Logo
Ekstra Medium 1600x640 Homepage Billboard
web uni tv guide

Ekstra Medium

144Drama13 L
Ekstra Medium Poster 924x1360

'n Man wat 'n wielietjietas deur 'n verlate veld in die industriële gebied sleep, is nie 'n tipiese opening vir 'n televisiereeks nie. Dat hy boonop 'n discobal onder die arm dra, is egter die eerste wenk dat jy nou in Beer Adriaanse en Retief Scholtz se wêreld is. En die klimaat daar lyk matig, of soos hulle dit noem, “Ekstra Medium”.

S1 | E13
15 Desember 20:00
'S1/E13'. Kleintjie wil Londen toe, Wanda vlug land uit, en die Russe is kwaad vir Bertie. Grootmens-besluite was nog no...

Ekstra Medium

News
27 Augustus 2020
Ekstra Medium begin op 22 September om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144.
Ekstra Medium Hero 2001x859

'n Man wat 'n wielietjietas deur 'n verlate veld in die industriële gebied sleep, is nie 'n tipiese opening vir 'n televisiereeks nie. Dat hy boonop 'n discobal onder die arm dra, is egter die eerste wenk dat jy nou in Beer Adriaanse en Retief Scholtz se wêreld is. En die klimaat daar lyk matig, of soos hulle dit noem, “Ekstra Medium”.

“Bertie Heyns is ’n ongepoetste diamant en aan die verkeerde kant van dertig,” verduidelik Retief, wat ook op reekse soos Alles Malan en Dwaalster geskryf het. Hy moet darem nou al ’n grootmens wees volgens die samelewing se reëls. Maar die mat word behoorlik onder Bertie uitgeruk en hy sit skielik met niks. Ons loop saam met Bertie in die hoofpad af en sien hoe hy by sy suster, Sophia, en haar aweregse gesin aanklop om op hulle bank te slaap. Jou suster se familiebank is immers 'n goeie plek om jou nuwe lewe af te skop. Maar in plaas van 'n nuwe opwindende begin, ervaar Bertie uiterse angs en begin sy verlede skielik op tasbare maniere met sy hede gesels.

Ekstra Medium is 'n ligte drama, 'n redelike nuwe genre waar die lig en donker van die lewe mekaar deeglik omarm en dieper temas deur humor sowel as drama ontgin word. "Ons het oorweeg om dit eerder 'n swaar komedie te noem," spot Beer, wat ook die regie behartig. Die idee vir die reeks het glo drie jaar gelede ontvlam toe 'n spul skrywers in Kaapstad gespot het oor die hartseerste kroeg wat hulle al ooit gesien het en hoe dit 'n goeie konsep vir 'n reeks kan wees.

In die eerste episode van die reeks van dertien, leer ons Bertie en sy lewenskrisis ken, maar ook natuurlik sy suster en haar familie, wat hy by sy planne betrek. Die reeks verken familie-temas vanuit alle kante en vanaf verskeie ouderdomme. Die jongste karakter is agt, terwyl die oudste al in die sewentig is. En soos in die regte lewe, weet mens nie aldag wie meer volwasse is nie.

“Bertie spandeer sy laaste spaargeld om 'n gebou met nostalgiese waarde te koop, en die halfgebakte plan om dit in 'n cocktail kroeg te omskep. Wie was nog nie daar nie?" lag Beer. "Ons het van die begin af geweet dit moet 'n karaktergedrewe storie wees, en ons rolverdeling het ons wildste verwagtinge oortref toe hulle lewe in ons ongewone en onvoorspelbare karakters kom blaas het."

Ekstra Medium is 'n vreemde seisoen in ’n gewone ou se lewe en, anders as ons hedendaagse wêreld, gebeur niks in isolasie nie. Voor Bertie sy oë kan uitvee is hy en sy perseel omring met 'n spul kleurvolle karakters wat meer opwinding verskaf as verwag. Een ou se behoefte aan ’n ordentlike cocktail ontwikkel uiteindelik in ‘n gemeenskap se buitengewoon sinkroniese bestaan.

"Dis 'n verhaal vir ons tyd, want dit handel oor verwagtinge, drome en die lewe wat jou altyd een voor is," vertel Retief. "Bertie dink hy is op soek na een ding, maar wat hy ontdek is baie meer.”  

Die rol van Bertie word deur Wilhelm van der Walt gespeel en dié van sy suster Sophia deur Cintaine Schutte. Ander spelers sluit in Marvin-Lee Beukes, Llandi Beeslaar, Gerben Kamper, Dean Balie, Mila Guy, Amalia Uys en June van Merch.

Ekstra Medium begin op 22 September om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal vanaf 23 September op Showmax beskikbaar wees.

Nog Programme