Logo
Waterfront Slim Bill
Rolanda Marais

Anna Myburgh

Anna is ’n gedrewe vrou wat die lewe intens ervaar en nie terugdeins vir ’n uitdaging nie. Haar verskeie maskers weerhou haar egter om haar emosioneel aan enige man te verbind.

Kliek op ‘LEES MEER’ indien jy meer wil weet van Anna.

 

 

 

Haar lewe lank loop sy nog haar eie paadjie en verwag niks van niemand nie – ’n onafhanklike siel wat haar verlede en verliese sien, maar soms weier om dit te erken.

As gevolg van die feit dat sy haar seun (Stefan) by sy pa en oupa moes los, loop sy rond met ’n diep skuldgevoel en in oomblikke van swakheid skyn die verwyt helder deur. Die dag toe sy oorsee is, het sy haar familie en al hul drama agter haar gelos – sy kon nie binne die maalkolk perspektief en objektiwiteit kry nie. Of so het sy gedink. Met haar terugkeer sien sy die verval van nie net die familiebesigheid nie, maar ook haar susters en seun se emosionele toestand. Aanvanklik wil sy net haar seun terughê, maar na dit bevind word dat haar pa vermoor is en almal onder verdenking is, word sy geforseer om te bly. Haar paspoort word weggeneem. Deur die verloop van die ondersoek word al die susters verdink van die moord – Anna se paspoort wys sy was ’n paar weke voor Ben se dood in die Kaap – sy’t vir niemand gesê sy kom kuier nie. In die toekomsflits sê sy vir die polisie, sy wou vir Ben kom kuier maar haar moed het haar begewe.

Sy werk tans in Londen by Simonis Voogd, Super Yacht Design Studio, waar sy haar ontwerp vir ’n Catamaran verfyn. Benewens haar graad in Marine-Argitektuur, studeer sy tans ook deeltyds aan ’n D-graad aan die Royal Institute of Naval Architects. (Onbewustelik probeer sy aan haar pa bewys sy is ‘n seiljagontwerper van formaat).

Haar ambivalente gevoelens jeens Ruan bereik ’n hoogtepunt wanneer sy terugkeer en albei besef hul liefde vir mekaar is steeds daar, maar ná meer as twintig jaar is daar net teveel bagasie op elkeen se hart. Hy merk op: “Die dag toe jy loop het jy my nie ’n kans gegee nie en vir ons albei besluit. As jy iemand liefhet, bly jy by hulle.”
OP HAAR BESTE:
Wanneer sy besluit om die verlede te begrawe en ophou om op dieselfde deurgetrapte voetspore te trap. Sy besluit om haar pa se kodes te ontsyfer en uit te vind waarmee hy besig was en wat met hom gebeur het.
OP HAAR SLEGSTE:
Die wete en gepaargaande wrok dat haar pa haar en haar seun emosioneel gemanipuleer het. Asook, dat Ruan wel haar pa om haar hand gevra het en hy geweier het.
WAT WIL SY HÊ?
Aanvanklik het Anna gedink sy weet wat sy wil hê – ’n lewe en familie in Londen en die kans om haar droom as bootontwerper te verwesenlik. Om onbewustelik haar pa verkeerd te bewys. Dit verander wanneer sy terugkeer en besef haar familie het haar meer nodig.
WAT KRY SY?
’n Perspektief oor haar pa, vergifnis en sy sien hoe die man waarvoor sy lief is en die pa van haar kind homself vir sy seun opoffer.
 VERHOUDING TOT BEN:
“My pa verdrink al jare, hy weet dit net nie.”