Logo
kykNET_Mooiweer en warm_Seisoen_1_2023_Social Sharing Image
web uni tv guide

Mooiweer En Warm

144Drama13 VL

seisoen

1

kykNET_Mooiweer en warm_Seisoen_1_2023_Poster

Uit die pen van skrywer Paul C. Venter, die reeks Mooiweer en warm is 'n ligte TV-dramareeks wat afspeel in 'n klein dorpie. Kykers gaan die lewens van naweek-smouse volg en ingetrek word by die intrige van die plaaslike dam wat moontlik gaan bars. 

S1 | E13
02 Mei 20:00
'S1/E13 of 13'. Alles hang in die spervuur, die dwase gaan aan asof niks verkeerd is nie, en die intelligentes ly aan ho...

Ligte drama met ‘n goeie kans vir humor word voorspel

News
16 Januarie 2023
Vind meer uit oor dié splinternuwe reeks
Mooiweer en warm

Klein dorpie drama is vanaf Februarie deel van kykNET se kykvermaak, met die nuwe reeks Mooiweer en warm wat Dinsdag 7 Februarie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) begin.  

Die reeks is uit die pen van die veelbekroonde skrywer Paul C. Venter, bekend vir trefferreekse soos Arende, Konings, Vlug na Egipte en Terug na Egipte. Dit spog met ‘n rolverdeling so lank soos die ry by ‘n vlooimark se pannekoekstalletjie. 



Meer oor die reeks

By ’n doodgewone kerk in die Hoëveld sukkel Ds. Issie, soos vele van haar mede predikante, om die kerk se koffers vol te kry. Dis juis vir hierdie rede dat sy instem om ’n kontrak te sluit met Alex Kemp om ’n gereelde Saterdag-mark op die kerk se gronde te hou.

Ons volg die lewens van hierdie naweek-smouse en kry ’n blikkie tot in die diepste hoekkies van hul lewens. Hul swaarky en hul blydskap, ook hul oorwinnings en verliesse.

Soos die karakters die kykers met hul sout-van-die-aarde-mannewales inkatrol, word die spanningslyn versterk wanneer die ondenkbare prut in die agtergrond – die dam wat reg bokant hierdie gemeenskap sit, gaan bars… en al wie hiervan weet, is die wetenkaplikes wat oor min tot geen mensekennis besin. In hierdie wêreld sit komedie en tragedie saam op dieselfde stoeltjie.

Rolverdeling

In die rol van Cezanne Dippenaar, die geoloog wat vir Geo Solutions werk en wie se verslag die moontlike ramp voorspel, is Carla Smith (Tydelik terminaal, Troukoors). Cezanne het haar familie in ’n ongeluk verloor en het so ryk geërf dat sy nie eintlik nodig het om te werk nie, maar sy besluit tog om in haar geoloog-pa se voetspore te volg.  

Carlo Daniels (Skemerdans, Barakat) is die slim weerkundige Ruben Arendse, Cezanne se beste vriend. Hy is gelukkig getroud met Maddy (Athina Jansen – Suidooster en Desemberdiewe), ’n fisioterapeut wat ook ’n stalletjie by die vlooimark het waar sy mense se seer spiere masseer.

Alex Kemp (Geon Nel van onder meer Die Boekklub en Nêrens, Noord-Kaap) is die suksesvolle organiseerder van popkonserte en vlooimarkte. Hy is geskei en deel ’n huis met sy voormalige skoonma, Sonica Winters (Egoli en Lui maar op, Belinda se Brümilda van Rensburg). Skinder die mense oor dié vreemde verhouding? Natuurlik!



Marisa Drummond (Spoorloos: Die eiland, Elke skewe pot) is Isabella Boshoff (Ds Issie vir die inwoners), die eerste vroue predikant wat die gemeente nog gehad het. Sy was nog nooit getroud nie en die kerkraad begin wonder of hulle die regte besluit geneem het om haar op die preekstoel toe te laat. André Samuels (Sara se geheim) is Bokkie Oktober, die skriba van die kerk wat glo alles in die lewe moet volgens die Bybel bestuur word.

Meyer Basson, ’n jong ouderling in die kerk en ’n voëlkenner wat boeke en sketse by die vlooimark smous, word vertolk deur Beer Adriaanse (Hotel, Kanarie). Is Meyer die ridder wat Cezanne van die bose magte gaan red? Mense soos Hannah Brand (Susan Danford - Raised by Wolves en Imdemnity), bestuurder van Geo Solutions wat onder politieke en finansiële druk is. Of die gevaarlike en glibberige Dieter (Jacques Theron – Moffie en Sheperds and Butchers) wat bang is Cezanne gaan Geo Solutions sink.

Ander karakters sluit in Berta Engelbrecht (Antoinette Kellerman - Known Gods en Song vir Katryn), ’n ou hippie wat boeke by die mark verkoop, haar dogter Aletta (Tinarie van Wyk Loots – Troukoors en Nêrens, Noord-Kaap) wat langs haar ma sonbrille smous en haar humeur in toom probeer hou en Lood Momberg (Paul du Toit – Stiekyt  en Binnelanders), die rocksanger en tattoo artist wat meer as net T-hemde verkoop.

Ook by die mark is Willem Conradie (Deon Lotz – Lecacy en Binnelanders), ’n verbitterde man wat takeaways verkwansel en sy vrou, Nerine (Ira Blanckenberg – Toorbos  en Griekwastad) verniel. Carmen Booysen (Kim Cloete – Fynskrif en Binnelanders) is Nerine se vriendin wat vir haar drie kinders en blinde pa, Oom Skip (Royston Stoffels – Arendsvlei en Vaselinetjie) probeer sorg deur tuisgemaakte lekkergoed te verkoop.

En soos die reeks van dertien episodes vorder en kykers die karakters leer ken, is daar die hele tyd die vraag wat knaag: Gaan die dam dit hou? Wat as die groot storm kom?

Die span agter die reeks

Mooiweer en warm is vervaardig deur Nagvlug Films, wat ook verantwoordelik was vir trefferreekse, soos Dinge van ‘n kind, Nêrens, Noord-Kaap en Hotel. Die regisseurs is Zandré Coetzer en Ephraim Gordon. Pieter Bezuidenhout het die titelsnit geskryf en gekomponeer en dit word deur Amanda Strydom gesing.

"Ek wou lankal iets oor 'n vlooimark se mense doen,” verduidelik Paul C. Venter. “Terwyl ek met die navorsing by 'n regte vlooimark besig was, het iemand genoem hoe gevaarlik dit sou wees as die vlooimark aan die brand raak. Toe laat dit my dink aan 'n groot disaster wat so 'n mark gaan bedreig. Gaan dit die mark tref of nie? Ek dink dit gaan die kykers laat naels byt tot die einde!".

Mooiweer en warm begin op Dinsdag 7 Februarie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks sal ook op Catch Up beskikbaar wees.