Logo

Katemba potjie

02 Julie

Bedien 6

Braai

Volg dié resep om 'n heerlike Katemba Potjie te maak soos gesien in die eerste episode van #JanBraai seisoen 12. 

Katemba Potjie JBVE S12 Image
Bestanddele

1 sopie olyfolie

1,5 kg ontbeende dikribskyf (chuck steak, in blokkies gesny)

2 uie (opgekap)

2 huisies knoffel (opgekap)

1 sopie paprika

1 t brandrissiepoeier

1 t sout

1 t swartpeper

2 tamaties (opgekap)

1 sopie tamatiepasta

1 blikkie Fitch&Leeds Ginger Ale (Jy kan ook die oorspronklike resep volg en 1 koppie Coke gebruik)

1 k rooiwyn

vars brood (om mee te bedien)

suurroom (opsioneel, om mee te bedien; ’n houer of koppie is meer as genoeg)

varsgekapte kruie (vir garnering; basiliekruid, pietersielie, roketblare of koljander sal almal die ding doen)

Metode

LAAT WAAI!

  1. Verhit die olie in ’n potjie en braai die helfte van die vleis vir ’n minuut of twee. Jy wil regtig net elke stukkie effens seël. Jy hoef nie die vleis te gaar te maak nie en jy hoef dit ook nie aan al die kante te seël nie. Haal die vleis uit die potjie en herhaal die proses met die ander helfte. Wanneer die tweede sarsie klaar is, kan jy al die vleis in ’n bak of bord sit en bedek, waar dit dan kan wag om later weer by die pot gegooi te word.
  2. Roerbraai die uie in die potjie vir omtrent 4 minute totdat hulle sag raak en gooi dan die knoffel by. Uie neem langer as knoffel, so braai altyd eers die uie voordat jy die knoffel bygooi. Dit is algemene raad wat nie net op hierdie resep van toepassing is nie.
  3. Voeg al die geseëlde beesvleisblokkies van stap 1 by. Gooi ook die paprika, brandrissiepoeier, sout en peper by. Wikkel die spulletjie vir ’n minuut lank rond.
  4. Gooi nou die tamaties, tamatiepasta, Ginger Ale en rooiwyn by en roer dat hulle lekker meng. Sit die deksel op, kry aan die kook en laat dan prut oor lae hitte. Jy wil hê die pot moet net baie rustig prut.
  5. Ideaal wil jy hom vir ’n uur rustig laat borrel – dan haal jy die deksel af en laat verder prut tot jy tevrede is dat die sous dik genoeg is. Dit kan solank as 30 minute neem, maar dalk korter. As jy haastig is, gee die pot meer hitte van onder om vinniger te borrel en dat die vloeistof gouer wegkook.
  6. Sodra jy tevrede is met die sous, haal die pot van die vuur af en laat hom staan vir ’n paar minute. Bedien met stukke vars brood wat jy op die vuur gerooster het en lepels suurroom.
  7. As daar dinge soos vars pietersielie, basiliekruid, roketblare of koljander in jou tuin groei, garneer daarmee.

 

Net Koffie
Koffie-geïnfuseerde lamskenkels en boontjies – Net koffie
Sub Titel

Koffie-geïnfuseerde lamskenkels en boontjies – Net koffie

Gewildste Resepte