Logo
Hartklop slim bb
web uni tv guide

Hartklop

144Drama16 L

Die karakters – Hartklop

News
05 Julie 2023
Vind meer uit oor die karakters in die splinternuwe kykNET-dramareeks, "Hartklop".
Hartklop HP BB

 

Dr. Elani Breytenbach (Simoné Pretorius) is 24 jaar oud en het pas haar eerstejaarinternskap begin. Sy het ’n sprankelende persoonlikheid, maar is naïef en het beskermend grootgeword. Sy kom uit ’n ryk familie, haar ouers is geskei toe sy drie was en haar ma is ’n suksesvolle prokureur. Elani en Karima was kamermaats op Tukkies waar hulle medies studeer het. 

Dr. Karima Salie (Carla Classen) is ook 24 en begin haar eerstejaarinternskap dieselfde dag as Elani. Sy kom van die Bo-Kaap in Kaapstad, is Moslem en is grootgemaak deur haar konserwatiewe weduwee-ma en ouma. Karima wil in noodmedisyne en trauma spesialiseer en aan haar familie se verwagtinge voldoen. 

Dr. Fezile Nodana (Oros Mampofu) is 27 en kom van Cradock in die Oos-Kaap. Hy is ook ’n eerstejaarintern en die eerste lid van sy familie wat nie net matriek behaal het nie, maar deur harde werk en drif ’n beurs gekry het om medies te studeer. Hy is ’n introvert en voel soms of hy nie verdien wat hy kry nie, maar hy is uitstekend in wat hy doen. 

Dr. Veronica Pietersen (Renate Stuurman) is 31 jaar oud en dis haar eerste jaar as kliniese assistent. Sy kom van Genadendal in die Wes-Kaap en haar ouers is beide onderwysers. Sy is getroud met haar universiteits-kêrel, Sollie, wat op sy dag suksesvol was, maar sy besigheid het tydens die pandemie gevou en sy is nou die een wat die finansiële las dra. Om ’n dokter te wees is haar groot passie en niks sal haar van hierdie droom laat afsien nie. 

Dr. Louw van Onselen (David Louw) is ’n kliniese assisent in sy vierde jaar en hy spesialiseer in trauma. Hy is met die silwer lepel in sy mond gebore en glo hy verdien alles in die lewe. Hy is sjarmant, maar ook onbetroubaar en onseker van homself. Louw se pa het verskeie affairs gehad en daarom is hy op 34 nog steeds bang om sy hart vir ware liefde oop te maak. 

Dr. Jolene Joubert (Leandie du Randt) is 35 jaar oud en ’n kliniese assistent in haar vierde jaar. Sy het brandarm grootgeword en het al baie in die lewe gesien en beleef. Haar ouers het al hulle geld weggedrink en Jolene was die een wat na haarself en haar sibbe moes omsien. Sy het aanvanklik matriek gedruip en vir ’n jaar ’n wilde lewe gelei, maar sy het weer matriek gaan skryf, geslaag en ’n beurs gekry om medies te studeer. Sy vasgevang in ’n siklus van bitterheid en woede, maar om mense gesond te maak, gee haar hoop. 

Dr. Suzanne de Jongh (Marlee van der Merwe) is hoof van medisyne en ambisieus. Sy is 45 jaar oud en haar loopbaan kom eerste. Sy sal nie nee sê vir vriende-met-voordele verhoudings nie, maar as sy eerlik is met haarself, is dit omdat sy bang is om verwerp te word. As intern, was sy die top-student, maar sy het ’n verhouding met een van haar professors gehad en sukkel daarna om mans te vertrou. 

Dr. Daniel Strydom (Jacques Bessenger) is die hoof van trauma, 41 jaar oud en kom uit ’n godsdienstige familie. Sy oorlede pa was ’n predikant en Daniel woon steeds saam met sy ma. Hy is sjarmant, geduldig en het ’n goeie hart, maar sukkel met ’n innerlike stryd. Hy voel vasgevang by sy ma en elke oomblik wanneer hy in ’n vrou belangstel, meng sy ma in. 

Prof. Gustav Coetzee (Dawid Minnaar) is die 64-jarige hoof van chirurgie. Hy het besondere hoë standaarde en is een van die beste chirurge in die land. Hy kan jou loopbaan maak of breek en almal is bang vir hom, maar hy het tog ook ’n sagte kant. Gustav is gewoond daaraan om alles te kry wat hy wil hê. 

Skakel elke Dinsdag om 20:00 in vir 'n splinternuwe episode van Hartklop. Dié reeks kan ook gestroom word op DStv. Gesels saam op FacebookTwitter en Instagram deur die hutsmerk, #Hartklop te gebruik.