Logo

Paella

23 Oktober

8 persone

Braai

2

Paella beteken eintlik ‘pan’ en dit is waar die dis sy naam vandaan kry. As jy nie een het nie, kan ’n swartpotjie werk.

Paella – Jan Braai vir Erfenis
Bestanddele

Soos met die meeste braaigeregte hoef jy paella se bestanddele ook nie presies af te meet nie. Gebruik die bestanddele hieronder as ’n riglyn.

8 Hoenderstukke (dye en/of boudjies)

2 kg Skulpvis (in die skulp)

500 g Vars witvisfilette in blokkies gesny

250 g Gekruide en gerookte wors (chorizo of pepperoni) in skywe gesny

2 sopies Olyfolie

1 Ui gekap

2 Soetrissies opgekap

2 koppies Rys

2 huisies Knoffel gekneus en opgekap

1 teelepel Paprika

1 teelepel Fyn chilli

1 teelepel Borrie

4 Tamaties opgekap

3 koppies Vis-, hoender- of groenteaftreksel

1/2 koppie Swart olywe ontpit

250 g Ertjies

1 koppie Witwyn

1 sopie Pietersielie opgekap

Sout

Peper

Suurlemoenwiggies

Metode
  1. Sit jou paella(pan), ’n ander groot pan of jou swartpotjie op die vuur, en braai die uie en soetrissies in olie vir 3 minute. Jou kole behoort net-net warm genoeg te wees om die uie te kan panbraai. Aangesien die staal van die pan veel dunner is as die yster van ’n swartpotjie, sal die pan meer sensitief wees vir die hitte.
  2. Voeg die rys by en meng deeglik. Al die rys moet ’n baie dun lagie olie om hê, indien nie, voeg nog olie by. Roerbraai die rys vir ’n paar minute in die olie totdat dit ’n dowwe goue kleur kry. Voeg nou die knofel, paprika, borrie, chilli en opgekapte tamaties by en roerbraai dit vir nog so 2 minute.
  3. Sit die aftreksel by en maak die pan toe met sy deksel of met foelie. Die rys moet nou bak totdat dit sag is, wat altesame omtrent 35 minute sal neem. Verminder die hitte onder die pan efens deur ’n klompie kole weg te krap. Jy kan elke nou en dan die deksel oplig om die rys te roer en seker te maak dit brand nie aan nie. As dinge in die pan te stil lyk, krap maar weer ’n paar ekstra kole onder die pan in.
  4. Ná 20 van die 35 minute, voeg jy die seekos, chorizo, olywe en ertjies by die pan se inhoud, meng dit goed en maak weer die pan toe. Die seekos sal gaarword binne die volgende 15 minute. Hou die vloeistofvlak dop en voeg die wyn by as die pan te droog raak. As die wyn klaar by is en die pan is droog, begin jy bietjie-vir-bietjie gewone water byvoeg.
  5. Eenkant – mik om dit saam met die res van die gereg gereed te hê – braai jy die hoenderstukke in ’n rooster op kole. Dit behoort so 20 tot 25 minute te neem.
  6. Wanneer die rys sag is, proe of dit lekker is en voeg sout en peper na smaak by.
  7. Pak die hoenderstukke bo-op die kos in die pan, garneer met pietersielie en suurlemoenwiggies en bedien dadelik.
Untitled design (9)
Poster 320x480
Sub Titel

Spanakopita

Gewildste Resepte