Nege hoofkarakters, almal dokters, maar op verskillende plekke in hulle loopbaan en elkeen hulle eie agtergrond en storie. Dít is die basis van Hartklop, kykNET se nuwe dramareeks wat op Dinsdag 18 Julie om 20:00 begin.
Die ses hoofrolle word gespeel deur Simoné Pretorius, Carla Classen, Oros Mampofu, Renate Stuurman, David Louw, Leandie du Randt, Marlee van der Merwe, Jacques Bessenger en Dawid Minnaar. Ander spelers sluit in Christel van den Bergh, Christo Davids, Esmeralda Bihl, Rika Sennett en Franci Swanepoel. Dit was Franci se laaste rol voor haar ontydige dood in 2022.
1. Hartklop is kykNET se eerste mediese reeks waar daar op ’n geval per episode gefokus word. In TV-terme word daar van “procedural” gepraat, met ander woorde daar is ’n probleem, dit word ondersoek en dan opgelos. Binnelanders, wat as dramareeks in 2005 begin het en in 2011 ’n daaglikse reeks (sepie) op kykNET geword het, verskil van Hartklop in die sin dat die mediese gevalle soms oor verskeie episodes behandel is en dat die hoofkarakters die storie gedryf het.
2. Die reeks is deur Zoë Laband geskryf. Sy was onder meer die skrywer en regisseur van die rolprent Pinky Pinky wat by verskeie internasionale filmfeeste te sien was. Zoë het in 2007 ’n beurs gewen om aan die York Universiteit in Toronto, Kanada te gaan studeer waar sy haar meestersgraad (cum laude) in draaiboekskryf verwerf het. Sy het ’n SAFTA-toekenning as beste skrywer van ’n komedie vir Those Who Can’t gewen en was die skrywer van The Girl from St. Agnes wat op Showmax te sien is.
3. Hartklop is in Engels geskryf en deur die meester-vertaler Kobus Geldenhuys in Afrikaans vertaal. Kobus was vir die Afrikaanse vertalings van boeke van onder meer J. K. Rowling, Roald Dahl, C.S. Lewis en David Walliams verantwoordelik.
4. Elkeen van Hartklop se episodes het ’n mediese adviseur gehad en die Afrikaanse tekste is ook deur ’n mediese dokter nagegaan om seker te maak dit is feitlik korrek. Opgeleide teatersusters was deel van die opnames van die operasietonele en het gehelp met die mediese toerusting wat benodig is.
5. Die oorspronklike musiek vir die reeks is deur Dawie de Jager van Klopjag-faam geskryf. Dawie is die broer van Sallas de Jager wat ook ’n filmregisseur en musikant is.
6. Dawid Louw (Dr. Louw van Onselen) en Christel van den Bergh (Anke Dempsey) speel dalk skelm minnaars, maar is in werklike lewe getroud. Hulle is ouers van twee seuns, Daniel en Laudo, en woon deesdae op ’n plaas in die Vrystaat.
7. Dit is nie die eerste keer wat Carla Classen (Dr. Karima Salie) en Simoné Pretorius (Dr. Elani Breytenbach) saam op die skerm is nie – hulle was beide in die fliek Stroomop wat in 2018 vrygestel is. Carla het die rol van Nixie (Ilse Klink se karakter Diona se dogter) gespeel en Simoné was Vivian.
8. Jacques Bessenger (Dr. Daniel Strydom) het in 2003 sy TV-debuut as Mossie in Song vir Katryn gemaak. Song vir Katryn was die eerste oorspronklike dramareeks wat kykNET, wat vir die eerste keer op 15 November 1999 uitgesaai het, vervaardig het. Jacques was intussen te sien in verskeie reekse onder meer Fynskrif, Dwaalster en Donkerbos.
9. Christo Davids is nie net in Hartklop te sien as Dr. Veronica Pietersen (Renate Stuurman) se man, Sollie, nie, hy is ook mede-regisseur saam met Harold Hölscher. Christo, wat in 2008 ’n LL.B-graad aan die Universiteit van die Wes-Kaap behaal het, het reeds in 1994 sy debuut as akteur gemaak toe hy die rol van Dial September in die TV-reeks Onder Engele gespeel het. Christo was ook ’n regisseur op Spoorloos: Die Eiland wat verlede jaar uitgesaai is.
10. Hartklop is in Johannesburg verfilm en die hospitaaltonele is in sale en teater by die Solomon Stix Morewa-gedenkhospitaal in Eloffstraat in Selby en by die Universiteit van die Witwatersrand verfilm. Die Solomon Stix Morewa-gedenkhospitaal was tydens verfilming buite gebruik, maar is intussen weer as hospitaal ingerig.
Skakel vanaf 18 Julie 2023 om 20:00 elke Dinsdagaand om 20:00 in vir ʼn splinternuwe episode van Hartklop op kykNET, kanaal 144. Gesels ook saam op Facebook, Twitter en Instagram deur die hutsmerk, #Hartklop te gebruik.
