Logo

Hoe om ’n heel vis te braai, oop

05 Julie

Braai

5

As jy 'n vis oop braai, is ’n groter deel van die vis aan die hitte en braaigeure blootgestel en word hy ook vinniger gaar. Die belangrikste stuk toerusting vir dié resep is ’n toeklaprooster.

Epiosde 1   Visbraai
Bestanddele

1 heel Vars vis bv. geelbek, kabeljou of geelstert

1/2 koppie Botter gesmelt

4 huisies Knoffel gekap

2 heel Suurlemoene se sap

1 sopie Pietersielie gekap

Olyf- of sonneblomolie

Sout

Peper

Metode
  1. Smelt die botter en meng die knofel, suurlemoensap en pietersielie by. Jy gaan dié sous gebruik om die vis mee te bedruip terwyl hy braai.
  2. .’n ‘Oop’ vis het twee kante, ’n vleiskant en ’n velkant. Smeer of verf die olie aan albei kante en maal dan die sout en peper oor die vleiskant.
  3. Sit die vis in ’n toeklaprooster en braai op matige-tot-warm kole met die vleiskant na onder vir omtrent 3 tot 4 minute, totdat die vleis ’n ligte goue kleur kry. Draai nou die rooster om en braai die vis met die vel kole se kant toe totdat hy gaar is. Altesame sal die braaityd tussen 14 en 20 minute wees en afang van die grootte van die vis, die hoogte van die rooster en die hitte van die vuur. Verf die vis deurlopend met die sous wat jy uit die gesmelte botter, suurlemoensap, pietersielie en knofel gemaak het. Al moet jy dit tot ’n minimum probeer beperk, moet jy jou nie te veel daaroor bekommer as die velkant plek-plek efens brand nie – jy gaan nie die vel eet nie. Ek sien visvel as ’n natuurlike tipe foelie.
  4. Die vis is gereed wanneer die vleis wit geword het, van die bene af wegtrek wanneer jy daaraan wikkel en vlok wanneer jy ’n vurk insteek. Onthou die goue reël: As jy dink hy’s reg, is hy waarskynlik reg.

Gewildste Resepte