo, wat beskikbaar is op Showmax. Hy is ook te sien in Suid-Afrikaanse flieks soos Mlungu Wam en 1960.

Steph van der Merwe as Kallie

Wie is Kallie: Hy is Fanie en Jaco se seun. Hy en sy ma koester 'n noue band en stuur selfs vir mekaar geheime boodskappe – hulle beoefen die Morse-kode in die geselskap van ander. Kallie is sy ma se rots en hy is vriende met Francois.

Donkerbos is Steph se televisie debuut.

Wilhelm van der Walt as Sybrand

Wie is Sybrand: Hy is Fanie se voormalige "partner" en veg om sy werk terug te kry. Hy speel ook ‘n groot rol in Fanie se persoonlike lewe.

Wilhelm is onder meer te sien in AfgrondEkstra Medium en Soos Gister. Hierdie is almal beskikbaar op Showmax.

Edwin van der Walt as Braam

Wie is Braam: Hy is Sybrand se broer – sy broer se wagter. Hy is ook 'n onderwyser op die dorp.

Waar het jy Edwin gesien: Hy het onlangs die rol, Schalk, in die kykNET-dramareeks Fraksie vertolk. Hy is ook te sien op Showmax in Somerkersfees, Waterfront, Die Pro, Fynskrif, My Father’s War, Hollywood in my huis, Jagveld, Wonderlus, en Klein Karoo 2.

Stian Bam as Wolf

Wie is Wolf: Hy is 'n polisieman op Donkerbos, wat voorkom as iemand wat gou emosioneel raak. Hy is een van die lede op Fanie se span. 

Waar het jy vir Stian gesien: Hy is destyds bekend as Dawid Greeff van 7de Laan, ene Basson Brink in die dramareeks Afgrond, en AO André Fourie in Die Boland Moorde. Jy kan hom ook sien op die volgende Showmax-reekse Afgrond, Waterfront, die kortfilm Luister en die fliek My Father’s War.

Jacques Bessenger as Jaco

Wie is Jaco: Hy is Fanie se man en dit kom voor asof die egpaar se huwelik op die rotse is. Jaco moes sy beroep verander toe hy uit Pretoria trek na Donkerbos. Alhoewel hy ‘n familieman is, lyk dit asof Jaco soms in sy eie wêreld lewe. 

Jacques is onder meer te sien op Showmax in Krotoa, Kanarie, Stiekyt, Hartstog, Lioness, Fynskrif, en Jonathan: Die Movie. Jy kan ook die kykNET dramareeks Hartklop stroom op DStv Stream.

Thoko Ntshinga as Kaptein Didie Baleka

Wie is Didie: Kaptein Didie is die hoof van die Donkerbos-polisiekantoor. Sy hits Fanie aan om die kinder moordsaak te ondersoek. Alhoewel die kindermoorde vir haar op 'n persoonlike vlak diep raak, maak Didie dit haar plig om die waarheid uit te vind.

Waar het jy Thoko gesien: Thoko is die wenner van 'n SAFTA Lifetime Achievement Award. Sy was deel van die DStv-dramareeks The River se rolverdeling (die reeks is beskikbaar op Showmax). Sy word ook onthou as “Donna Makaula” van die M-Net sepie, Egoli: Plek van Goud. Jy kan haar ook sien op Showmax in Die Spreeus en Pinky, Pinky.

Eben Genis as Spook

Wie is Spook: Spook kom gereeld in die moeilikheid by sy werksplek – hy werk saam met Jaco. Sy suster, Pattie, en haar dogter kom woon by hom en kykers vind dan uit oor sy donker verlede.

Jy kan Eben sien op Showmax in die misdaaddrama, Die byl

Nicole Holm as Marietjie

Wie is Marietjie: Sy is die vrou van die afgetrede dominee op die dorp. Sy en haar man is ook huisvriende met Fanie en Jaco. Hulle seuns is vriende. Haar huishulp se kind is vermis.

Waar het jy Nicole gesien: Sy was te sien in die reeks Die Boekklub, wat nou op Showmax beskikbaar is. Sy is ook deel van die rolverdeling vir Straat wat jy op DStv Stream kan stroom.

Nicola Hanekom as Mariaan

Wie is Mariaan: Sy is een van die joernaliste wat die Donkerbos-kindermoorde storie volg. Sy publiseer die eerste foto’s omtrent die ondersoek in die koerant.

Nicola is betrokke onder andere as regisseur en akteur in verskeie flieks soos Die OngenooidesNagvrees,Cut-out GirlsNagvreesVir die voels, en Hollywood in my huis. Hierdie is almal beskikbaar op Showmax.

Leandie du Randt as Pattie

Pattie is Spook se suster. Sy en haar dogtertjie trek by hom in, maar later hoor kykers dat dit ‘n groot fout was – Spook het ‘n donker verlede.

Leandie is te sien op Showmax in Klein Karoo 2, Jagveld, Thys en Trix, Ken jy my nou, Meisies wat fluit,  Hollywood in my huis, Vuil wasgoed, en Mooi rivier. Jy kan haar ook sien op DStv Stream in die leefstylprogram, Slank, asook in die komediereeks Taktiek, dramareeks Hartklop en die fliek Die Groot Dag.

Carel Nel as Abel Roodt

Wie is Abel Roodt: Hy is die nuwe dominee op die dorp. Fanie kry ‘n slegte gevoel oor hom, vertrou hom nie en begin hom as verdagte te ondersoek.

Waar het jy Carel gesien: Hy is deel van die rolverdeling in die oorlewingsfliek, Gaia. Jy kan Carel sien op Showmax in Hartstog, Oedipus die Musical, Slaaf, en Dominee Tienie.

Maak seker jy skakel in vir Donkerbos op Sondae om 20:00 op kykNET. Gesels ook saam op Facebook, X, Instagram en TikTok deur die hutsmerk, #Donkerbos te gebruik.