web uni tv guide
Hartklop slim bb
web uni tv guide

Hartklop

144Drama16 L

In die kruisvuur – Hartklop

Nuus01 Augustus 2023
Al die mediese gevalle wat in "Hartklop" deel van die drama is, is gegrond op gevalle wat werklik gebeur het, verduidelik Zoë Laband, die hoofskrywer van dié reeks.
Hartklop article image

In die derde episode van Hartklop was daar weer geen tekort aan drama nie. Dr. Jolene Joubert (Leandie du Randt) het haarself in ’n nagmerrie-situasie bevind. Sy moes met ’n uitmergelende sielewroeging worstel nadat sy die lewe gered het van ’n man wat die oorsaak was daarvan dat ’n dogtertjie in die kruisvuur tussen twee bendes beland het. 

Al die mediese gevalle wat in Hartklop deel van die drama is, is gegrond op gevalle wat werklik gebeur het, verduidelik Zoë Laband, die hoofskrywer van die reeks. 

Moet almal gered word? 

“Die geval wat in episode 3 gebruik is, het in ’n staatshospitaal in die Kaap gebeur,” sê Zoë. “Twee pasiënte is ingebring, beide met skietwonde. Die een was duidelik ’n bendelid en die ander was ’n kind wat in die kruisvuur beland het. Die dokter wat hoof was van ongevalle het geweet die bendelid was verantwoordelik vir die kind se besering, maar hy moes hom soos enige ander pasiënt behandel. Die kind is ongelukkig op die operasietafel oorlede en dit het die dokter geknak. 

“ ’n Paar maande later is die bendelid weer ingebring, maar hierdie keer was hy reeds dood toe hy by die aangekom het. Dit het nie die verlies van die kind minder gemaak nie, maar die dokter het tot ’n mate gevoel dat die man gekry het wat hom toegekom het."

Interessante feit

“Een van die professors met wie ons gepraat het, het gesê die ergste, maar ook die snaaksste ding, wat hy ooit met mediese studente ervaar het, was toe ’n intern ’n suurstofpyp vir ’n pasiënt moes insit en dit nie in sy windpyp gesit het nie, maar in sy keel tot in sy maag. So, in stede van om lug uit te suig, het hy die inhoud van die pasiënt se maag uitgesuig. Hy het natuurlik naar geword, maar het nooit weer daardie fout gemaak nie. Ons het besluit hierdie is iets wat Elani moet deurgaan in haar leerproses,” sê Zoë. 

Christo Davids: Regisseur én karakter

Nie net speel Christo die rol van Sollie nie, hy is ook een van die twee regisseurs van Hartklop

1. Wat was vir jou die grootste uitdaging as regisseur en speler? Moes jy met tye een van die twee opsy skuif? 

Dit was baie moeilik met tye. Ná ek die tonele geblok het – waar ons besluit hoe dit verfilm word en waar almal moet staan – het my mede-regisseur, Harold Hölscher, die toneel hersien en seker gemaak dit werk. Die uitdaging was lekker, maar ook senutergend. 

2. Jy het jou debuut as TV-regisseur op 7de Laan gemaak. Wat is die drie waardevolste dinge wat jy deur die jare geleer het? 

Die storie is altyd koning. As mens die storie deeglik verstaan, kom die res makliker. Dan is dit natuurlik jou werk om die beste uit die akteur te bring. Dis hulle wat op die skerm is. Daarom is dit belangrik dat al die tegniese werk voor die tyd gedoen word sodat jy al jou aandag aan die akteur en spelleiding kan gee. Laastens is dit beslis ’n feit dat jy nie alleen in die oorlog is nie. Daar is baie mense rondom jou. 

3. Wat kan kykers van die res van "Hartklop" verwag? 

Hartklop se storie het baie draaie. Buiten die hoofrolspelers se stories is daar baie om na uit te sien met die mediese dramas. Hoe verbysterend dit ook al mag lyk – hierdie stories is waar. 

4. Was daar van die tonele wat jou maag laat draai het?

Ek dink elke operasie wat ek moes skiet, het my maag laat draai! 

5. Wat is jou planne vir die res van die jaar? 

Ek is besig met die fliek Red Zone. Daarna gaan ek na die Baxter-teater in Kaapstad om die regie van die toneelstuk Orphans te doen. 

Skakel elke Dinsdag om 20:00 in vir 'n splinternuwe episode van Hartklop. Dié reeks kan ook gestroom word op DStv. Gesels saam op FacebookTwitter en Instagram deur die hutsmerk, #Hartklop te gebruik.