Logo

Kersvreugde met kykNET op Oukersaand

Nuus
29 November 2023
Kersvreugde met kykNET word op Sondag 24 Desember om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.
Kersvreugde article image

’n Rits topkunstenaars kuier vanjaar op Oukersaand in kykers se sitkamers met die hartverwarmende Kersvreugde met kykNET-konsert. 

Juanita du Plessis, Bobby van Jaarsveld, Early B, Lynelle Kenned, Stiaan Bruwer (Diepe waters), Clint Brink (Binnelanders) en Natasha van der Merwe (Suidooster) is almal deel van dié besonderse Kersfeesviering. Hierdie bekendes word begelei deur 'n meesterlike orkes, onder leiding van een van ons land se voorste musikale regisseurs, Matthys Maree. ’n Sanggroep van Laerskool Unika sing ook saam.

Die kunstenaars deel ‘n paar persoonlike Kersfeesherinneringe en -vreugdes wat liedjies se betekenis verryk en ’n heerlik intieme atmosfeer skep.

’n Pragtige keurspel van geliefde Afrikaanse Kersfeesliedjies, interessante verwerkings van tradisionele Kersgesange en ’n paar onkonvensionele verrassings sorg vir ’n salige Kersvakansiegevoel. Die manlike kunstenaars sing, byvoorbeeld, die verhoog aan die brand met hul weergawe van “Pille vir Kersfees”, terwyl die sepiesterre Stiaan Bruwer en Natasha van der Merwe kykers wegvoer na ’n “Kalahari Kersfees”.

Die verhoog is omring deur feestelik versierde kersbome en indrukwekkende agtergronddekor op LED-skerms, wat elke sitkamer met die atmosfeer van Kersfees vul. Televisieregisseur André Velts sê hy het hierdie kleurvolle verhoog-elemente uitgesoek en dit met ’n lekker huislike sitkamer gekombineer om ’n ruimte te skep wat kykers ’n  betowerende Kersfeesnostalgie kan laat ervaar.  

Soné Combrinck, die uitvoerende vervaardiger, is vreeslik opgewonde oor Kersvreugde met kykNET. “Dit is ’n baie spesiale voorreg om aan die einde van ’n uitdagende jaar weer Jesus se geboorte saam met ons lojale kykNET-kykers te kan vier. Kersvreugde met kykNET is ’n pragtige konsert vol geloof, hoop en liefde.” 

Volgens Clint Brink van Binnelanders-faam was hierdie produksie vir hom ’n geseënde ervaring. Bobby van Jaarsveld het gesê dit was regtig besonders om ’n verhoog met al hierdie lekker mense te deel en dat hy die geleentheid baie waardeer. 

·       Kersvreugde met kykNET word op Sondag 24 Desember om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.