Logo
PROJEK DINA

Vermiste persone-taakspan het Kaapstad op horings in Projek Dina

News
15 November 2019
Hier volg meer inligting oor jou nuwe gunsteling reeks!
Projek Dina Persverklaring Image

Elke vyf uur word ’n kind in Suid-Afrika as vermis aangemeld. Ongeveer 30% van vermiste kinders word nooit gevind nie, terwyl 50% van vermiste volwassenes nooit weer gesien word nie. – SAPS Missing Persons Bureau, 2013 

Drie lede met heeltemal verskillende persoonlikhede in een span, ’n magdom vermiste sake in Kaapstad en persoonlike lewens wat byna uitmekaar val – dit en alles meer kan in kykNET se nuwe dramareeks Projek Dina, gesien word.

Projek Dina speel af in die werks- en lewensomgewing van die blitsreaksie-taakspan, waar die druk hemelhoog en die ruimte vir foute piepklein is. Noudat die taakspan pas saamgestel is deur die Wes-Kaapse polisie – as ’n manier om die vinnig toenemende hoeveelheid gevalle van vermiste persone in Suid-Afrika te bestry – het die lede van die taakspan ’n skynbaar onmoontlike taak op hande: om die vermiste persone in Kaapstad op te spoor en hulle een vir een huis toe te bring.  

Tydens hierdie pogings sien kykers hoe drie speurders, spesifiek uitgesoek deur Brigadier Patricia Dlomo, dae aaneen werk sonder om te slaap, hoe hulle regdeur die nag oproepe maak en ontvang, en hoe hulle die Kaap se gevaarlikste hoekies betree.  

Die leier van die span, kaptein Deon Visagie (Tim Theron), is van nature ’n strateeg en ’n ware speurhond. Hy raak obsessief oor die kleinste detail, maar sy vermoë om mense te lees skiet lelik tekort. Hy sukkel veral met sersant Lux Dladla (Chumani Pan) se benadering tot speurwerk, wat staatmaak op ‘n sterk intuïsie en die vermoë om ‘n groot netwerk van kontakte op te bou en te benut.

Die taakspan gebruik die hulp van ‘n nie-amptelike informant – die vernuftige kuberkraker

Charlene “Charlie” Botha (Kay Smith). Selfs Charlie besef egter vinnig dat dié speurtogte haar in meer gevaar plaas as wat sy ooit kon verwag. En die inligting wat sy verskaf is nie altyd vertroubaar nie…

Adjudant-offisier Ronel Oosthuizen (Chanelle de Jager) is die persoon wat die span bymekaarhou. Sy is eerlik, hardwerkend, ’n familie-mens, maar ’n persoon wat jy nie mee sukkel nie. Sy hou nie van kleinighede nie en word gereeld in die middel geplaas wanneer Deon en Lux koppe stamp, maar sy weet presies hoe om hulle te hanteer. Sy is ook die een wat die taakspan “Projek Dina” doop. 

Ander akteurs in die reeks is Lee-Ann van Rooi, Jana Kruger, Wilhelm van der Walt, Nadia Valvekens, Pierre van Pletzen, Jane de Wet, Zenobia Kloppers, Crystal Donna Roberts, Christia Visser, Mila Guy, Neels van Jaarsveld, Paul du Toit, Trix Vivier, Elsabe Daneel, Ilse Roos en André Roothman.

Voormalige Valke-ondersoeker Marcel van der Watt en Missing Children SA se Nicky Rheeder en Bianca van Aswegen het as konsultante opgetree vir die reeks. Projek Dina is geïnspireer deur ware verhale en is met Van der Watt, Rheeder en Van Aswegen se gesamentlike kennis ontwikkel en geskryf. 

Projek Dina word vervaardig deur Penguin Films, wat ook Sara Se Geheim, Arendsvlei, en flieks soos Krotoa vervaardig het.

Projek Dina begin 14 Januarie 2020.