Logo

Elsje-mari se suurlemoen-lawapoeding

06 Junie

6

Gebak

4

Probeer gerus Elsje-mari se suurlemoen-lawapoeding met bessie-bevrore-joghurt self.

Koekedoortjie_resep
Bestanddele

Bessie-bevrore-jogurt:

2 koppies gevriesde bessies

1/2 k ongegeurde jogurt

2 e heuning

Suurlemoen-lawapoeding:

190 g witsjokolade van Lemongrass & Cilanto van Cocoaffairs (of gewone witsjokolade)

175 g botter in blokkies gesny

1 k koekmeel

3/4 k versiersuiker

1/2 t sout

6 eiers

6 eiergele

2 e suurlemoensmeer

3/4 t vanielje

Suurlemoensmeer:

1 t suurlemoensap

k suiker

60 g botter

1 1/2 suurlemoen slegs die sap

1 suurlemoen slegs die skil

2 eiers geklits

Verglansde bessies:

1/4 k koue water

1/4 k gekookte water

10 g gelatien

1 t suiker

Metode

Elsje-mari sȇ: “Ek wou iets anders maak as die gewone, ryk donkersjokolade-lawapoedings, en was lus vir iets vars en verfrissend. Ek het besluit op ’n suurlemoen-lawapoeding met bessies te maak, want wat is varser as vrugte? Die kombinasie van die geel lawapoedings met die rooi bessies was vir my baie vrolik.”

Maak vooraf die suurlemoensmeer en verglansde bessies. 

Suurlemoen lawapoeding:
1. Plaas ál jou bestanddele gereed en afgeweeg voor jou voordat jy begin.
2. Voorverhit die oond teen 220 °C.
3. Smeer die aluminium dariole-vorms of ramekin-bakkies met gesmelte botter en bedek die binnekant met meel wanneer die botter effens gestol is. Plaas dit in ’n koekpan of op ’n bakplaat.
4. Plaas die witsjokolade en botter in ’n mikrogolfvaste glasbak. Verhit op medium hitte in die mikrogolf vir 30-sekonde-intervalle. Roer na elke interval en herhaal tot gesmelt en glad.
5. Roer die meel, versiersuiker en sout by die sjokolade in.
6. Voeg die res van die bestanddele by en klits goed met draadklitser tot gekombineer.
7. Maak die voorbereide vorms 3/4 vol met die mengsel en plaas in yskas tot gereed om te bak, net voor bediening. Dit kan oornag in die yskas gestoor word.
8. Bak 12 tot 15 minute tot randte goudkleurig is en wegtrek van die kante, en die middel net begin stol. Onthou, hoe langer dit in die yskas was, hoe langer gaan die baktyd wees. Máár slegs 30 sekondes kan die verskil wees tussen perfek en oorbak.
9. Laat dit vir vyf minute in die vorm op ’n draadrak afkoel. Sny die kante versigtig los en keer uit op ’n bordjie.
10. Bedien met bevrore joghurt en verglansde bessies.

Bessie bevrore joghurt:
1. Plaas al die bestanddele saam in ’n voedselverwerker.
2. Blits dit tot romerig.
3. Skep uit in ‘n bak en vries tot gereed om te bedien.

Suurlemoensmeer:
Maak jou eie of kul en koop ‘n botteltjie in die winkel.

1. Meng suiker, botter, suurlemoenskil en -sap saam en verhit stadig in ’n potjie op die stoof tot kookpunt. Roer aanhoudend! (Moenie dit in mikrogolf maak nie.)
2. Verwyder potjie van hitte.
3. Terwyl jy die mengsel vinnig met ’n draadklitser klits, gooi die geklitse eiers in ’n dun straal by.
4. Roer tot mengsel verdik.
5. Gooi in bak en laat afkoel in die yskas.

Verglansde bessies:
1. Sprinkel die gelatien oor die koue water en laat staan ongeveer een minuut.
2. Voeg die kookwater en suiker by bogenoemde en roer tot die gelatien opgelos is.
3. Sit jou bessies op ’n stokkie en doop dit in die gelatien-mengsel.
4. Sit dit op ’n bakplaat in die yskas tot gestol.
5. Herhaal stap 3 en 4 indien nodig.

Koekedoortjie_varkies
Tannie Elizabeth se roly-poly met ’n kinkel
2018-05-09

Tannie Elizabeth se roly-poly met ’n kinkel